Goue medalje in China verander Gardeo se lewe

Die goue medalje by die pas afgelope Wêreld Atletiek Aflos-kampioenskappe is nie net nog ’n medalje nie, dis lewensveranderd, vertel oud-Matie Gardeo Isaacs.

Die 26-jarige Isaacs was deel van die manspan wat die 4x400m-aflos gewen het. Dit was Suid-Afrika én Isaacs se tweede Wêreld Atletiek aflos-medalje. Die Suid-Afrikaners het silwer verower in 2024 toe die byeenkoms in die Bahamas plaasgevind het.

“Dit was natuurlik vir ons as span belangrik om eerstens onder die top 8 spanne te eindig. Dit het ons plek by die Wêreld Atletiek-byeenkoms later vanjaar in Tokio, Japan verseker. Dit was doel nommer een,” vertel Gardeo vanuit Italië waar hy tans voorberei vir sy volgende byeenkoms.

“Dit was ook belangrik vir ons om te wys dat die silwermedalje in die Bahamas nie net toeval was nie. Ons wou daardie goue medalje vir Suid-Afrika wen om ons vordering te wys.”

Die doelwit om op die boonste trappie van die wennerspodium te staan, het beteken dat Gardeo so goed as moontlik moes voorberei om te verseker hy in die beste kondisie moontlik is.

“Dit was vir my baie belangrik om in ’n posisie te wees waar ek my alles vir die span kan gee en my bydrae lewer tot ons sukses. As lid van ’n span wil jy nie die een wees wat nie deeglik voorberei het nie.”

Gardeo was vir ses jaar deel van die Maties Sport-familie. Hy het sy graad in BCom Bestuursrekeningkunde in 2022 aan die Stellenbosch Universiteit verwerf.

Gardeo se beste jaar by Maties – atletiek gewys – was 2019. Hy was daardie jaar die Suid-Afrikaanse 400m-kampioen. Hy het ’n bronsmedalje by die Wêreld Spele vir Universiteite gewen. Hy het ook ’n silwermedalje teruggebring as deel van die aflosspan. Dit was ook die jaar toe hy een van die drie finaliste vir Sportman van die Jaar was.

Dit is egter duidelik dat die goue medalje in China ’n heel ander betekenis vir Gardeo het.

“Dit is baie groot tree vorentoe vir my loopbaan. Dit is beslis nie net nog ’n medalje vir my CV nie. Behalwe vir die feit dat dit ’n ongelooflike voorreg is om die medalje vir my land te kon verower en dit as deel van ’n span was, is dit ook verteenwoordigend van ’n oomblik in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie.”

Die goue medalje het ook ekstra skop aan Gardeo se loopbaan as internasionale atleet gegee. “Ek kan nou uitnodigings vir van die groter byeenkomste in Europa ontvang en so die kans kry om ’n kwalifiserende tyd vir die Wêreldbyeenkoms in Tokio te hardloop.”

Gardeo se loopbaan het al verskeie uitdagings en terugslae beleef. Hy het egter dié tye gebruik om lesse te leer wat hy later tot sy voordeel kan gebruik.

“Ek het geleer hoe om geduldig te wees. Ek het in dié tyd ook baie op my afrigter staat gemaak wat ons vertrouensverhouding versterk het. Dit het my ook gewys hoe waardevol die proses is en dat ek dit moet vertrou.”

Dit is duidelik dat Gardeo niks as vanselfsprekend ervaar nie. In sy tyd by Maties moes hy leer hoe balans te handhaaf, harder te werk as enige iemand anders en te besef dat niks net gaan gebeur nie. Dit is sy verantwoordelikheid om deure te laat oopgaan.