Maties Sportgeskiedenis

Oor ‘n tydperk van meer as ‘n honderd jaar het verskeie interne, sowel as eksterne kragte meegewerk om sport aan die Universteit Stellenbsoch te vorm. Hierdie kragte omsluit institusionele veranderinge, asook verskuiwings  binne die politieke landskap van Suid-Afrika. Tesame hiermee het die kommersialisering en professionalisering van sport oor die afgelope dekades ‘n beduidende uitwerking gehad. Meer onlangse veranderinge ten opsigte van die bemarking en uitsending van tersiêre sport het daartoe bygedra dat studentesport tot ‘n nasionale vlak verhoog is – iets wat nog nie voorheen in Suid-Afrika verwerklik is nie. Nieteenstaande al hierdie ontwikkeling het een aspek egter oor die jare konstant gebly, naamlik die waarde van sport as integrale deel van die studente-ervaring aan die Universiteit Stellenbosch. Tot op hede vervul sport steeds ‘n noemenswaardige rol binne die waarde-aanbieding van die Universiteit.

Institusionale Geskiedenis van Sport aan die us

Die genootskapsverhouding tussen sport en die Universiteit het met die verloop van tyd in ‘n hoë mate ontwikkel. Huidiglik dien Maties Sport, met sy hoofkantoor geleë op die Coetzenburg Sportkampus, as die entiteit waardeur uitdrukking gegee word aan die sportdoelstellings en werksaamhede van die Universiteit. In 2010 het die naam “Maties Sport” die vorige “Sportburo” vervang as die nuwe gesig van sport aan die Universiteit Die Maties handelsmerk kon sodoende uitgebrei en versterk word binne die sportomgewing. Daar is ook gevoel dat die naam “Sportburo” uitgedien was in terme van die omvang van die bedrywighede wat deur Maties Sport verteenwoordig is. Verandering ten opsigte van sport op tersiêre vlak in Suit-Afrika is ook in berekening gebring met die neem van hierdie besluit. Aan die hoof van Maties Sport staan ‘n Hoofdirekteur van Sport – ‘n posisie wat sedert 2014 deur me. Ilhaam Groenewald beklee word.

Huidiglik word sport op vele vlakke aan die Universiteit Stellenbosch bedryf en wissel dit van hoë prestasie student-atlete wat op internasionale vlak meeding tot ontspanningsaktiwiteite wat koshuissport insluit. As ‘n eenheid bied Maties Sport strategiese leiding en ondersteuning aan die verskillende sportkodes op die kampus – met klubs wat hulle werksaamhede reël binne die oorkoepelende visie vir sport aan die instelling. Hierdie praktyk verskil grootliks van vroeër jare toe klubs saamgestel is as volledig selfbesturende entiteite, wat elk sy eie koers bepaal het. In hierdie opsig is die Maties Krieketklub die oudste en het sy ontstaan waarskynlik in 1864 gehad.

In die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog is die eerste saadjies gesaai vir die ontstaan van ‘n enkele sportstruktuur aan die Universiteit Stellenbosch. Gedurende hierdie tydperk was die Sportsekretaris en twee assistente verantwoordelik vir die algemene organisering van die verskillende sportsoorte. Klubs moes egter steeds ‘n groot mate van inisiatief aan die dag lê met betrekking tot operasionele aspekte soos byvoorbeeld spankeuses en die samestelling van klubbesture. Die Sportkantoor was in die Coetzenburg Atletiekstadion geleë en het ‘n ondersteunende rol vervul. Oorkoepelend het die Sportkomitee van die Raad leiding geneem rakende administrasie van sportterreine en die bygaande finansiële aspekte.

Reeds in 1961 was daar al erkenning binne sportgeledere vir die waarde wat sport as ontspanning vir studente kon bied. Op daardie stadium is beraam dat ongeveer 40% van studente aan een of ander vorm van sportontspanning deelgeneem het. Die doel van die Sportkomitee van die Raad was egter om hierdie getal na 80% te verhoog. Gedurende die 1950’s het vrouesport veral ‘n opbloei beleef. Aanvanklik was dosente van die Departement Liggaamlike Opvoedkunde verantwoordelik vir vrouehokkie en netbal, terwyl gemengde sportsoorte soos tennis en atletiek onder die Sportkantoor geval het. Prof. Danie Craven (op daardie stadium hoof van die Departement Liggaamlike Opvoedkunde) en Isabelle Nel (ook verbonde aan die Departement) het in hierdie tydperk ‘n daadwerklike poging aangewend om sportdeelname onder studente – en veral vrouestudente – te verhoog. Minderheid-sportsoorte soos vrouesagtebal, sierswem en pluimbal het gevolglik op die been gekom. Craven het selfs vrouesagtebal vir ‘n tydperk afgerig. Koshuissport vir vrouehokkie en netbal het ook tot stand gekom.

