Anche Nortje – Maties Hokkie-administrateur en assistentafrigter van die vrouespan

Maties Sport het in Augustus – wat in Suid-Afrika as Vrouemaand herdenk word – die geleentheid gebruik om van die buitengewone vroue, wat met durf en grasie ’n verskil maak in die lewe van ons studente-atlete en die universiteitsportomgewing, te vier.

Anche Nortje – Maties Hokkie-administrateur en assistentafrigter van die vrouespan

Anche Nortje het al verskeie rolle by Maties Sport vertolk en is onlangs as die Maties Hokkie-koördineerder aangestel. Haar take sluit in om geleenthede, klinieke en toernooie te koördineer.

Anche is ’n voormalige Maties-hokkiespeler en dien ook die afgelope drie jaar as die assistentafrigter van die vroue se eerste span. Sy het in 2015 begin werk.

“Dit was nog altyd my doelwit om te groei in my pos en meer verantwoordelikhede te aanvaar.”

Anche glo die grootste uitdaging (vir vroue in sport) is een wat al baie lank bestaan.

“Mense geniet dit steeds meer om te kyk wanneer mans aan sport deelneem as wanneer vroue deelneem. Daarom kry vroue dikwels nie dieselfde aandag of krediet as mans nie.”

Dis dus geen wonder dat Vrouemaand ’n baie eenvoudige dog belangrike betekenis vir haar het nie, en dit is om gelykheid en gelykwaardige respek vir almal te vier.

Anche hou daarvan om nuwe uitdagings aan te pak, is gewillig om verantwoordelikheid te aanvaar en dink dis belangrik om elke geleentheid aan te gryp. Sy fokus daarop om in die oomblik te leef.

“My motto in die lewe is om teenwoordig te wees. Om in die oomblik te bly. Om bewus te wees. Om te besef dat jou aksies ander mense raak en om deurlopend uit verskillende perspektiewe na dinge te kyk.”

Haar raad aan jong meisies wat sport hul loopbaan wil maak is om ’n plan te hê.

“Soek ’n goeie mentor en kry balans in jou lewe. Studeer vir ’n graad of voltooi kursusse. Sport voel soos alles terwyl jy deelneem, maar daar is ’n lewe ná sport.”

Sy moedig hulle ook aan om nie net goeie sportvroue te wees nie, maar ook hul bes te doen om ’n loopbaan na te streef.

“En wees dankbaar dat jy die talent het om sport te doen en so baie vaardighede te leer,” sluit sy af.