Maties e-sport floreer

Meer as 100 miljoen mense speel elke dag aanlynspeletjies, en tans speel meer mense e-sport as al die ander sportsoorte saam.

So sê Professor Mark Campbell, ’n senior lektor en Kursusdirekteur vir die MSc Sport, Oefening en Prestasiepsigologie in die Departement Liggaamlike Opvoeding en Sportwetenskap aan die Universiteit van Limerick. Hy het onlangs die Universiteit Stellenbosch (US) besoek om insigte oor Sportwetenskap navorsing in e-sport te deel.

Die US huisves tans 74 e-sport spelers, en die Maties e-sport-span het vanjaar sy titel by die jaarlikse Universiteit Sport Suid-Afrika (USSA), wat by die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley gehou is, suksesvol verdedig. Maties het eerste plekke in Rocket League, Clash Royale en die FIFA mans en vroue enkelspel-kategorieë behaal. Kayla du Plessis was die enigste vroue deelnemer wat Maties in die FIFA vroue kategorie verteenwoordig het. Maties se Rocket League-span het nie ’n enkele wedstryd verloor nie en ’n klinkende 27-0 sege behaal. Maties was ook baas in die Clash Royale-kompetisie. Vir die eerste keer het dié span ’n vroue-speler ingesluit.

Maties e-sport voorsien in beide mededingende spelers en dié wat dit net vir die pret doen, verduidelik Yaseen Gangat, Sportbestuurder van die Maties E-sportklub.

“Die talent wat ons hierdie jaar gevind het, het die klub ’n stewige grondslag gegee en ons is opgewonde om ons titel weer volgende jaar by die USSA-byeenkoms wat in Durban gehou word, te verdedig.”

Hy voeg by dat die klub se sukses grootliks te danke is aan sy inklusiewe omgewing, wat talentvolle spelers in staat stel om te floreer.

John Walenga was Maties se voorste speler by die USSA toernooi. Hy was die naaswenner in die FIFA-afdeling. Hy speel al vir meer as 12 jaar FIFA. “Ek speel FIFA omdat dit met my leefstyl ooreenstem. Ek is ’n groot sokker-ondersteuner, so dit is lekker om met die spelers te kan speel wat ek op TV sien.”

Walenga is sedert 2022 by Maties e-sport betrokke. “Ek hou van hoe vry en oop (e-sport) is. Ek speel gewoonlik FIFA in my vrye tyd, so om iets wat ek liefhet (as ’n sport) te kan doen, is spesiaal. E-sport-spelers benader elke wedstryd met dieselfde dissipline en toewyding as wat jy van tradisionele sportkodes sou verwag. Dit is ’n sport wat baie groei, met geleenthede vir winsgewende loopbane.”

Opleiding en dissipline

E-sport word geklassifiseer as ’n “denk-sport”, soos skaak, en dit word deur Mind Sports South Africa geadministreer. Op universiteitsvlak is e-sport in 2019 deur USSA as ’n erkende universiteitsport bekendgestel. FIFA, Clash Royale en Rocket League is die mees gespeelde speletjies op die vlak. Om die persepsie teë te werk dat e-sport “net speletjies” is en nie regte sport nie, sê Walenga dat die voorste mededingende spelers konsentrasie en fokus benodig, soms selfs meer as vir fisieke sportsoorte, aangesien toernooie dikwels baie lank duur.

Tydens sy onlangse praatjie by US, het Campbell verduidelik hoe Europa se eerste e-sport wetenskap navorsingslaboratorium in Lero by die Universiteit van Limerick gevind het – deur verskeie diagnostiese toetse – dat spelers voortreflike vaardighede het wanneer dit kom by beplanning, strategie, besluitneming en taakwisseling. Hierdie vaardighede word verbeter met gereelde oefening sowel as aanvullende fisieke oefening. Veranderlike opleiding help om spelers se tellings te verbeter, het Campbell opgemerk.

Kimara Singh, Media en Kommunikasiebestuurder: Maties Sport, sê dit neem “ure en ure” se oefening vir e-sport spelers om voor te berei om in die onderskeie gespesialiseerde speletjies mee te ding. Toernooie vind byna elke tweede naweek plaas en is ’n belangrike deel van die voorbereiding vir ’n groot geleentheid soos die USSA-kompetisie.

Walenga deel sy opleidingsregime: “Om voor te berei vir toernooie probeer ek om soveel oefenwedstryde as moontlik te speel, nuwe formasies en meganismes te probeer om vaardighede vir ’n skuif te vervolmaak.”

Daar is natuurlik ook ’n pretfaktor betrokke, aangesien e-sport een van die vinnigste groeiende sportsoorte wêreldwyd is, wat winsgewende geleenthede en aantreklike prysgeld bied. Maties e-sport speler Ethan Dysel is ’n mededingende speler vir Limitless, ’n professionele e-sportspan gebaseer in Amerika. Die span word as die voorste Rocket League-span in Afrika beskou, verduidelik Gangat, en is die enigste Afrika-span wat na die $45 miljoen Gamers8 geleentheid in Saoedi-Arabië genooi is.

“Dit is fantastiese nuus vir Maties E-sport omdat dit ander klublede sal inspireer en hulle die ware potensiaal van e-sport sal wys.” Soms neem Dysel elke twee weke aan ’n toernooi deel, en die prysgeld kan meer as $20 000 wees wat tussen agt spanne gedeel word.

Vroue en e-sport

Azola Sikisi sê sy het haar kinderjare deurgebring “deur ’n dosyn 50 sent-munte te mors” deur speletjies soos Pac-Man in haar buurt se informele speletjies winkel te speel. Dié “opleiding” het beslis vrugte afgewerp en sy is nou een van 20 vroue wat in die Maties e-sport-span speel. In teenstelling met die stereotipe dat slegs tienerseuns daarvan hou om te speel, het Campbell tydens sy praatjie opgemerk dat die gemiddelde ouderdom van spelers wêreldwyd meer as 34 is, met die geslagsverdeling wêreldwyd byna 50/50.

Sikisi merk op dat hoewel dit soms moeilik kan wees vir vroue-spelers om hul nis te vind, aangesien baie van die mees gevierde speletjies in e-sport geneig is om vir mans te voorsien, groei die vroue speelgemeenskap geleidelik.

Gangat stem saam en sê dat Maties vroeër vanjaar ’n FIFA- en Mortal Kombat-toernooi net vir vroue aangebied het. “Ons het baie meer werk om te doen om die vroulike speelgemeenskap by US te laat groei, maar dit is ’n goeie begin.”

Deur organisasies soos Mind Sports South Africa en die Confederation of African E-sports, baan Suid-Afrika ’n pad vir e-sport op die vasteland. As een van die mees suksesvolle universiteite in die e-sport arena, is die US ook in die finale beplanningsfases van ’n moderne e-sport sentrum wat op sy Stellenbosch kampus geleë sal wees. Daar word gehoop dat dié wêreldklas lokaal sal help om meer e-sport talent na die US te lok.

“Maties E-sport het ’n paar professionele spelers, insluitend Dysel en Ian Conradie wat erken word as van die beste Rocket League-spelers in Afrika. Ons is altyd op soek na die beste talent,” sê Gangat.

Deur Anel Lewis