Riley Norton, ’n eerstejaar BCom Beleggingsbestuur-student aan die Stellenbosch Universiteit, is reeds ’n bekende naam in Suid-Afrikaanse sport. Op 18-jarige ouderdom het hy sy land op die krieket en rugbyveld verteenwoordig.
Hy was eers gekies vir die SA Skole-krieketspan en dit later opgevolg met ’n plek in die SA Skole-rugbyspan. Riley is die eerste Suid-Afrikaner ooit om in die o.19 Wêreldbeker-kriekettoernooi én die Junior Wêreld Rugby-toernooi te speel.
Riley se talent in sport is diep in familie-tradisie gewortel. Sy pa, Chris Norton, het van 1991 tot 2003 vir Maties Rugby gespeel en dra vandag nog by tot die Maties Rugby se Ondersteunersklub, waar hy ’n lojale en vurige ondersteuner is.
Verlede jaar het hy Suid-Afrika in die o.19 Wêreldbeker-kriekettoernooi verteenwoordig en lof ontvang het vir sy vaardighede as ’n veelsydige speler. Dit was egter ook in dié tyd van matriekjaar dat hy besef het dat hy rugby net ’n bietjie meer as krieket liefhet. Riley het in sy pa se voetspore gevolg deur vanjaar as student-atleet by Maties Rugby aan te sluit.
Ten spyte van sy veeleisende sportskedule behou Riley ’n sterk akademiese rekord. Hy is egter nog besig om aan te pas by die lewe as ’n universiteitstudent, wat minder gestruktureerd as ’n hoërskool-leerling is. Studente moet selfgemotiveerd wees en hul eie tyd doeltreffend bestuur. Riley skryf sy sukses toe aan goeie tydsbestuur en die ondersteuning van sy dosente.
“Dit is soms uiters moeilik om alles te bestuur. Ek moet vir myself genoeg tyd gee om te studeer en dit is beslis moeiliker as op hoërskool, want op skool is alles om jou rooster gebou. By universiteit is jy basies op jou eie. Maar dit is ’n goeie uitdaging. Ek geniet dit,” sê Riley.
Hy wou nog altyd Stellenbosch Universiteit toe kom omdat sy pa hier studeer het. En dit is ’n algemene droom onder baie leerders van Paul Roos Gimnasium. Riley sê hy het nog altyd van die US-kampus en die mense daar gehou, en dat dit ’n bonus is om naby aan die huis te wees.
Ongelukkig kon Riley nie die 2025 Varsitybeker-veldtog speel nie weens ’n besering. “Om uiteindelik die kans te kry om die maroen trui te dra, gaan vir my baie spesiaal wees — en natuurlik vir my pa ook. Maroen vloei deur ons are. Om Maties te verteenwoordig is iets groots vir ons as familie, groot vir my persoonlik, en iets wat ek hopelik binnekort kan doen.”
Buite sy Maties-verpligtinge het Norton ook die Junior Springbokke as kaptein gelei tydens die o.20 Rugbykampioenskappe wat in die Nelson Mandela-baai Stadion in Gqeberha gespeel is. Nieu-Seeland, Australië en Argentinië was die ander lande wat aan die toernooi deelgeneem het. Die jong Bokkies het die toernooi in derde plek afgesluit. Hy het saam met mede-Maties Rugby-spelers Oliver Reid en Herman Lubbe gespeel, en beskryf die ervaring as “ongelooflik”. Riley sê hulle het reeds vriendskappe gevorm sedert hul skooldae toe hulle saam in die Craven Week-toernooi gespeel het.
“Ek en Oli (Reid) gaan terug tot in graad 6 toe ons saam vir die Wes-Kaap o.12-span gespeel het. Om saam met van die Maties Rugby-spelers te speel, het alles makliker gemaak omdat ek hulle al lank ken en al bande met hulle gebou het. Dit is wonderlik om saam met iemand te speel wat jy langer ken as net jou tyd saam by die Junior Bokke. Hulle is ongelooflike spelers en daar is groot vertroue tussen ons. Ek hoef nooit op die veld te wonder nie — hulle is altyd daar om te help en te ondersteun.”
Riley sê dit is ’n groot voorreg om die Junior Springbokke te lei. Hy was nog altyd passievol oor Suid-Afrikaanse sport en alles wat dit bied. “Dit was ’n spesiale paar maande, iets wat ek nie as vanselfsprekend beskou nie. Ek probeer elke oomblik geniet en alles gee wat ek het.”
Toe hy oor sy leierskap gevra is, sê hy dit gaan nie daaroor om alleen te werk nie, maar om seker te maak almal werk saam na dieselfde doel.
“Ek probeer die mense rondom my bemagtig en seker maak dat almal gemaklik is, gelukkig is en dat ons saam vorentoe beweeg, nader aan mekaar kan kom en verhoudings weg van die veld kan bou,” sê Norton.
Die Junior Bokke is tydens ’n oefensessie in Gqeberha besoek deur Siya Kolisi, die Springbok-kaptein wat uit dié provinsie kom. Volgens Norton was een van die belangrikste lesse uit daardie gesprek die waarde daarvan om ’n goeie mens te wees — op én af van die veld. Kolisi het beklemtoon dat as jy goeie waardes en beginsels het, die lewe jou sal beloon. Maar moenie ooit die geleentheid om die Springboktrui aan te trek as vanselfsprekend beskou nie. Rugby kan jou net tot ’n sekere punt in die lewe neem, en dit is noodsaaklik om altyd vriendelik te wees.
“Sy boodskap was dat jy elke dag jou beste moet gee — jy het ’n Godgegewe talent ontvang en jy moet dit gebruik. Moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, en onthou dat die hele land agter jou staan,” sê Norton.
Met sy uitsonderlike talent en werksetiek is Riley Norton gereed om ’n betekenisvolle bydrae tot die sportlandskap in Suid-Afrika te maak. Sy reis dien as inspirasie vir jong atlete wat sport en akademie balanseer. Ons sien daarna uit om hom binnekort in ’n Maties-trui te sien en te ervaar hoe hy op die veld by die ikoniese Danie Craven Stadion presteer.
Deur Jamie Wyngaardt
 
				

