Maties Sport beloon uitnemendheid by jaarlikse toekenningsaand

Maties Sport het op Vrydag, 17 Oktober 2025 met sy Jaarlikse Sporttoekennings uiteenlopende sportpersoonlikhede en Stellenbosch Universiteit-leiers verwelkom om die uitnemendheid van sy studente-atlete, spanne en klubs te vier.

Die geleentheid is die Coetzenburg-sentrum – opgetooi vir die aand – aangebied. Die tema vir die aand was “Celebrating Champions, Shaping Tomorrow”.

Bekende ekstreem-avonturier en topverkoper-skrywer David Grier, wat homself as “ ’n sjef van beroep en iemand met ’n passie vir humanitêre werk” beskryf, het ’n inspirerende toespraak gelewer.

Sy dryfkrag is om ’n verskil te maak in die lewens van kinders wat met gesplete verhemeltes gebore is en chirurgie benodig. Dit was met dié motivering dat Grier sy pad as avonturier in die ekstreme begin het.

Sedertdien het hy onder andere die Groot Muur van China – in albei rigtings – gehardloop. Daar was ook die 3000km-lange Route 50 in Amerika wat hy per voet aangepak het. Dit is alles vir bewusmaking en die insameling van fondse om dié kinders se behoeftes te finansier.

Sy boodskap van deursettingsvermoë, doelgerigtheid en diens het die toon vir die aand gestel – ’n viering van uitnemendheid, integriteit en die balans tussen verskeie verantwoordelikhede. Die SU se Rektor en Visekanselier, prof. Deresh Ramjugernath, en Maties Sport se Hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, het hierdie boodskap van holistiese prestasie – op én van die veld – verder beklemtoon.

Maties Sport se Sportman- en Sportvrou van die Jaar

Sportman van die Jaar: Lehan Botha (Krieket)

Krieketspeler Lehan Botha is as Sportman van die Jaar vir sy leierskap en vir sy gereelde uitsonderlike vertoning op die veld aangewys. Hy het Maties vir die vyfde keer gelei in die USSA Kriekettoernooi in Bloemfontein, waar die span onoorwonne gebly het tot in die eindstryd. Danksy uitsonderlike spel en sy sleutelrol as leier vir Maties, is hy as kaptein van die Suid-Afrikaanse universiteit-span aangewys.

Lehan het reeds ’n BCom in Beleggingsbestuur en Finansiële Beplanning verwerf en is tans besig met sy nagraadse studies aan die Stellenbosch Universiteit. Hy is vir sy akademiese prestasie in 2024 by die Rektors Toekennings vir Uitnemende Prestasie vereer. Hy het ook reeds Akademiese Kleure en Volkleure by Maties Sport verwerf.

As beroepspeler het hy vir die Boland Colts se driedaagse en eendaagse spanne gespeel. Hy was ook dié spanne se kaptein. Sy konsekwente prestasies het gelei tot ’n professionele kontrak by die Boland, en hy het beide sy T20- én 50-boulbeurt-debuut in nasionale eindstryde gemaak.

Sy vernaamste prestasies was egter die uitnodiging na Krieket Suid-Afrika se Franchise Akademie eendaagse week, waar hy sy meesterlike 131 lopies van 147 balle (13 viere, 5 sesse) vir die World Sports Betting Cape Cobras aangeteken het.

Sportvrou van die Jaar: Daniella Mendes de Oliveira (Hokkie)

Daniella Mendes de Oliveira het ’n uitsonderlike jaar beleef – op akademiese én sportgebied. Sy is tans besig om haar BRek Hons-graad met ’n cum laude-gemiddeld te voltooi.

Daar is ook ’n reeks prestasies en toekennings as hokkiespeler. Sy is as die 2025 SA Senior Nasionale Vroue-binnenshuise Speler van die Jaar aangewys, sy het haar debuut vir die SA vroue-span in die Nasiesbeker-toernooi gemaak. Dié toernooi was in Pole aangebied. Sy het die seëvierende Westelike Provinsie se seniorspan in die nasionale toernooi verteenwoordig en was kaptein van Maties se hokkiespan wat goud by die USSA-toernooi verower het. Tydens dié toernooi is sy ook as voorste doelskieter én Speler van die Toernooi aangewys.

Sportvrou van die Jaar (Parasport): Simoné Kruger

Die toekenning vir Parasport het aan eerstejaar Sportwetenskap (Biokinetika)-student Simoné Kruger vir haar wêreldklas-prestasies in para-atletiek gegaan.

Haar prestasies sluit in:

  • Goue medalje en nuwe Afrika- én SA-rekord in diskus by die para-atletiek Grand Prix-byeenkoms in Olomouc (Tsjeggiese Republiek) en nóg ’n goud in gewigstoot by dieselfde geleentheid.
  • Wenner van die Afrika Streeksporttoekenning geleentheid wat vroeër vanjaar in Zimbabwe aangebied is.
  • Sy is onlangs as Suid-Afrika se Sportvrou van die Jaar met ’n Gestremdheid
  • Goue medalje in diskus by die para-atletiek se Wêreld kampioenskapsbyeenkoms in Indië (September 2025).

Haar vertonings is ’n bewys van haar moed, ambisie en uitsonderlike talent as atleet.

Uitnemende afrigters

Afrigter van die Jaar (Hoë Prestasie-sport): Nathaly September (Basketbal)

Dié afrigter van Maties Basketbal-vrouespan het haar spelers tot die eindstryd in Afdeling A van die USSA-toernooi gelei. Dit was Maties vroue se debuut in dié afdeling. Onder haar afrigting het die Cape Town Mountaineers hul vierde agtereenvolgende BNL-trofee verower.

Afrigter van die Jaar (Mededingende Sport) was Graham Hood (Roei). Hy was aan die voorpunt van verskeie eerstes vir die steeds groeiende Maties-roeiklub. ’n Rekord-getal manroeiers het aan USSA Blues en Grudge deelgeneem. Hy was hulp-afrigter vir vyf roeiers wat Suid-Afrika verteenwoordig het. Daar was ook die derde plek by die jaarlikse Universiteit-bootresies.

Span van die Jaar

Maties Hokkie se vroue-span is as Span van die Jaar aangewys vir sy uitstaande administratiewe, leierskap- en sportprestasie op beide universiteits- en gemeenskapsvlak in 2025. Met groot borgskappe, nasionale span verteenwoordiging en USSA-sukses was dit ’n uitsonderlike jaar vir die klub.

Die hokkieklub is ook as Klub van die Jaar vereer.

Klub-, Volkleure- en Spesiale Toekennings

  • Mees Verbeterde Klub van die Jaar: Maties Tennis
  • Volkleure: 40 student-atlete vir verteenwoordiging van Suid-Afrika en USSA in sporte soos Hokkie, Rugby, Netbal, Basketbal, Atletiek, Parasport, Tennis, Roei, Gimnastiek en Waterpolo.
  • Student-administrateur van die Jaar: Lukhanyo Nkonzo (Basketbal).
  • Maties Sport Mediatoekenning: Maties Vroue-rugby.
  • Akademiese Presteerders: 29 student-atlete met akademiese gemiddeldes van 75% en hoër.

Baie geluk aan al ons uitstaande studente-atlete, administrateurs en afrigters.