‘n Belangrike dryfveer was die daarstelling van die Damesontspanningsvereniging (DOV) onder die vaandel van die Departement Liggaamlike Opvoeding. Hierdie vereniging het onder andere voorsiening gemaak vir aktiwiteite soos koshuistafeltennis en koshuistennis asook fiksheidsoefeninge wat deur dosente van die Departement en LO-studente aangebied is. Die uitbreiding op hierdie gebied het later gelei tot die aanstelling van die eerste betaalde vrouesportorganiseerder, mev. S. Foulkes, in 1970. Die Damesport- en Ontspanningsvereniging (DSOV) is ook op die been gebring onder beheer van die Sportkantoor. Ontspanningsaktiwiteite is gevolglik uitgebrei om ook kultuuraktiwiteite soos teateruitstappies in te sluit.

Craven is in 1973 as deeltyde Direkteur van Sport en Ontspanning aangestel – ‘n rol wat hy in 1976 voltyds aangepak het na afloop van sy uittrede as hoof van die Departement Liggaamlike Opvoedkunde. Hy was dus die eerste voltydse Direkteur van Sport en Ontspanning by die Universiteit – ‘n aanduiding van die toenemende rol wat sport binne die instansie begin speel het. Sedert Craven het slegs vier persone die pos bekleë, naamlik mnr. G.P. “Butch” Lochner (1982-1991), mnr. Belius Potgieter (1992-2005), me. Jackie Wiese (2005-2014) en me. Ilhaam Groenewald (2014-).

Eksterne Kragte: Politiek, Professionalisering en Kommersialisering

Sport aan die Universiteit Stellenbosch is, soos in die geval van die instelling as ‘n geheel, ongetwyfeld gevorm deur die historiese kragte van sy tyd. In hieride opsig was die twee mees betekenisvolle eksterne kragte gedurende die afgelope 100 jaar heel waarskynlik die post-apartheid politieke oorgang in Suid-Afrika, asook die professionalisering en kommersialisering van sport oor die algemeen. Die politieke oorgang van die vroeë 1990’s het gepaard gegaan met die hertoelating van Suid-Afrika tot die internasionale sportarena in 1991 – sodoende is nuwe geleenthede geskep vir student-atlete om internasionaal mee te ding.

Die einde van Suid-Afrika se sportisolasie het ook internasionale besigheidsgeleenthede aan plaaslike sport gebied. In ‘n immer globaliserende wêreld het internasionale tendense die plaaslike sporttoneel begin beïnvloed – betekenisvol is veral die blitsige professionalisering van sport in die middel 1990’s. Voorheen het die top Suid-Afrikaanse sportlui in meeste gevalle daarna gestreef om akademiese kwalifikasies aan ‘n universiteit te verwerf, met die wete dat hule vir ‘n loopbaan ná sport moes beplan. In die verlede was daar byvoorbeeld tydens Intervarsity rugbywedstryde dan ook dikwels etlike Springbokspelers teenwoordig wat op daardie stadium besig was met studies. Die koms van professionalisering het drastiese veranderinge meegebring. Nuwe plaaslike en internasionale kompetisies is ingebring (byvoorbeeld Super Rugby) en daar was nou die geleentheid om hul sporttalent aan te wend met die oog op ‘n loopbaan – gevolglilk het die noodsaaklikheid van akademieses kwalifikasies verminder. Met veroop van tyd het dit daartoe gelei dat van die top plaaslike sporttalent nie meer in universiteite opgeneem is nie en dit het, soos byvoorbeeld in die geval van rugby, hoë profiel Intervarsity wedstryde van hul glans ontneem.

Die profiel van tersiêre sport is egter tot ‘n groot mate herstel – en selfs verhef – met die instelling van die Varsitybeker rugbykompetisie in 2008. Die model – geskoei op die “Monday Night Football”-konsep in die V.S.A. – het vinnig uitgebrei na ander sportsoorte onder die breër “Varsity Sport”-sambreel, wat sewes-rugby, atletiek, krieket, sokker, hokkie, netbal en strandvlugbal insluit. Hierdie geleenthede bied ongekende blootstelling aan student-atlete en die betrokke universiteite word ook aan ‘n nasionale gehoor ten toon gestel. Dit het ‘n groot verskuiwing binne die tersiêre sportlandskap tot gevolg gehad, veral in die sin dat sport nou ‘n sleutelrol begin speel het in die landswye bevordering van ‘n universiteitshandelsnaam.

