USSA titels vir Maties se rugby-, netbal- en hokkie-spanne

Maties Sport het verskeie titels by die 2023 USSA winter-byeenkoms gewen en ook handevol medaljes huis toe gebring. Maties se rugby-, hokkie- en netbalspanne het algehele seges behaal. Verskeie silwer- en bronsmedaljes is ook gewen.  

Netbal 

Maties het die Universiteit van Pretoria (UP-Tuks) in die eindstryd van die A-afdeling van die USSA-netbaltoernooi voor ’n stampvol Coetzenburg-sentrum geklop en sy USSA-titel suksesvol verdedig. 

Die besoekers het sterk begin, maar met puik verdedigende spel deur Maties-kaptein Syntiche Kabuya het Maties beheer geneem en met elke kwart hul voorsprong vergroot om uiteindelik met 49-42 te wen.  

Afrigter Zanele Mdodana se span het die afgelope twee jaar in vier eindstryde gespeel en drie daarvan gewen. Maties is nou in twee USSA-toernooi onoorwonne.  

Die volgende Maties-netbalspelers het toekennings ontvang: 

AFDELING A – Syntiche Kabuya: Beste verdediger; Sian Moore: Beste doel. 

AFDELING B – Carla Janse van Rensburg: Beste verdediger. 

Hokkie 

Beide die mans- en vrouehokkiespanne het Vrydag in die eindstryd van hul onderskeie toernooie in Afdeling A van die USSA-hokkietoernooi by Varsity Kollege in Durban gespeel. 

Vroue-eindstryd 

Maties het in die eindstryd van die USSA-hokkietoernooi teen NWU gespeel, met die hoop om onoorwonne te bly en ook hul titel suksesvol te verdedig. 

Maties het net voor rustyd die voortou geneem met ’n skitterende korthoekdoel van Daniella Mendes. Kaptein Ongeziwe Mali het dit 2-0 gemaak. Met die aanvang van die laaste kwart was die telling 2-1 en Maties het vasgebyt vir nóg ’n USSA-titel. 

By die prysuitdeling het Mali skoonskip gemaak met haar driekuns van toekennings. Sy is as speler van die eindstryd, speler van die toernooi en voorste doelskieter aangewys. 

 

Manseindstryd 

Die Maties se manspan het Tuks die stryd aangesê in ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd. 

Dit was ’n baie gelykop-stryd en teen rustyd was die telling steeds 0-0. Tuks het beheer van sake in die derde kwart geneem en met ’n blitskrieg van drie doele vorendag gekom. Maties het wel ’n doel aangeteken, maar dit was nie genoeg om die Pretorianers van stryk te bring nie. 

Die wedstryd het 4-1 in Tuks se guns geëindig. Brendan du Toit is vir sy goeie spel in die doelhok beloon en as doelwagter van die toernooi aangewys.  

 

Basketbal 

Maties se vrouespan het sy plek in die Afdeling B-eindstryd teen WSU verseker en gehoop om ’n eerste USSA-titel te wen. 

Die eerste kwart was baie gelykop, maar met die rustyd was WSU 33-28 voor. Maties het nie tou opgegooi nie en dit was ’n spannende kragmeting tot die einde. Die eindtelling was 54-53 in WSU se guns. Maties sal egter weer volgende jaar in Afdeling A speel danksy hul silwermedalje. 

Die manspan het in die sesde posisie in die A-afdeling geëindig. Twee Maties-spelers is ingesluit in die USSA-span en het All Star-toekennings in hul onderskeie afdelings ontvang. Hulle is Lutho Skweyiya (Mans A-afdeling) en Dineo Fanampe (Vroue B-afdeling). 

Muurbal 

Die USSA-muurbaltoernooi het in Johannesburg plaasgevind. Maties het vroeër die week drie medaljes in die individuele afdeling gewen. Imraan Haroon het goud in die B-afdeling vir mans gewen, Neil Henning het silwer in die C-afdeling vir mans gewen en Stephanie Jones het brons in die B-afdeling vir vroue verseker. 

In die spankompetisie het Maties die halfeindronde in beide die Afdeling A en Afdeling B gehaal. Die Maties-spanne het net-net verloor en het Vrydag uiteindelik die bronsmedaljes in albei afdelings gewen. 

Rugby 

Maties het die Universiteit van Johannesburg (UJ) die stryd aangesê in die eindstryd van die USSA-rugbytoernooi by IIE Varsity Kollege se Riverside-sportveld in Durban. 

Nadat hulle Tuks en NWU onderskeidelik in die kwart- en halfeindronde geklop het, het Maties gehoop om hul onoorwonne status te handhaaf. Die Noord- en Suid-kragmeting was in die eerste helfte hewig betwis, maar drieë deur Eric Basson en Louw Nel het Maties in beheer geplaas toe hulle ’n 5-punt voorsprong geneem het. Met die rustyd was die telling 12-7. 

Die Maroenmasjien het sy greep op die wedstryd verstewig en in die tweede helfte nog drie drieë gedruk om seker te maak van die sege. Luke Burger is as die speler van die wedstryd aangewys. Dit was Kabamba Floors se eerste titel as hoofafrigter van Maties Rugby. Die eindtelling was 32-19. 

Pluimbal 

Die USSA-pluimbaltoernoi het in Tuks se Rembrandt-saal plaasgevind en Maties het ’n dapper vertoning gelewer.  

Maties het die derde plek behaal deur die gasheer Tuks in die laaste wedstryd van die spankompetisie te klop. Die vroue-dubbelspelspan het tweede in die ope-kompetisie geëindig. Maties se vrouespan het drie bronsmedaljes (enkelspel, dubbelspel en gemengde dubbelspel) gewen en in die dubbelspel ook silwer gewen. 

Maties het goed gevaar in die A-afdeling vir vroue. Vier spelers het onder die voorste ses geëindig: Nina Swart (3de), Jada Freeman (4de), Surica Snyman (5de), Erna Sconeece (6de). 

Deur Kimara Singh