Vreeslose Petersen lei met voorbeeld

Maties-hokkiekaptein, Tevin Petersen skroom nie weg van kompetisie nie, hy het sy span na nog ’n USSA-halfeindstryd gelei en hoop om hul titel suksesvol te verdedig. 

Petersen is sedert sy laerskooldae ’n kranige sportman. Hy skryf sy liefde vir hokkie en sy keuse om dit te speel aan sy suster toe. “My liefde vir hokkie het gekom van die feit dat ek van kleins af voortdurend by hokkie-wedstryd was, aangesien my suster vir die Suid-Afrikaanse Skole- en SA o.21-spanne gespeel het. Haar prestasies het my inspireer om hoë doelwitte te stel,” vertel Petersen, wat met die USSA-toernooi sy span met voorbeeld gelei het. 

Die grootste les wat Petersen tot dusver in sy ontluikende loopbaan geleer het, is om nooit iets as vanselfsprekend te aanvaar nie. “Ek is al deur baie hoogte- en laagtepunte in hierdie sport. Elkeen het my gevorm tot die speler wat ek vandag is. Ek waardeer elke oomblik wat ek op die astro het, want ek weet dit is nie vir ewig nie.” 

In 2021 het Petersen ’n persoonlike beproewing deurgemaak toe sy ma oorlede is. Hy beskou haar steeds as sy grootste inspirasie. “Sy sal altyd wees. Die lewenslesse wat sy my geleer het en net die persoon wat sy vir diegene rondom haar was, het my nog altyd geïnspireer om ’n beter mens te wees in alles wat ek doen en altyd my beste te gee in wat ek ook al doen. Ek sal altyd poog om haar trots te maak.” 

Dit is duidelik dat Petersen besig is om sy sportoomblikke ten volle te geniet en sy oorlede ma daardeur te vereer. Maties is die verdedigende USSA-hokkiekampioene en hy hoop om hierdie sukses vanjaar weer te herhaal.  

“Ons is tans nog onoorwonne wat ’n goeie begin is tot die toernooi. Nou soek ons nóg drie seges. Ná afloop van die USSA-toernooi, sal die fokus wees om die Groot Uitdaagliga te wen,” sê Petersen. 

“Om by Maties te wees het werklik my lewe verander. Die geleenthede, die fasiliteite en die mense wat jy langs die pad ontmoet maak dit ’n ongelooflike ervaring. Dit is werklik ’n seën om in die Maties-stelsel te wees.”  

Petersen wat tans Internasionale Studies studeer, doen sy bes om ’n balans tussen sport en akademie te vind. Vir hom is dissipline en prioritisering belangrik. 

“Dit is nie altyd maklik om die balans te hou met die Stellenbosse sosiale lewe ook in die prentjie nie! Ek het egter geleer om dit wat vir my die belangrikste is te prioritiseer, want dit is ’n voorreg om ’n goeie opvoeding te hê en dit in so ’n ongelooflike sportomgewing.” 

Oor sy toekomsvooruitsigte erken Petersen dat hy graag hokkie op die hoogste vlak wil speel. “Ek sal daarvan hou om eendag deel te wees van die nasionale opset, maar ek weet dit is nie in my beheer nie so my enigste doelwit vir nou is om net elke dag beter te wees en my alles te gee vir watter span ek ook speel.” 

Deur Kimara Singh