Aneurin wil lewens verander
Hy het al verskeie kere langs die veld gestaan toe die eindfluitjie blaas en sy span as die kampioene gekroon is, maar vir Aneurin Robyn gaan dit nie oor titels of goue medaljes nie, wel oor die verhoudings wat hy opbou in die proses.
Aneurin was die fisioterapeut vir die 2023 Wêreldbeker Springbokke, die Stormers toe hulle die Verenigde Rugby Kampioenskapstoernooi gewen het, die seëvierende Junior Springbokke in 2012 en die Boland-bestuur wat in 2011 die Curriebeker-reeks se Eerste-liga gewen het.
“Ek het in 2020 by die Springbokke begin werk. Dit is ’n ongelooflike groep spelers en individue. Ek het van die spelers al jare terug ontmoet en dit voel soms onwerklik. Ek het by die Westelike Provinsie Rugby Instituut saam met Eben (Etzebeth), Siya (Kolisi), Frans (Malherbe) onder andere gewerk. By die o.18 Cravenweek het ek die eerste keer met Damien Willemse te doen gekry. Handré (Pollard) was nog op skool toe die Junior Bokke die Wêreld-titel in Kaapstad met spelers soos Steven Kitshoff, Pieter-Steph du Toit en Dillyn Leyds gewen het! Toe ek by Boland was, was Willie le Roux en Cornal Hendricks deel van die span. Ek vind dit moeilik om te beskryf hoe lekker en spesiaal dit is om saam met spelers soos dié en baie ander ’n pad te stap. Dit gaan beslis oor meer as net rugby…”
Om dié rede het die skielike afsterwe van Cornal op 15 Mei hom hard getref. “Dit was ’n voorreg om saam met Cornal te werk as sy fisioterapeut. Hy was ’n ongelooflike speler en ’n besonderse mens – toegewyd, nederig en vol deursettingsvermoë. Sy nalatenskap sal voortleef in ons harte.”
Vir Aneurin is die belangrikste om ’n verskil te maak in ander se lewens.
“Ek kyk altyd uit vir geleenthede om ’n positiewe bydrae en impak op iemand se lewe te maak. Vir my gaan dit altyd oor mense,” vertel die oud-leerling van Hoërskool Stellenbosch.
Aneurin het B.Sc Fisioterapie in 2004 voltooi en dit opgevolg met ’n MPhil Oefenwetenskap in 2013. Hy het sy PhD Fisioterapie in 2022 verwerf.
“My tyd as student by die Universiteit was van die beste tye ooit. As ’n Stellenbosser, wat in Idasvallei groot geword het, was dit baie spesiaal om in my tuisdorp te studeer. Dit was ’n ongelooflike tyd. Ek het vriende gemaak, geleenthede ontvang en baie ervaar. Ek sal nooit Vensters, vlotte en die verskeie nagte sonder slaap vergeet nie. Maties was en is steeds goed vir my.
“Ek het immers ook hier my eerste werk gekry. Ek het in 2006 by Stellenbosch Kampus Gesondheid gewerk. Ek sal Dr. Pierre Viviers ewig dankbaar wees vir sy vertroue in my om my as groentjie aan te stel. Ek kan nog sy oproep met die aanbod onthou. Dit was een van die beste oproepe wat ek ooit gekry het!”
Aneurin het hokkie en krieket gespeel (2000-2004) – hy was lid van die Maties Hokkie-komitee – maar sy groot fokus was om met die studente-atlete te werk (2006-2010) by die Stellenbosch se sentrum vir uitnemendheid. Hy was daar toe Maties Rugby die eerste drie Varsitybeker-titels gewen het, hy het Heerden Herman gehelp om Suid-Afrika in die swembad te verteenwoordig en as fisioterapeut vir Maties Atletiek het hy met verskeie atlete gewerk.
Op die Tygerberg-kampus was hy op die studenteraad en Primarius van Kerkenberg.
“Al hierdie geleenthede het bygedra tot my groei as persoon en het my blootgestel aan leierskaprolle. Ek het die belangrikheid van beplanning, kommunikasie en goeie verhoudings met mense geleer. Dit was ook ’n lekker uitdaging om ’n balans tussen akademie, sport, leierskap en pret te vind. Alles belangrike bestanddele van ’n suksesvolle student wees.”
Hoewel sy hooffokus die Springbokke is en hy met groot opgewondenheid uitsien na die internasionale seisoen wat binnekort begin, is Aneurin ook verantwoordelik vir die koördinering van al die mediese spanne binne SARU se hoëprestasie-omgewing.
“In hierdie rol vervul ek ’n leidende rol in die beplanning en integrasie van die mediese ondersteuning, wat ’n toegewyde groep dokters, fisioterapeute en dieetkundiges insluit. Ons moet saamwerk vir sukses en daarom het ons almal ’n gedeelde visie. Ons doel is om elke speler van hoë gehalte ondersteuning en sorg te voorsien, sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik en waarde tot die span kan toevoeg.”
Hy huiwer nie vir ’n oomblik om Stellenbosch Universiteit aan voornemende studente aan te beveel nie.
“Die plek gee jou so baie geleenthede. Hier is iets vir almal. Wat ook al jou persoonlikheid, voorkeure en agtergrond is, Maties is die plek vir jou. As ’n jongman van Idasvallei sal ek altyd dankbaar wees vir alles wat die US my gebied het. Sport het vir my ’n blink toekoms gegee met akademie die belangrike fondasie!”