Dié oud-Matie is gebore vir die groot oomblik
Hy het as 15-jarige sy debuut vir sy land gemaak, hy was aanstuur van sake toe Namibië sy eerste sege in ’n Wêreldbeker-kriekettoernooi behaal en het met meer as een geleentheid die Maties Krieket-span tot glorie gelei.
Gerhard Erasmus is ’n sleutelfiguur in Namibië se sukses op die krieketvelde van die wêreld die afgelope vyf jaar.
As student-atleet by Maties het sy LLB-graad in rekordtyd van vier jaar voltooi ten spyte van ’n propvol krieket-skedule vir Maties én Namibië.
Gerhard (30) – ’n betroubare middelorde-kolwer en handige draaibalbouler – is tans ’n professionele krieketspeler. “Ek sal dalk later as ek nie meer krieket kan speel vir ’n lewe nie, terugval op my graad wat ek aan die Stellenbosch Universiteit verwerf het.”
Al het Gerhard as ’n jong tiener reeds vir Namibië se senior span gespeel, het hy ook sy land by twee o.19 Wêreldbeker-toernooie verteenwoordig. Met die 2014 toernooi was hy die kaptein.
Hy was kaptein van die nasionale span toe Namibië internasionale status vir T20 en eendaagse wedstryde in onderskeidelik 2018 en 2020 ontvang het. Hy die Namibiërs gelei in die land se debuut in die T20 Wêreldbeker-toernooi in 2021. Namibië het seges oor Nederland en Ierland behaal. Die oorwinning oor Nederland was die eerste wedstryd wat Namibië in ’n Wêreldbeker-toernooi gewen het.
In die 2022 T20 WB-toernooi was hy aan die stuur met die geskiedkundige sege oor Sri Lanka. Dit was ’n waterskeidingsjaar vir Gerhard. Hy het 956 lopies in 21 eendaagse internasionale wedstryde aangeteken en sy eerste T20 honderdtal agter sy naam geskryf. Vir sy uitsonderlike spel is hy beloon met die Internasionale Krieketraad se Geassosieerde Krieketspeler van die Jaar toekenning.
So baie het al gebeur sedert sy tyd as Matie, maar Gerhard sal dié vier jaar van sy lewe nooit vergeet nie.
“Meeste van die tyd was die lewe as ’n Matie-student ‘Altyd lente’!” vertel Gerhard laggend.
“Ek sal egter eerlik wees en byvoeg dat dit nie altyd maklik was nie. Daar was tye wat jy moeg raak. Die uitdaging om studies, krieket en vriende te balanseer is nie eenvoudig nie. Die eerste twee jaar was dit veral moeilik. Die laaste twee jaar het egter geweet wat ek doen!”
As hy terugdink aan oomblikke by Maties, is daar ’n paar wat uitstaan.
“Ek onthou ons eerste Varsity Sport-kriekettoernooi in Potchefstroom. Ons het die Vrydagaand onder die spreiligte teen Pukke gespeel. Die tuisskare was bankvas agter hul span. Ek en Niel Botha – my beste krieket-vriend daai tyd – was voor die penne. Met die aanbreek van die Super-boulbeurt, waar elke lopie twee tel, het ek ’n ses geslaan. Dit was lekker om daardie oomblik met Niel te deel en toe met die res van die span.”
Gerhard het in 2019 sy artikels in regte voltooi. Dit was ook dieselfde jaar wat hy sy loopbaan as beroepspeler begin het.
“Krieket is baie goed vir my en my gesin. Ek speel gereeld. Ek speel vier keer ’n jaar vir Namibië en dan is daar verskeie toernooie wêreldwyd. Ek speel in Kanada, Amerika en Doebai tans. Ek is bevoorreg dat my werk my regoor die wêreld neem. Dit is my loopbaan. Ek sal dalk eendag wel moet terugval op my graad.”
As dit kom by uitstaan-oomblikke in sy loopbaan tot dusver hoef Gerhard nie verder te dink nie as vanjaar se sege oor die Proteas in Windhoek.
“Ons het in ’n nuwe stadion gespeel, voor ons tuisskare. Dit was ses jaar se werk wat op daardie dag sy hoogtepunt bereik het. Ek kan nie oomblik behoorlik beskryf nie. Daardie dag het ongelooflik baie vir krieket in Namibië beteken en natuurlik vir my as kaptein van die span. Dit was ’n span met spelers wat al almal voorheen vir Suid-Afrika gespeel het, dit was dus ’n besonderse spesiale sege.”
Volgens Gerhard was dit ’n voorreg om ’n studente-atleet van die Stellenbosch Universiteit te wees.
“Stellenbosch bied jou iets van alles. Hier het jy toegang tot wêreldklas geriewe en afrigters wat jou die geleentheid bied om sport op ’n professionele vlak te ervaar, die omgewing waarin jy leef is onbeskryflik en dan is daar al die tradisie wat met Matie wees saamgaan.”
