Vernon soek Varsitybeker

Hy hoop om in die voetspore van die legendariese Springbok Tendai ‘Beast’ Mtawarira te volg. Beast is die inspirasie agter Vernon Matongo (22) se besluit om sy eie stempel op rugby af te druk.

Dié Maties Rugby-loskopstut, is afkomstig van ’n oostelike voorstad in Harare, Zimbabwe genaamd Cranborne. Hy het onlangs tydens die Universiteit Stellenbosch se Maart-gradeplegtigheid ’n Baccalaureusgraad in Rekeningkunde verwerf. Hy is die eerste in sy familie om dit te doen.

Vernon se ma, Hazel, is sy ware inspirasie – saam met Beast natuurlik. Dit was vir hom ’n groot oomblik toe sy kon sien hoe hy sy graad verwerf.  Volgens Vernon is dit nie net sy familie nie, maar ook verskeie ander wat in hom geglo het.

“Glo dit of nie, ek is die eerste een in my familie wat gradueer, en dit is iets waarop ek baie trots is,” het Matongo aan Maties Sport gesê.

“Dit is ’n groot mylpaal vir my familie – my ma, pa, en broer – en ek het hard gewerk hiervoor en ek neem wat ek bereik het, nie ligtelik op nie.”

Matongo het sy debuut vir FNB Maties in die 2022 FNB Varsitybeker-seisoen gemaak. Hy staan 1.81m in sy skoene en het onlangs ’n twee jaar-kontrak geteken om die vir Westelike Provinsie te speel. Hy het aan Northwood gematrikuleer. Nou is dit Vernon se doelwit om sy kinderdrome te verwesenlik.

Matongo het ’n soortgelyke pad na professionele rugby as sy held gevolg. Hulle het albei as losvoorspelers begin rugby speel voordat hulle na die voorry geskuif het. Albei het hul voete in Durban gevind, maar Matongo het besluit om aan die Stellenbosch Universiteit te studeer en nou is die Wes-Kaap sy tuiste.

“Beast was nog altyd ’n inspirasie vir elke kind van Zimbabwe, wat hy bereik het, is niks minder nie as ongelooflik,” het Matongo gesê.

“Hy is ’n inspirasie en my hoop is om selfs net ’n deel van sy prestasies te bereik. Ek sien op na hom, hy is my rugbyheld en ek hoop ek kan soveel jongmense inspireer soos hy in wat ’n baie suksesvolle en roemryke loopbaan was.”

Die B. Rek-gegradueerde het sy visier stewig gerig om sy derde en finale seisoen by Maties op ’n hoë noot en hopelik met ’n trofee af te sluit voordat hy by die Westelike Provinsie aansluit. Die ervare stut het sover ses drieë in die Varsitybeker-toernooi gedruk.

“Ek het onlangs ’n twee-jaar kontrak by die Westelike Provinsie geteken, waaroor ek baie gelukkig is,” het Matongo voortgegaan. “Rugby sal nou vir eers die voorste plek inneem. Ek het my graad en sal my artikels op ’n later stadium voltooi. Vir nou is ek Vernon Matongo die rugbyspeler.”