Voormalige Maties-netbalspeler en deel van die 2022 Varsity Netbal-kampioenspan Shanidine Bezuidenhout het die koppe laat draai toe sy vanjaar die eerste drie vir die Maties-vrouerugbyspan in hul openingswedstryd van die FNB Varsitybeker-rugbytoernooi gedruk het.
Dié nagraadse student het verlede jaar haar nagraadse sertifikaat in onderwys, met lof, verwerf en besluit om op rugby te fokus as haar sportkode vir die nuwe seisoen.
Terwyl sommige atlete maklik tussen sportsoorte kan wissel, is dit vir ander ’n beduidende fisieke en sielkundige uitdaging. Shanidine vertel dat ’n kruisligament-besering en die behoefte aan ’n nuwe uitdaging haar gemotiveer het om dié skuif te maak. En dit het nie lank geneem nie voor sy sukses op die rugbyveld behaal het.
Shanidine het die plasing vir vrouerugby-nuwelinge op sosiale media gesien nadat haar 2024 Varsity Netbal-seisoen geëindig het. Maties het ongelukkig teen die NWU Arende vasgeval en nie die halfeindronde van die toernooi gehaal het nie.
Ná die seisoen het sy steeds in die gimnasium geoefen en vir haarself gesê: “Kom ons gee rugby ’n kans, moenie te veel daaroor dink nie, dit is nie so ernstig nie.”
Sy beskryf die eerste oefensessie as pret omdat hulle raak-rugby gespeel het — iets wat sy as jong meisie gereeld in haar tuisdorp Ceres gespeel het. ’n Week later het Maties-vrouerugby se pas aangestelde hoofafrigter, Aneesah Abrahams, haar gekontak. Abrahams het gesê sy besef dat Shanidine eintlik netbal speel, maar haar gevra om nog ’n oefensessie by te woon. Aanvanklik was Shanidine huiwerig, aangesien sy daardie Desember sou gradueer en eintlik wou begin met haar professionele loopbaan.
Toe sy haar besluit om na rugby oor te skakel met haar familie deel, was haar ma bekommerd oor die fisieke aard van die sport en dat sy nie meer netbal sou speel nie. Haar pa daarenteen was ondersteunend en selfs opgewonde, en het vir almal vertel dat sy dogter rugby gaan speel. “Toe ek vir hom sê ek speel rugby, het hy gesê: Gaan vir dit en kyk wat gebeur.”
Al het haar ouers aanvanklik verskillende reaksies op die verandering van sport gehad, het hulle uiteindelik albei, met plakkate en al opgedaag om haar te ondersteun en te wys hoe trots hulle op haar is.
Bezuidenhout beskryf haar reaksie op haar eerste drie as “oorweldigend”.
“Ek het nooit gedink ek gaan binne die eerste twee minute van my eerste rugbywedstryd ’n drie druk nie. Dit het só vinnig gaan gebeur. Ek het nie eens daaraan gedink dat ek moontlik ’n drie gaan druk nie.”
Sy het haar indrukwekkende vaardighede, spoed en toewyding gebruik om by ’n nuwe dissipline aan te pas. Sy skryf haar goeie hand-oog-koördinasie toe aan netbal. Dié vaardigheid is noodsaaklik vir die hantering van ’n rugbybal. “Die eerste uitdaging vir my was om te leer hardloop met die bal, want in netbal mag jy nie met die bal hardloop nie!” sê Bezuidenhout.
Hoewel beide sportkodes unieke vaardighede, krag en kondisionering vereis, kon sy, die oomblik toe haar ingesteldheid reg was, dié vermoëns oordra en haar spel verbeter.
Shanidine is een van die suksesvolste atlete by Maties Sport as dit kom by die verandering van sportkodes. Sy het goue medaljes in albei kodes gewen. Die eerste was die sege in die eindstryd van die Varsitybeker-netbal in 2022, en in April 2025 is sy en haar spanmaats as FNB Varsitybeker-kampioene gekroon.
Sy beskryf die ervaring as onwerklik: “Ek kan nie glo dit is ek nie. Ek het nooit gedink ek sal die eerste vrou wees om twee goue medaljes in verskillende sportsoorte by die Stellenbosch Universiteit te wen nie — en dit ná 150 jaar van die universiteit se bestaan.
“Ek weet nie wat die toekoms in die rugby-omgewing vir my inhou nie, maar ek dink dit kan goed vir my wees. Die ondersteuning van my familie, van my netbalvriende, van my bestuur en veral my tweelingsuster — om almal elke stap van die pad daar te hê — beteken vir my alles. Niks hiervan sou moontlik wees sonder God nie,” beklemtoon Bezuidenhout.
Vir die res van die jaar sal sy fokus op haar terugkeer na volle fiksheid, sowel as voorbereiding vir die USSA Winterspele en die USSA-sewesrugbytoernooi wat in September deur Maties Sport aangebied word.
- ‘n Seëvierende Maties-span na die oorwinning in die 2022 Varsity Netbalfinaal tussen Maties en NWU by die Coetzenburg Binnesentrum, Stellenbosch, SUID-AFRIKA.
- Liza Kruger van UJ en Shanidine Bezuidenhoudt van Maties tydens die 2022 Varsity Netbal Semifinaal tussen Maties en UJ by die Coetzenburg Binnenshuise Sentrum, Stellenbosch, SUID-AFRIKA
- Shanidine Bezuidenhout van FNB Maties (Vroue) hardloop rond om te score tydens die FNB Varsity Shield Vrouefinaal-wedstryd tussen FNB Maties teen FNB UP Tuks op Vrydag 11 April 2025 by Varsity College in Durban-Noord. Foto deur: Gerhard Duraan/Varsity Sports
Deur Jamie Wyngaardt