Matie-legende Madi gee erkenning aan HP-program

Matie-legende Madi gee erkenning aan HP-program

Die Maties Sport-legende en internasionale waterpolo-speler Lwazi Madi – op pad na die Olimpiese Spele in Tokio – erken vrylik dat hy nie die speler sou wees wat hy vandag is as dit nie vir die Maties Sport Hoë Prestasie-program was nie.

“Die Maties Sport HP-program het my baie geleer,” het Madi, wat die afgelope sewe jaar by Maties is, gesê.

“Toe ek die eerste keer by die Universiteit Stellenbosch aankom, het ek nie veel van herstel of die belangrikheid van verskillende soorte oefeninge en voeding geweet nie. In die eerste jaar het ek soveel van myself geleer en gesien hoe ek ontwikkel as speler en individu. Ek sou nie die speler wees wat ek vandag is, as dit nie vir die Maties Sport HP-program was nie.”

Madi het in 2016 sy internasionale senior debuut gemaak. Hy speel sedert 2013 op internasionale vlak. Hy was toe deel was van die SA groep by die FINA o.20 Wêreld Junior Kampioenskapsbyeenkoms.

Die kans om na die mees gesogte sportbyeenkoms in die wêreld te gaan, is ’n kinderdroom wat vir die 26-jarige Madi bewaarheid is.

“Ek droom al van kindsbeen af oor die oomblik. Ek het vir ’n lang tydperk nooit gedink dat ek hierdie geleentheid sou kry nie. Die feit dat die oomblik uiteindelik aangebreek het, kan ek nie anders as om bevoorreg en geëerd te voel om te gaan nie. Ek kan eerlikwaar nie wag om met die beste in die wêreld mee te ding nie.

“Dit is ongelooflik om gekies te word. Dit het my gewys dat harde werk vrugte afwerp en dat jy altyd jou drome moet nastreef en hard moet werk aan jou doelstellings en ambisies.”

Om die Olimpiese Spele saam met ander Maties in sy span te beleef, is vir hom ekstra spesiaal. Spanmaats Cameron Laurenson, Jason Evezard en Ross Stone en die Maties se afrigter, Vaughn Marlow, is ook deel van die SA groep vir Japan.

“Om uit te vind dat sommige van die Maties-spelers die span gehaal het, sal die ervaring baie meer besonders maak. Ons het almal baie opgeoffer om te kom waar ons is, en dit is ongelooflik om hul groei en ontwikkeling die afgelope paar jaar te kon sien. Ek kan nie wag om die ervaring met hulle te deel nie. Dit is ook spesiaal omdat ons afrigter daar sal wees om ons deur die reis te lei.”

Hoewel geen toeskouers of toeriste-aktiwiteite tydens die eerste uitgestelde Olimpiese Spele moontlik sal wees nie, meen Madi dat die beperkings en protokolle van Covid-19 nie die impak van die ervaring op sy lewe sal verminder nie.

“Ek wil die hele atmosfeer van die Olimpiese Spele inneem en net my beste lewer vir Suid-Afrika. Die span het so lank en hard gewerk en al die spelers is opgewonde vir die geleentheid en ons hoop om so mededingend moontlik te wees teen die beste in die wêreld.”

Madi sê dat een van die belangrikste lesse wat hy geleer het, is om meer geduldig te wees wat vordering betref. Om elke geleentheid met albei hande aan te gryp, is ook belangrik, het Madi gesê.

“Dinge gebeur nie oornag nie; dit neem tyd om verbeteringe te sien, so hou aan om hard te werk en onthou waarvoor jy oefen. Ek het ook geleer om die geleenthede wat mens kry, optimaal te benut. Sedert ek by Maties gekom het, het ek gebruik gemaak van die baie hulpbronne wat aan my gebied is om my spel te verbeter en te ontwikkel, en ek is so gelukkig met die speler wat ek geword het.”