Erkenning vir lang, uitmuntende diens

Twee Maties Sport-staatmakers, Dan Brown en Karen Swart, is vir 25 jaar se toegewyde diens erken met ’n toekenning vir uitnemendheid deur die kantoor van die Universiteit Stellenbosch se bedryfshoof.

Dié jaarlikse toekenning erken uitnemende bydraes deur personeel binne die bedryfshoof se verantwoordelikheidsentrum.

Dan het as 13-jarige, toe hy nog ’n leerder aan Hoërskool Cloetesville was, begin help by hokkieskoolkampe. Sy betrokkenheid het toegeneem totdat hy as tellinghouer vir Maties Rugby en Maties Krieket opgetree het vir “sakgeld”.

“My pa, bekend aan die meeste mense as Oom Alec, het 44 jaar lank vir Maties Sport gewerk en hy het my aangemoedig om betrokke te raak en besig te bly. Hy het by die huis gesê dat geen lui mense daar moet rondhang nie, en ek het my vrye tyd by Maties Sport deurgebring,” sê Dan.

Hy het in 1999 ’n permanente personeellid geword toe hy as ’n administrateur by Maties Rugby aangestel is. Hoewel rugby steeds sy passie is, werk hy deesdae as Maties Sport se Administrateur: Finansies en Fasiliteite in die Jannie Marais-huis.

“Ons het deesdae baie tegnologie tot ons beskikking, maar ek onthou dat ek tydens die 1995 Wêreldbeker-wedstryd tussen Australië en Georgië die telling op die groot bord moes verander. Daardie plate was swaar en jy moes versigtig wees om nie saam met hulle weg te waai nie!” onthou Dan. Hy het ook goeie herinneringe van sy betrokkenheid by internasionale hokkiegeleenthede (nog op gras) en die destydse Luciano Pavarotti-konsert in die Danie Craven-stadion.

Karen vergestalt die uitdrukking “eens ’n Matie, altyd ’n Matie”. Sy het as ’n BA Sportwetenskap-student in 1990 in die koshuis Huis ten Bosch gewoon, en het in 2008 die inwonende hoof van daardie koshuis geword. As ’n student het sy vir Maties Netbal se eerste span gespeel en as klubvoorsitter gedien, en in 2000 is sy aangestel as die sportbestuurder vir netbal, sowel as gimnastiek, judo, skerm en basketbal.

Nadat sy twee dekades op netbal gefokus het, bestuur sy deesdae die roei-, kanovaart-, seil-, tennis- en gholfklubs.

Naas die groei van netbal en die ontstaan van die Varsity Netbal-kompetisie, meen Karen die groei van Maties se roeiklub verdien ook vermelding.

“Ek het baie herinneringe maar ek leef in die oomblik, en my huidige passies is die sportkodes waarvoor ek verantwoordelik is en die studente in my koshuis,” sê sy.

“Toe ek die bestuur van die roeiklub oorgeneem het, het die klub geen bote besit nie. Ons het in die afgelope twee jaar groot beleggings gedoen en besit nou ’n vloot ter waarde van amper R4 miljoen,” sê Karen.

“Nog ’n hoogtepunt was om te sien hoe twee van ons topgholfspelers aan die Boyd Quaich-gedenktoernooi by St Andrews in Skotland deelneem. En in 2025 het nege van my studente Maties internasionaal verteenwoordig: vyf roeiers en twee tennisspelers by die Wêreldstudentespele, asook twee gholfspelers in Skotland.”

Dan en Karen het geen planne om Maties Sport te verlaat nie, en is ten volle verbind tot die Universiteit en Maties Sport se ontwikkeling.

“Jy moet gereed wees om aan te pas,” sê Dan, en Karen stem saam dat aanpasbaarheid en ’n gewilligheid om te leer die resep vir ’n bevredigende loopbaan is.

Hulle meen die studente is die belangrikste element vir ’n lang loopbaan in die universiteitomgewing en die inspirasie om by te bly met veranderende omgewings, stelsels en tegnologie.

“Die jongelinge hou jou jonk,” sê Dan.