Nathaly September – Hoofafrigter van Maties Basketbal se vrouespan

Maties Sport het in Augustus – wat in Suid-Afrika as Vrouemaand herdenk word – die geleentheid gebruik om van die buitengewone vroue, wat met durf en grasie ’n verskil maak in die lewe van ons studente-atlete en die universiteitsportomgewing, te vier.

Nathaly September – Hoofafrigter van Maties Basketbal se vrouespan

Sy is die eerste vroue-hoofafrigter van die hoëprestasie-sportkode Maties Basketbal en Nathaly September is meer as gereed om die standaard te stel vir generasies van toekomstige basketbal-vroueafrigters – by Maties en in Suid-Afrika.

Hoewel sy slegs sewe maande gelede aangestel is as die Maties Basketbal-vrouespan se hoofafrigter, het sy nie gras onder haar voete laat groei nie. Ondanks die feit dat daar vanweë Covid-19-beperkings nie baie geleentheid was om te speel nie, het Nathaly en Masie Ntali, die mans se afrigter, hard saam met die spanne gewerk om seker te maak dat Maties gereed sal wees wanneer hulle weer kan meeding.

“My doelwit by Maties is om die vrouespan na grootheid te lei. Om vir hulle te wys dat ons, as vroue, kan bereik wat ook al ons besluit. Dus, studeer hard en kry jou graad en wanneer jy moet, werk hard op die baan sodat ons kan bewys wat ons as Maties-vroue kan doen,” verduidelik Nathaly opgewonde.

Sy is al sedert 2010 by afrigting betrokke en met elke stap wat sy neem, fokus Nathaly nie net daarop om haarself as afrigter te verbeter nie, maar ook om die weg vir vroue-afrigters te baan.

“Ek glo gelykheid vir vroue in sport in steeds die grootste uitdaging. Veral wanneer ons praat van afrigting. Ons kan die werk net so goed soos ’n man doen. Om ’n vrou te wees, benadeel jou nie – of moet jou nie benadeel nie – wanneer jy ’n span afrig nie,” sê Nathaly.

Haar boodskap aan meisies wat sport beoefen is: “Dit is moeilik, maar met harde werk en toewyding kan jy (jou doelwitte) bereik. Maak seker jou lewe is gebalanseerd ten opsigte van studies en sport. Neem kennis van wat jou afrigter jou vandag leer. Eendag staan jy dalk in haar skoene, en dan is haar woorde dalk handig!”

Sy dink die ekstra klem wat in Augustus op vroue geplaas word, is belangrik.

“Dit beteken dat ons meer vroue kan bemagtig en dat vroue waardeer word.”

Nathaly glo dat ’n mens voluit moet leef en nooit ’n geleentheid moet laat verbygaan om jou potensiaal te bereik nie.

“Dit is waarop my motto in die lewe gegrond is: Daar is geen verwyte nie. Net lesse.”