Ons het voor USSA kontak gemaak met die Varsitybeker-kapteine Ezekiel Ngobeni, Carel van der Merwe en Liza Slabbert om hul mening oor hul Maties-ervaring te kry.
Al drie beskryf dit as een van groot persoonlike groei waardeur hulle spanwerk, selfdissipline, strategiese beplanning, kommunikasie en leierskapsvaardighede geleer het, en ongelooflike lewensvaardighede opgedoen het. En die woorde wat hulle die meeste gebruik is “eer” en “voorreg”.
Dit is van meet af duidelik dat kapteinskap vereis dat die ego tersyde gestel moet word en dat vaardighede in diens van spanmaats gebruik moet word in die strewe na ’n gesamentlike doelwit. Om die waarheid te sê klink dit of Ezekiel nie in staat is om die eerstepersoonsvorm te gebruik wanneer dit oor sy rugbyloopbaan of lewe gaan nie! Daar is geen “ek” nie – net “ons” en “hulle”.
Liza en Carel se stories fokus ook op nederige trots, dankbaarheid om deel van die Maties-groep te wees – veral in die 150 herdenkingsjaar – en ’n oorweldigende pligsbesef om die beste vir hul span, klub en aanhangers te doen.
Ezekiel, ’n derdejaar BCom-student in Landbou-ekonomie en inwoner van Wilgenhof, skryf sy begeerte om te dien toe aan sy Christenwaardes.
“Dit is deur ons ouers by ons ingeprent deur dade, nie net woorde nie,” sê hy.
Hy is as kind deur rugby bekoor toe hy gemeenskapspelers dopgehou het terwyl hulle raakrugby speel. Hy was mal oor die spoed en die systappe, en vermoed rugby is al vanaf sy dae as minirugbyspeler deel van sy DNS.
Sy bekendstelling aan Maties het plaasgevind toe hy, tydens ’n stapsessie by Coetzenburg, die eerste span sien oefen het en besluit het om sy eie balvaardighede op die kantlyn ten toon te stel. Daar is hy deur die hoofafrigter Kabamba Floors raakgesien!
Etlike jare later sorg Ezekiel as ’n aanhanger- en spelergunsteling vir groot opwinding op die veld en het hy amper ’n paar harte laat staan toe ’n plettervat hom hard grond toe gebring het in die Varsitybeker-wedstryd teen die Universiteit van Kaapstad.
Hy maak die voorval met ’n skouerophaling af.
“Besering is deel van die spel. Dit gaan nie oor my wat die helfte van die seisoen gemis het nie. Daar was ’n uitstekende span, ’n plan … en Carel was daar om leiding te neem. Dat ons dit tot by die eindstryd gemaak het maar nie die beker verower het nie, is ongelukkig, maar ons gaan ons nie daaroor verknies nie. Ons foute definieer ons nie. Ons leer daaruit en laat dit ons vorm.”
Ezekiel, wat as ’n o.20 Springbok-speler al op internasionale vlak deelgeneem het, sê egter steeds die grootste hoendervleisoomblik wat hy al ervaar het, was om vir die eerste keer voor ’n see maroenaanhangers in die Danie Craven-stadion op die veld te draf.
“Om vir Maties te speel en kaptein te wees, is ’n reusevoorreg. Miskien sal ek eendag die groen-en-goud dra of miskien nie. Ek sal blom waar God my plant en alles gee.”
Carel, wat al deel was van ’n seëvierende WP Curriebeker-span, stem saam dat die Danie Craven-stadion “een van die beste stadions is om in te speel” te danke aan die aanhangers, die geskiedenis en die geleentheid om deel te wees van die legendariese #Maroenmasjien.
“Dit was ’n groot eer om te speel en as onderkaptein, en toe as kaptein van die Varsitybeker-span, te dien. Dit was eintlik nogal ’n skok, aangesien dit my eerste jaar by Maties is,” sê die studente-atleet wat besig is met ’n nagraadse kwalifikasie in Vervoerlogistiek.
