Maties se Mire Reinstorf maak geskiedenis

Maties Atletiek se Mire Reinstorf het geskiedenis gemaak toe sy onlangs Suid-Afrika se eerste paalspringtitel vir vroue gewen het by die o.20 Wêreldatletiekkampioenskap.

Dit was ook die eerste internasionale kompetisie waaraan Reinstorf deelgeneem het. Sy het nooit gedink dat sy ’n goue medalje sou wen nie en het net gehoop om ’n persoonlike beste hoogte te behaal toe sy in Augustus na Nairobi toe gereis het.

“Ek wou my persoonlike beste hoogte van 4,12 m verbeter. My doelwit was om 4,20 m of selfs 4,30 m te spring, wat moontlik was as ek daaraan terugdink. Ek was baie hoog oor 4,15 m,” het Reinstorf gesê, wat met daardie hoogte gewen het. Dit is ’n arearekord.

“Ek het nie verwag om ’n medalje te kry nie. My afrigter het gedink ek kan dalk brons wen, maar nie goud nie. Uiteindelik het ek ’n persoonlike beste hoogte behaal én goud gewen!”

Die Matie kry steeds hoendervleis wanneer sy aan die oomblik dink toe sy die kompetisie gewen het.

“Dit het nie onmiddellik ingesink nie. Ek het net gedink: ‘OK, ek is eerste’. Maar toe ek ons nasionale vlag vat en dit om my draai, was ek gevul met vreugde en dankbaarheid. Dit het wonderlik gevoel – nie net om te wen nie, maar om vir Suid-Afrika te wen. Dit was ’n eer om ons land te verteenwoordig.”

Die oorwinning het Reinstorf geïnspireer om selfs nog harder te werk om seker te maak sy bereik so veel moontlik. “Ek het nooit aan die Olimpiese Spele gedink nie, maar dit is beslis nou een van my doelwitte!”

Reinstorf het haar paalspringloopbaan op hoërskool begin.

“Om eerlik te wees, wou ek dit aanvanklik nie doen nie omdat dit ’n nuwe sport was en nie iets waaraan ek gewoond was nie. Ek het nie eers geweet hoe om dit te doen nie! Maar my ma het my aangemoedig om dit te probeer en ná die eerste oefensessie kon ek nie ophou nie. Ek het ook hekkies en gimnastiek gedoen wat albei met paalspring gehelp het, aangesien jy spoed nodig het, asook die gimnastiekvaardighede om oor die paal te seil.”

Sy is ’n trotse Matie.

“Dit beteken vir my baie om ’n Matie te wees. Wanneer ek aan Maties dink, sien ek net maroen en goud. Ek sal nooit vergeet hoe bly my pa, Peter, was toe hy hoor ek gaan Maties toe, en nie Amerika toe nie.”

Reinstorf bedank Maties wat haar te help om haar drome te bewaarheid.

“Ek ontvang geleenthede en waardevolle finansiële bystand van die Hoëprestasieprogram af.”