Kabamba Maties se nuwe afrigter

Uitgereik deur die Universiteit Stellenbosch 

Die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport is trots om Kabamba Floors as die Maties Rugby Senior Mans Hoofafrigter vir die volgende drie jaar aan te kondig. 

Floors het in 2016 by Maties aangesluit as die Young Guns-hulpafrigter. In 2019 is hy bevorder tot Young Guns-hoofafrigter en sy span het in die eerste jaar van sy ampstermyn die o.20-toernooi van die Varsitybeker-reeks gewen. Hy was in 2020 ’n hulpafrigter vir die Westelike Provinsie o.20-span en in 2021 die Curriebeker-span terwyl hy nog by Maties afgerig het. Hy het hom in 2022 by die bestuur van die senior eerste span van Maties aangesluit, en was in beheer van die voorspelers, sowel as die afbreekpunte en aanval. 

“Ek het die afgelope sewe jaar gegroei as afrigter vir die pos en dit is ’n groot voorreg. Ek sien uit na die harde werk en uitdagings by ons klub wat hoë standaarde stel in terme van sy waardes, kultuur en prestasie. Om met studente-atlete te werk, is nie maklik nie, maar danksy my ervaringe hier by Maties Rugby, het ek ’n duidelike begrip van wat dit verg om die studente-atlete te bestuur en hulle te help om die balans te vind tussen student en atleet wees. Aan my Maties Rugbykantoor-familie, ek is opgewonde oor die volgende hoofstuk as Maties Rugby se hoofafrigter.” 

Maties Sport se Direkteur van Rugby, Drikus Hancke voeg by: “Maties Sport en Maties Rugby is baie trots op die vordering wat Kabamba in sy afrigtersloopbaan gemaak het. Hy ken die strukture by Maties en wat dit verg om ’n goeie universiteitsafrigter te wees. Hy is ’n afgeronde afrigter met ’n breë kennis van die spel en het uiters goeie interpersoonlike vaardighede. Hy weet hoe om met studente te werk en hoe om die beste uit hulle te haal. Dit, tesame met dieselfde mededingende aard wat van hom ’n goeie speler gemaak het, het hom die uitstaande kandidaat gemaak. Ons is baie opgewonde om hom en die span te ondersteun terwyl hulle aan die USSA-toernooi en daarna die Westelike Provinsie-liga deelneem, voordat hulle met hul voorbereiding vir die Varsitybeker begin.” 

  •  Vir enige verdere inligting, skakel asseblief met Drikus Hancke by dhancke@sun.ac.za of 021808 4772