Hy het sy voorgraadse kwalifikasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf, waar hy weer tot rugby toegetree het nadat hy as hoërskoolleerder op atletiek gefokus het. Hy het UWK in die Varsityskild-kompetisie verteenwoordig.
“Te danke aan ’n beurs van Maties kon ek my studies voortsit en hier rugby speel .Ek is so dankbaar vir hierdie geleentheid – en as ’n alumnus sal ek graag in die toekoms iets wil teruggee.”
Daar is twee dinge wat Carel dryf: een is ’n begeerte om beter te wees as die vorige dag en die ander is om diegene wat hom ondersteun, te eer deur suksesvol te wees in alles wat hy doen.
“Hoewel ek die druk gevoel het, het die ongelooflike ondersteuning van die span en afrigters dit makliker gemaak om by Ezekiel oor te neem. Maties Rugby is ’n groot span en die spel het my geleer dat jy in die lewe mense aan jou sy nodig het; jy het ’n span nodig waar daar ’n oordrag van vaardighede en energie is.”
Carel, wat glo in die benadering van “een wedstryd op ’n slag en elke wedstryd is spesiaal”, is nou gefokus op die liga en USSA-toernooi. Hy is ook ’n ondersteuner van vrouerugby en Maties Rugby se vrouespan wat vir ’n tweede keer as Varsitybeker-wenners gekroon is.
“Hulle verdien soveel meer ondersteuning. Hulle speel regte rugby, gee 100% en ek sê vir jou, ek sou dit beslis voel as ek deur een van hulle grond toe gebring word.”
Liza, wat sê haar span is uiters gemotiveer deur hul Varsitybeker-oorwinning, stem heeltemal saam.
“Ons speel regte rugby – dieselfde harde plettervatte en reëls,” sê sy. “Die mans se spel lyk net ‘groter’ omdat mans groter is. Maar ons gee fisiek en geestelik ook 100% met dieselfde oefenintensiteit en beseringrisiko’s. Dis nie raakrugby nie. Dit vereis dalk ’n gespesialiseerde benadering om ’n vrouespan wat deur natuursiklusse beheer word te bestuur en te lei, maar dit het niks te doen met taaiheid, toewyding of ‘rugby wat sag geword het’ nie,” beklemtoon sy.
Kapteinskap voeg vir haar ’n mate van verantwoordelikheid by om die momentum van vrouerugby in die hoofstroomdenkwyse te dryf sodat spelers en die spel as kampioensportlui erken word, en om die sport na ’n plek te neem waar borge bereid is om daarin te belê.
“Ek is so dankbaar teenoor ons toegewyde aanhangers wat ons ondersteun, maar ons het meer erkenning nodig om die befondsing te lok wat ons nodig het om ons span te laat groei. Dit voel vreemd om ‘groei’ te sê, want vrouerugby by Maties is nie nuut nie. Die klub is 30 jaar gelede gevestig, maar dit is eers nou – te danke aan die Varsitybeker-toernooi – dat mense aandag gee. Ons is nie ’n nuwe ‘bedreiging’ nie – ons is al dekades lank hier!”
Hierdie Rekenaarwetenskap-student in haar derde jaar het in Upington grootgeword waar sy hokkie gespeel het. Ná skool het sy suid na Stellenbosch getrek, in die voetspore van verskeie familie-alumni, om te studeer. Sy het aanvanklik by Maties Hokkie aangesluit, totdat sy haar passie vir vrouerugby ontdek het.
“Rugby is baie fisiek en dit vereis ’n bewustelike besluit om deel van hierdie gemeenskap te word – ’n gemeenskap van mans en vroue wat die grootste diversiteit van enige sport het in terme van ras, geslag, seksualiteit en kultuur.
“Alles wat ons inploeg word deur dieselfde waardestel onderlê, en ek voel so geëerd om deel daarvan te wees. Elke keer wanneer ek daar staan en die volkslied sing, moet ek ’n traan wegpink. Ek is geseënd om dit in maroen te kan doen,” sê sy.