Vanuit ‘n besigheidsoogpunt het veral sport aan die Universiteit Stellenbosch betekenisvolle veranderinge ondergaan na die eeu-wisseling. Hierby ingesluit is die samestelling van ‘n spesiale taakspan vir sport in 2002 – op aandrang van prof. Julian Smith – destyds Vise-Rektor: Bedryf. Hierdie span het die opdrag gehad om ‘n oorkoepelende plan vir sport aan die instelling op te stel, deur gebruik te maak van interne akademiese- en bestuurskundigheid asook eksterne sakevernuf. In 2004 is die Sportplan onthul en het dit gelei tot die stigting van ‘n sportmaatskappy, die Stellenbosch Universiteit Sport-prestasie Instituut, in 2006. Die instituut is die taak opgelê om die besigheidsgeleenthede wat op daardie tydstip heersend was te benut. Die verhoogde aantal internasionale atlete, veral uit Europa, wat Stellenbosch as ‘n oefenbestemming gebruik gedurende die Suid-Afrikaanse somermaande was een voorbeeld hiervan. Die ontstaan van die instituut het gepaard gegaan met die opgradering van verskeie fasiliteite wat ingesluit het die daarstelling van die eerste sokker-oefenkompleks by Lentelus, in aanloop tot die 2010 FIFA Sokker Wêreldbeker. Hierdie ontwikkelings beklemtoon die belangrikheid van sport as strategiese bate vir die instelling – ‘n situasie wat steeds vandag geld.

Die Pad Vorentoe

Die vinnig ontwikkelende omgewing van tersiêre sport bied nuwe uitdagings en geleenthede aan universiteite. Sport aan die Universiteit Stellenbosch vind steeds baat by en versterk die Maties handelsmerk op nasionale sowel as internasionale vlak. In 2014 is die instelling se Sportplan hersien en aangepas. Die uitkoms van hierdie proses was die sentrale posisionering van Maties Sport as die strategiese dryfkrag vir sport aan die Universiteit. Gevolglik is daar ook ‘n noue belyning van Maties Sport se doelwitte met die oorhoofse institusionele strategie.

Wat mededinging betref het Maties Sport in die laaste jare ‘n Hoë Prestasie Eenheid tot stand gebring om die nodige kundigheid en ondersteuning aan die sportklubs waarop gefokus word te verskaf – in besonder met betrekking tot die Varsity Sport-kompetisies. Akademiese ondersteuning word ook aan studente wat deelneem aan die hoë prestasie program verleen om sodoende die bes moontlike geleentheid aan hulle te bied om nie slegs op die sportveld nie, maar ook in die klaskamer, sukses te behaal. ‘n Sleutelaspek is dan ook hierdie holistiese benadering.

Nietemin is dit belangrik om kennis te neem van die feit dat hoë prestasie-sport slegs deur ‘n klein groepie studente uit die groot aantal studente aan die Universiteit Stellenbosch beoefen word. Die oorgrote meerderheid van studente beoefen sport slegs vir ontspanning en dus is hierdie dimensie die belangrikste in terme van die algehele studente-ervaring aan die Universiteit. In hierdie verband is daar ‘n Rekreasie en Aktiewe Leefstyl-eenheid tot stand gebring as deel van Maties Sport – met die spesifieke doel om fisiese welstand onder studente en personeellede te bevorder. Die akademiese potensiaal van sport het ook tot die vestiging van Maties Sport se Sentrum vir Sportleierskap in 2019 gelei. Hierdie akademiese eenheid streef na die uitbreiding van sport se akademiese voetspoor op kampus deur middel van sportverwante navorsing en kortkursse.

Belegging in die sport-infrastruktuur verseker ook dat sport as ‘n bate van die Universiteit Stellenbosch uitgebou word. Onlangse verbeterings sluit in die Coetzenburg Atletiekstadion en -baan, asook die hokkie- en sokkerkomplekse. Vennootskappe is ook ʼn belangrike element wat inisiatiewe soos hierdie ʼn werklikheid maak. In 2021 is daar ʼn binneshuise krieketsentrum op die been gebring as uitvloeisel van ʼn gesamentlike onderneming tussen die Universiteit Stellenbosch, Paul Roos Gimnasium, en die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS). Die Danie Craven Rugbystadion is ook onlangs opgegradeer om professionale sokkerwedstryde binne Suid-Afrike se Premier Sokkerliga te kan aanbied. Dit was die uitkoms van ʼn verdere vennootskap met SAS wat die professionele sokkerspan, Stellenbsoch FC, besit. Hierdie verwikkelinge dra by tot die uitnemendheid wat spesifiek deur die universiteit in terme van sport aangebied word. Infrastruktuur, gepaard met bestuursvernuf en akademiese kundigheid van die instelling, verseker dus dat die Universiteit Stellenbosch ʼn gesogte sportbestemming vir beide studente en sportpraktisyne bly.