Vraag-en-antwoord-sessie met Maties se rasieleiers-kaptein Tiffany van Wyk en bestuurder Elroy Smith.
V: Hoe het die rasieleiers gevoel ná hulle die titel gewen het?
A: Ons was oorstelp van vreugde. Dit is ’n agtereenvolgende oorwinning. Daardie aand was daar baie emosies, want ons was regtig gespanne en uitgeput — dit was ’n baie lang seisoen vir ons. Ons het besluit om hierdie seisoen ook die vroue te ondersteun, en dit het ons ’n bietjie ingehaal. Tydens die eindronde het hulle vir ons omtrent 20 minute voor die tyd gesê dat hulle die wenners tydens die strategiese pouse op TV gaan aankondig. Ek was so senuweeagtig, maar toe ek met my span praat, het hulle my kalm gemaak en gesê: “Ons is selfversekerd oor wat ons ingesit het.”
Ek onthou dat ek van blydskap, maar ook van verligting, begin huil het, want dit was ’n moeilike seisoen. Dit was egter lonend — dit was asof al ons harde werk uiteindelik vrugte afgewerp het. Baie mense het vir my daardie video gestuur van hoe ek net daar op nasionale televisie sit en huil. Ek is ongelooflik trots op my span. Ek was vir sowat tien minute sprakeloos en toe hardloop ek na Elroy toe met trane in my oë.
V: Wat het alles ingegaan by die voorbereiding vir die kompetisie?
A: Dit was nuwe roetines vir elke wedstryd, so ons het baie tyd spandeer om die roetines te beplan, musiek te kies, die musiek te meng, en dit dan saam met die span in te oefen. Maar ’n probleem wat ons teëgekom het, was akademiese verpligtinge, want ons was diep in die A1-eksamens. Waar sommige universiteite net een week van toetse het, het ons ’n hele maand. Dit was dus baie moeilik om ’n oefening te hê waar almal teenwoordig was. Daarom moes ons dikwels oor naweke bymekaarkom.
V: Elroy, as klubbestuurder, hoe voel jy oor die span se sukses?
A: Ek was baie opgewonde. Iets in my binneste vir my gesê dit gaan hulle wees [Maties Rasieleier] wat wen. Ek het die opofferings gesien. Ek het gesien hoeveel ure hulle oor naweke insit. Daar was ’n aand wat hulle tot 21:00 geoefen het. Om hulle beloon te sien word vir die harde werk en toewyding, was wonderlik — en ook om hulle rou emosies te beleef. As ek terugkyk na waar ons as klub was en waar ons nou is, daar was heelwat groei, en harde werk het daarin gegaan. Ek was verstom om te sien hoeveel ure in die ontwikkeling van ’n roetine ingaan. Dit was dus regtig lekker om te sien toe hulle die prys ontvang.
V: Tiffany, as kaptein — watter uitstaande oomblik van die seisoen, hetsy as ’n span of individueel, was vir jou ’n hoogtepunt?
A: Die sege was beslis ’n hoogtepunt, en ook om ons Thunderstruck-roetine oor te doen. Daardie roetine lê ons baie na aan die hart, want in die rasieleiers-wêreld ken almal Thunderstruck. Toe ons dit die eerste keer doen, is dit kortgeknip — dit was ’n hele gemors. Dit het baie aan my gevat, want ek moes vir my span sê: ‘Kom van die veld af, gaan buite die stadion, haal asem.’ Toe ons dus die kans kry om nie net die Derby oor te doen nie, maar ook Thunderstruck, het ek, terwyl ek in ’n voetstut was, besef dat ons deur basies alles gekom het. Daar was net agt tellings oor, en ek het gedink: ‘Ons het dit gedoen!’ Dit was so onwerklik, en ek is so bly ons het die geleentheid gekry om dit weer te doen. Ek kon nie eers vir my span verduidelik hoe trots ek op hulle is nie.
V: Watter raad sou jy gee aan iemand wat oorweeg om by Maties Rasieleier aan te sluit?
A: Jy moet weet dit gaan baie van jou verg, maar dit gaan ook baie lonend wees. Ons het vanjaar ’n splinternuwe span — baie van ons seniors het verlede jaar gegradueer. Dit was vir hulle ’n groot aanpassing om akademie, rasieleier te wees en hul sosiale lewe te balanseer. Wat dikwels gebeur het, is dat hul sosiale en rasieleier lewe begin saamvloei, en jou rasieleier-spanmaats jou vriende word.
V: Watter boodskap wil jy aan die Maties Sport-gemeenskap oor rasieleiers oordra?
A: Dat Maties Rasieleiers nie net daar is vir rugby en die Varsitybeker-rugbytoernooi nie. Ons is daar vir ander sportsoorte ook — ons berei nou voor vir die basketbalseisoen. Maar ons is ook ’n sport op ons eie. Ons het ons eie kompetisies en toernooie, en dit is fisiek baie veeleisend. Om ’n rasieleier te wees, is nie net om te dans nie — dit is spronge in die lug, truuks, vennootstutte. Dis nie net kantlyn-dansies nie.
Ek dink die universiteit begin dit nou raaksien, maar ek wil hê hulle moet dit nog meer raaksien, want ons gaan binnekort meeding, en ek wil regtig vir hulle wys ons is ongelooflike hip-hop dansers.
V: Hoe kan die gemeenskap die span in komende kompetisies ondersteun?
A: Ons volgende kompetisies is op 17 en 24 Mei, gevolg deur die provinsiale byeenkoms op 7 Junie, en die Nasionale byeenkoms in Oudtshoorn in Julie. Besonderhede sal op sosiale media gedeel word.
Iets besonders om te noem, is hoe Maties se vroue-rugbyspan ons teenwoordigheid by die wedstryde waardeer het. Ek is mal daaroor dat ons hulle kan ondersteun en hulle ons ondersteun. Dit is ’n baie spesiale groep spelers, en hulle doen ongelooflike dinge. En die video wat ons vir die Cheerleaders That Rock-kompetisie ingedien het, is by die vroue se wedstryd verfilm, nie by die mans se wedstryd nie — dit is vir my baie besonders.
 
				


