Boodskap van die hoofdirekteur

Maties Sport – Oog op die toekoms

Maties Sport draai nie doekies om nie: Dit wil 'n dominante posisie in fokussportsoorte behaal op tersiêre, nasionale en internasionale vlak; sportmans en -vroue van wêreldgehalte ontwikkel; 'n uitstekende ervaring van universiteitesport bied; deelname aan sport vir ontspanningsdoeleindes bevorder; sosiale kapitaal bou; en die persentasie sportmans en -vroue wat ook akademiese sukses behaal, verhoog.

Dit is 'n mondvol, maar me. Ilhaam Groenewald, wat in Augustus haar tweede jaar as Maties Sport se hoofdirekteur begin het, het geen twyfel dat dit moontlik is nie, mits mense bereid is om uit hul gemaksones te beweeg en die uitdagings wat wag, aan te spreek.

"Die Universiteit Stellenbosch (US) spog met 'n lang en trotse sporttradisie en ons beplan om dit as 'n basis te gebruik om 'n opwindende toekoms op te bou. Dit word ook duidelik in ons visie uitgespel: 'Drawing on tradition – Imagining the future'.

"Sport kan 'n beduidende bydrae lewer tot die Universiteit Stellenbosch (US) se verbintenis tot holistiese studente-ontwikkeling deur die strewe na uitnemendheid in sowel sport as akademie aan te moedig en geleenthede daar te stel om 'n gesonde en aktiewe lewenstyl te volg.

Maties-Sport-Chief-Director2

"Transformasie is ook vir ons baie belangrik, maar ons wil nie net 'n diverse groep studente werf nie, ons wil ook goed na hulle omsien."

As hoofdirekteur is Groenewald se taak om te fokus op strategiese leierskap, soos gerig deur die US se Institusionele Voorneme en Strategie (IVS).

Dit beteken Maties Sport, nes enige ander steundiens- of akademiese afdeling by die US, fokus strategies daarop om toegang te bevorder en die instelling se diversiteitsprofiel te verhoog; om die studentesukseskoers te behou en by te dra tot die navorsingsagenda; en om visionêre leierskap te voorsien om die universiteit se impak op die samelewing te bevorder.

"Sport op tersiêre vlak het baie verander oor die afgelope vyf tot agt jaar," sê Groenewald. "Daar is nou 'n groter klem op sukses in sport én akademie."

Sewe hoëprestasie- of prioriteitsportsoorte is geïdentifiseer, naamlik atletiek, krieket, sokker, hokkie, netbal, rugby en swem.

"Die doel is om die getal hoëprestasiesportsoorte teen 2019 na tien uit te brei. Rugby is steeds een van ons vlagskip-sportsoorte en ons grootste bate, volgens my, te danke aan die aansien wat dit op internasionale, nasionale en provinsiale vlak geniet. Dit spog ook met die grootste deelname, veral wanneer 'n mens die baie gewilde koshuisliga in berekening bring.

"Ek is opgewonde oor die toekoms van Maties Sport en die rol wat dit kan speel om tot die US se strategiese doelwitte by te dra en aan te sluit by die groter Suid-Afrikaanse visie vir sport.

"Ek glo ons kan Maties Sport vorentoe neem, maar dit gaan harde werk, innoverende denke en 'n goeie begrip van die huidige sportomgewing verg om dit te vermag. Universiteitesport, soos die meeste ander sportomgewings in Suid-Afrika, word in die gesig gestaar deur die reuse-uitdaging om 'n nuwe identiteit te skep en te streef na volhoubaarheid. Ons moet seker maak dat dit wat ons aanpak, gepas is vir dit wat ons wil bereik."​