Maties hero, now South African hero

Dit het amper gevoel of dit bestem was dat David Bedingham deel sou wees van die Suid-Afrikaanse krieketspan wat geskiedenis gemaak het deur die eerste SA-krieketspan te wees wat ’n Wêreldkampioenskap wen… en daarmee ’n 27-jaar lange droogte beëindig.

Die voormalige Maties-krieketspeler en Sportman van die Jaar (2019) moes regdeur sy loopbaan struikelblokke oorkom, groot – en soms ongewilde – besluite neem, en meer geduld hê as die gewone professionele sportpersoon.

Om op die heilige grond van krieket – Lord’s – rond te loop as ’n wêreldkampioen, was ’n ongekende oomblik vir die oud-leerling van Wynberg Boys’ High.

“Dit was ongelooflik! Dit was besonders om dit te kon doen vir al die spesiale mense in ons kleedkamer, en om soveel vriende en familie op die paviljoen te hê om saam met ons te vier, was werklik spesiaal – iets wat ek nooit sal vergeet nie!” het David gesê in die dae ná hulle geskiedkundige oorwinning.

David het by Maties Krieket aangesluit as ’n skole krieket-wonderkind, en die verwagtinge vir en van hom was hoog. Hy het die Suid-Afrikaanse o.19-span in 2013 verteenwoordig. In Desember 2016 was “Bedders” – soos sy spanmaats hom noem – in ’n groot motorongeluk betrokke. Hy het sy kakebeen en dybeen gebreek. Tydens hierdie tyd het David besef dat krieket net ’n sport is – en dat hy dit vir die liefde van die spel moet speel.

Hy was vir meer as ’n jaar van die veld af, en selfs toe hy teruggekeer het, het hy nog effens gesukkel met beweging. In Januarie 2018 het hy weer sy regmatige plek op die veld ingeneem. Ses jaar later het David sy droom verwesenlik: om vir sy land te speel. Sy Protea-debuut was in Desember teen Indië op Centurion. ’n Week later het hy op Nuweland voor familie en vriende gespeel.

Met sy debuut op 29-jarige ouderdom was hy ouer as die meeste spelers wanneer hulle vir die eerste keer hul land verteenwoordig. Maar soos die legendariese Australiër Michael Hussey, het David eers ’n klomp eersteklas ervaring opgebou voordat hy vir internasionale diens opgeroep is. En dit is waarskynlik een van die groot voordele in David se guns – dié linkerhandse kolwer is nie ’n groentjie nie.

“Ek glo vas aan die sêding: ‘Wat jou nie breek nie, maak jou sterker.’ Al die terugslae het my uiteindelik ’n sterker mens gemaak – en dit lei tot ’n sterker krieketspeler.”

Na vier jaar by Maties het David vir die Westelike Provinsie in eersteklas krieket gespeel voordat hy een van die grootste besluite van sy lewe geneem het.

“My loopbaanhoogtepunt voor die Proteas was beslis toe ek na Durham verhuis en daar ’n loopbaan begin het. Al het baie mense gedink dit is die verkeerde ding om te doen, was dit die beste besluit wat ek nog ooit geneem het.”

Sy tweede jaar by Durham was een vir die rekordboeke. Hy het die seisoen begin met ’n onoorwonne 180 lopies teen Nottinghamshire op Trent Bridge – sy hoogste telling tot op daardie stadium – en twee wedstryde later het hy Durham se tweede hoogste Kampioenskap-telling ooit aangeteken: 257 teen Derbyshire.

David het tot dusver in 15 toetswedstryde vir Suid-Afrika gespeel, met sy hoogste telling 110.

“Ek vat my loopbaan een wedstryd op ’n slag, probeer die beste weergawe van myself wees en wil myself en my familie trots maak.”

Baie het gebeur sedert hy Maties verlaat het, maar die herinneringe sal altyd bly.

“Ek het baie gegroei sedert my tyd daar, maar Maties was ongelooflik goed vir my. Om vriende te maak en in ’n roetine in te kom, het my liefde vir krieket weer laat opvlam, en ek is werklik dankbaar vir al daardie oomblikke by Maties!”