Om ’n Matie te wees, is ’n voorreg
Varsitybeker-wedstryde Maandagaande in ’n volgepakte Danie Craven-stadion was nie net besonders danksy die atmosfeer nie, maar omdat hy op die veld gehardloop het saam met vriende.
Dit is hoe Maties Rugby se Reniel Hugo een van die drie dele waaruit ’n student se lewe bestaan, beskryf. Reniel het sy B.Rek-graad aan die Stellenbosch Universiteit verwerf, wat die studie deel sonder enige verdere inligting, beskryf. Die ander deel van student wees in Matieland, is om seker te maak daar is tyd om ook sosiaal te verkeer.
“My tyd as student was ongelooflik lekker. Ek was bevoorreg genoeg om in my tyd as student in Dagbreek te bly. Tussen die rugby en die studies was daar altyd iemand wat tyd gemaak het vir ’n braai, raak-rugby of sommer net krieket in die binnehof (in die studente volksmond, die quad),” vertel Reniel, wat tans by PWC in Stellenbosch met sy klerkskap besig is.
“Ek sal altyd dankbaar wees vir my tyd in Dagbreek. Dit was ’n groot deel van hoekom my tyd by Maties onvergeetlik was.”
As dit kom by rugby, was die beste deel weereens vir Reniel dat dit iets is wat hy saam met vriende gedoen het.
“Dit was nie net dat ek my passie vir rugby kon uitleef nie, ek kon dit doen saam met ’n groep vriende. As ek by die oefening opgedaag het, was dit lekker om my vriende te sien. Ná wedstryde was daar ook tyd om met ’n bier in die hand saam te kuier.
“Stellenbosch is waarskynlik die mooiste dorp in die land, die kampuslewe is lekker en die gees van die koshuislewe kan nie sommer beskryf word nie. En as dit by sport kom, het Maties verskeie wêreldklas-geriewe. Met dit alles ingedagte huiwer ek nie om Stellenbosch Universiteit aan te beveel aan dié wat dit oorweeg om hier te kom studeer nie.”
Nadat hy sy studies voltooi het, het Reniel sy loopbaan as beroepspeler begin. Hy het in die verloop van 11 jaar verskeie hoogtepunte beleef en is dankbaar vir elke geleentheid wat hy gekry het, om sy droom uit te leef.
Behalwe vir die tyd wat hy in Suid-Afrika gespeel het – en twee keer die Curriebeker omhoog gelig het – was daar ook die drie jaar in Japan.
Reniel sal ook nie sommer gou die wedstryde in 2021 teen die Britse en Ierse Leeus vergeet nie. Hy was toe in aksie vir die Haaie. Dit was ook by dié unie waar Reniel die laaste van sy beroepsrugby gespeel het.
Reniel is ’n gebore leier en was met meer as een geleentheid die kaptein van die spanne waarin hy gespeel het.
Sport is ook deel van dié oud-leerling van Paul Roos Gimnasium se DNS. Nie net is hy die seun van die voormalige Springbok Niel Hugo nie, sy ma Rése is ook ’n voormalige internasionale netbalspeler, wat vir die Proteas in aksie was in die 1995 Wêreldbeker-eindstryd. Albei is ook oud-Maties.
Vir nou is Reniel se fokus daarop om sy klerkskap te voltooi. En daarna?
“Ek sal dalk eendag weer my terugkeer maak tot rugby. Dit is my passie. Ek mag dalk net aan die besigheidskant van dinge betrokke raak dié slag.”