Zanele Mdodana – Hoofafrigter van Maties Netbal

Maties Sport het in Augustus – wat in Suid-Afrika as Vrouemaand herdenk word – die geleentheid gebruik om van die buitengewone vroue, wat met durf en grasie ’n verskil maak in die lewe van ons studente-atlete en die universiteitsportomgewing, te vier.

Zanele Mdodana – Hoofafrigter van Maties Netbal

Sy is dapper en moedig. Op én langs die netbalbane van die wêreld. As ’n ma. As ’n vrou.

Die naam Zanele Mdodana kon net sowel beteken: Moet nooit die stryd gewonne gee nie; moet nooit oorgee nie. As ’n speler was sy bekend as ’n verbete mededinger en as ’n afrigter is sy daarvoor bekend dat sy iets in spelers en spanne na vore bring wat niemand behalwe sy geweet en geglo het hulle het nie.

Vir baie was Zanele dalk nie die mees voor die hand liggende keuse as Maties Netbal se hoofafrigter nie, maar haar aanstelling in 2017 was ’n slim skuif. Sy is al op ’n missie vandat sy in Stellenbosch aangekom het.

“Ek wil ’n nalatenskap van uitnemendheid agterlaat. Ek wil bereik wat nog nie voorheen by Maties Netbal bereik is nie. Ek wil die standaard stel vir toekomstige generasies van afrigters by Maties Netbal,” sê Zanele.

In alles wat sy doen en besluit, is vrouwees voorop in haar gedagtes. Sy wil nie net die weg baan vir haar spelers en ander afrigters nie, maar vir vroue in die algemeen.

“Vrouemaand beteken ’n groter klem op vroue. Dit is ’n doelbewuste erkenning van wie ons is en dit beklemtoon die belangrike rol wat ons in die samelewing speel.”

Sy voeg heftig by: “Vroue in sport benodig meer erkenning. En ook gelykheid. Gelyke vergoeding en die professionalisering van ons sportsoorte. En die broodnodige aanvaarding dat Siya Kolisi en Bongi Msomi gelykes is … verskillend, maar gelyk.”

As ’n rolmodel vir baie jong meisies gee Zanele wyse raad: “Hou jou oë gevestig op jou doelwit. Jou drome is geldig. Moet nooit tou opgooi nie.”