Tyd om in te loer by Maties Sport alumni: Mari Rabie

Mari leef vir oomblikke en nie hoogtepunte

As ’n gebore en getoë Stellenbosser, is Mari Rabie se wortels van uitnemendheid diep in dié Bolandse dorp geplant.

Mari het haar BCom-graad in Aktuariële Wetenskappe in 2009 aan die Stellenbosch Universiteit verwerf. Voor sy by die Maties-familie aangesluit het, was sy ’n leerling by Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. Haar jonger broer, Lood, is soos sy ’n oud-Matie en ’n voormalige leerling van Paul Roos Gimnasium (ook in Stellenbosch). Lood het waterpolo vir Suid-Afrika gespeel.

Mari se uitnemendheid het nie net gestrek tot akademie en leierskap nie, sy was ook ’n kranige atleet. Haar passie was driekamp – swem, fietsry en hardloop. Sy is ’n trotse Olimpiese deelnemer – Beijing en Rio de Janeiro – en was ook lid van Span Suid-Afrika by die Statebondspele in Melbourne.

“Ek was bevoorreg om in Stellenbosch groot te word. My my lewe as ’n student aan die Stellenbosch Universiteit staan dus nie soveel uit van my langer lewenservaring op die dorp nie,” vertel Mari.

“Toe ek skool verlaat, wou ek graag kwalifiseer vir die Statebondspele en Olimpiese Spele. My fokus was dus grotendeels om te oefen en klas by te woon. Vir veel meer was daar nie juis tyd nie.”

Vir Mari was die pad na internasionale erkenning nie maklik nie. Driekamp is nie erken as ’n amptelike sportkode by Maties Sport nie. Dit het dus van Mari afgehang hoe sy die droom gaan aanpak. Sy het by die Maties Swem- en Atletiek-klub aangesluit. Mari was nie eerste Rabie om by Maties se atletiekklub aan te sluit nie. Haar pa Lood Rabie en oupa Daniël Rabie was ook lede van dié historiese klub.

“In my tyd by Maties Swem was ons bevoorreg om ’n fantastiese afrigter in Pierre du Roubaix te hê. Dit was werklik ’n voorreg om by hom te leer.”

Vir Mari het die lewe – as atleet, persoon of werknemer – nog nooit gegaan oor hoogtepunte of laagtepunte nie. “Ek fokus eerder op gebeure wat waarde toevoeg en ervarings wat lei tot goeie herinneringe.”

Een van die oomblikke wat waarde tot haar lewe gevoeg het, was vroegoggende in die Maties-swembad. “Om as lid van een van die beste klubs in die land in die spesiale buite-swembad die son oor die Pieke te sien opkom. Dit was die tipe ervaring waarvoor ek lewe.”

Mari, ’n gekwalifiseerde aktuaris, werk tans as ’n Beleggingsbankier by RMB.

Ofskoon sy die Statebond- en Olimpiese Spele se blokkies op haar lys kon aftik, is Mari se lysie van doen-dinge nog lank nie klaar nie. “Ek het ’n lang lys van dinge wat ek nog wil doen!”

Mari was ’n ontvanger van die Rhodes-beurs en het by die Universiteit van Oxford studeer. Sy het vir byna sewe jaar ook by Remgro in Stellenbosch gewerk voor sy by RMB begin het.

“Universiteit Stellenbosch bied ’n unieke universiteitservaring in die hartjie van een van die mooiste dele van ons land,” is Mari se woorde van wysheid aan voornemende studente.

Mari se ouers – Lood en Riana – is oud-Maties sowel as al vier haar grootouers. Haar ouma Letitia Rabie was vir lank inwonende hoof van Nerina en haar oupa Prof. AG (Felix) Botha was betrokke by die Maties-rugbyklub én die atletiekklub. Mari se wortels is diep geplant in Stellenbosch en by Maties.