Keagan sien uit na nuwe rol by Maties Sport

Maties Sport het onlangs vir Keagan van Aarde as die nuwe Senior Bestuurder: Hoë prestasie aangestel.

Van Aarde (27) het ’n BSc Sportwetenskap Honneurs: Sportprestasie-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy ken die binne werke van Maties Sport baie goed. Ná sy studies en tyd as student-atleet en Primaria by Huis Neethling, het hy sy internskap by die hoë prestasie-eenheid gedoen. Hy is toe aangestel as sportbestuurder vir krieket, atletiek en skaak.

Die Maties Sport-etos is deel van dié Paarliet se wese. Maties Sport het gaan sit en ’n paar belangrike vrae aan Van Aarde oor sy nuwe rol by die US gestel.

Neem ons deur jou reis van student-atleet tot senior bestuurder van HP by Universiteit Stellenbosch Maties Sport. Wat was van jou hoogtepunte?

My student-atleet reis het in 2014 by Maties Krieket begin waar ek deel van die HP-groep was. Dit het in Maart 2017 verander toe ek moes vra wat is die beste volgende stap vir Keagan. Ek het toe in September 2017 by Ryan Bailey se afrigtingspan aangesluit met die fokus op Varsity Sport- en USSA-toernooie in 2018. Terselfdertyd het ek my honneurs-graad voltooi. In 2019 het ek die eerste intern by die Maties Sport Hoë Prestasie-eenheid geword. In dié tyd het ’n onverwagse geleentheid oor my pad gekom toe ek gevra is om die waarnemende sportbestuurder vir krieket te wees. Die volgende jaar is Maties krieket- en skaakklub aan my toevertrou as voltydse sportbestuurder. Januarie 2022 het die atletiekklub deel van my portefeulje geword.

My top 4 hoogtepunte in hierdie tydperk sou beslis wees: 2018 USSA teen Tuks by Coetzenburg wat ons met twee lopies gewen het; 2022 Varsity Sport-kriekettoernooi, ek was spanbestuurder; 2023 USSA-netbaltoernooi, ek was spanbestuurder; op 22 November 2023 was ek die gasheer by die boekbespreking vir Caster Semenya.

Hoe voel jy oor jou nuwe aanstelling en wat is jou planne vir die eenheid?

Dié aanstelling sien ek nie as ’n gegewe nie. Ek is baie opgewonde oor die geleentheid om die eenheid te lei en te verseker dat ons die toonaangewende hoë prestasie-eenheid in Suid-Afrika word. Operasionele uitnemendheid is ons bydrae om te verseker dat Maties Sport op die podium bly en met akademiese sukses spog.

Waarna sien jy die meeste uit in jou nuwe rol?

Die uitdagings wat met die rol gepaard gaan, die individue met wie ek sal werk en ook om voort te bou op die sukses wat my voorgangers…in my eie styl.

Vertel ons meer oor jou rol in die vroue sportportefeulje. Hoe sal jy voortgaan om ons Maties vroue sportkodes en atlete op te hef? Wat is die planne vir die toekoms?

Sedert 2021 het ek die voorreg om die Maties Sport Vroue in Sport taakspan te lei wat aan die Hoofdirekteur se kantoor verslag doen. Die doel is om baie doelbewus te wees met vroue in sport vanuit ’n kode-perspektief, om atlete en afrigters te ondersteun om ons vroue in sport op ’n hoë prestasie-vlak te bevorder.