KABAMBA FLOORS – POSITIEF, VASBERADE EN TOEGEWYD

Rugby is nie bloot ’n werk of ’n loopbaan vir Maties Rugby se hoofafrigter Kabamba Floors nie – dis ’n roeping.

Floors was nege toe hy op ’n stowwerige veld by ’n plaasskool in Oudtshoorn aan die sport bekendgestel is. Dit was ’n vuurdoop en ’n vroeë les om taai te word en te “doen wat gedoen moet word” want, met so min spelers, het graad 1-leerders teen graad 7-leerders gespeel!

Dit het verander by Hoërskool Môrester waar hy uiteindelik die kaptein van die eerste span geword het. Sy skool is nie as ’n “rugbyskool” beskou nie en hy het nooit die geleentheid gehad om aan enige Cravenweek-toernooie deel te neem nie, maar hy is onmiddellik ná matriek vir die Suidwestelike Distrikte (SWD) se o.19-span gekies en het 38 wedstryde in twee seisoene gespeel voordat hy deur die Cheetahs in die Vrystaat opgeraap is.

“Ek het vroeg in my lewe die uitdagings ontdek as mens nie deel is van die rugby- of kulturele elite nie,” sê Floors. “Ek kon bitter gewees het, of ek kon positief gewees het, hard gewerk het en onwankelbaar gebly het om my eie doelwitte te bereik. Ek het laasgenoemde gekies, en doen dit steeds in alle aspekte van my lewe.

“Ek het 13 jaar lank professioneel rugby gespeel, ek was ’n Springbok, ek het afrigtingsvaardighede bemeester – en nou sit ek trots in Dok Craven se kantoor!”

Ná 11 jaar by die Cheetahs en nog ’n seisoen by SWD, het Floors in die ouderdom van 34 uit professionele rugby getree en na Kaapstad verhuis waar hy in Table View gewoon het en ’n volle jaar van fisieke rehabilitasie begin het.

Dit was in hierdie stadium dat sy voormalige Cheetahs-afrigter en destydse Maties-hoofafrigter, Hawies Fourie, Floors genooi het om in Stellenbosch by hom aan te sluit as assistentafrigter van die juniorspan. En so het hy in 2016 deelgeword van die Maroenmasjien, eers as assistentafrigter van die Young Guns en toe as hoofafrigter van die juniorspan. Hy het in 2022 assistentafrigter van die seniorspan geword en is vanjaar bevorder tot hoofafrigter.

“Ek het ver gekom,” sê Floors. “Van onder tot bo – en dit kan net ’n goeie ding wees omdat ek hierdie posisie aanvaar het met ’n begrip en ervaring van hoe Maties Rugby op en weg van die veld funksioneer.”

In teenstelling met wat mense dalk dink, behels die pos baie meer as net om speleroefensessies te lei en spankeuses te maak.

“My verantwoordelikhede sluit in werwing en behoud van spelers, om toesig te hou oor hul welwees as studente-atlete op akademiese, fisieke en geestesvlak, die ontwikkeling en uitvoering van ’n spanstrategie oor etlike jaar om opvolging en hoë prestasie te verseker, en die bevordering van die Universiteit se doelwitte wat betref transformasie en studente-ervaring.”

Werwing, verduidelik hy, is baie meer kompleks as om skoolrugbywedstryde by te woon en die beste spelers te kies.

“Daar is kriteria vir alles: akademiese prestasie; BSIA-maatstawwe, die insluiting van spelers uit skole wat nie topvlakskole is nie, en selfs meer struikelblokke met die aanbieding van beurse… Dit vereis insette van alle rolspelers en dikwels moeilike en ongewilde besluite.”

Floors meen dat werwing vir universiteitspanne – die poort na ’n nasionale of internasionale verhoog – makliker sou wees as daar groter belegging in skole was en as gemeenskappe opgehef kon word sodat kulturele aanpassing makliker kon plaasvind.

“Ons moet onderrig by alle skole verbeter sodat spelers vir ’n graad kan kwalifiseer, en nie bloot vir toegang tot universiteit nie. Behoud is uiters belangrik – nie net vir die ontwikkeling van die span oor drie tot vier jaar nie, maar ook vir die finansiële model van die instelling. Totdat daar gelykheid in skoolopvoeding is, sal ons sukkel om die werwingspeelveld gelyk te maak,” sê hy.

Ondanks die uitdagings, is Floors dol op sy werk. “As ’n professionele speler leer jy vinnig om jou ego tersyde te stel vir die beswil van die span. Dit is wat ek in my werk hier toepas. Ek is trots op Maties se transformasie. Vir sommige mense hou die woord steeds ’n bedreiging in, maar dit behels eintlik net die ontwikkeling van die geskiedenis en nalatenskap van hierdie uitmuntende klub. My doelwit is om die verlede te vier, maar die fokus na die hede te skuif.”