LIGA GROEI STEEDS NA 75 JAAR

Die rugbykampusliga, ’n deel van die Universiteit Stellenbosch se DNS, het sy tentatiewe ontstaan in 1949 gehad.

Dok Craven het die idee gekry by St Andrew’s Kollege in Grahamstad (nou Mkhanda) waar hy in ’n stadium onderrig gegee het, en het dit oor die dekades gevorm tot ’n tradisie wat 75 jaar later nog met passievolle intensiteit voortleef.

Die doel was om vir spelers wat nie die topspanne gehaal het nie die geleentheid te gee om hul geliefde sport op mededingende vlak te kan speel. En wat ’n kompetisie het dit nie geword nie!

Die interkoshuisliga het met rukke en stote – en die bekendstelling van reëls om gevegte op die veld te voorkom – afgeskop en het teen 1955 behoorlik op dreef gekom met wedstryde wat op Vrydaemiddae plaasgevind het.

Meer en meer spanne het deur die jare aangesluit, en teen 1978 was die destydse Stellenbosch Rugby-/Voetbalklub die grootste klub in die wêreld, hoofsaaklik te danke aan die 1 000 spelers in die koshuisliga wat almal aan die klub moes behoort.

Kampusrugby, soos dit vandag bekendstaan, ontwikkel steeds deurlopend met ’n toename in ondersteuning deur spelers én ondersteuners. In 2024 het vrouespanne op die veld gedraf vir raakrugby en het amper 800 mansstudente aan die kampusliga deelgeneem.

Gemiddeld 1 500 toeskouers het die weer trotseer vir die mans se wedstryde, en sowel die derbydag as die finaal tussen Helderberg en Helshoogte het ongeveer 3 000 ondersteuners gelok.

In vanjaar se Kampusliga is 456 drieë, 260 doelskoppe en 57 strafskoppe aangeteken. Daar was ook 20 geelkaarte en drie rooikaarte – ’n bewys dat passievolle mededinging steeds ná al die jare heers …

“Dit was ’n lang seisoen met ’n nuwe kompetisieformaat, spanstruktuur en weeklikse toeskoueraanbiedings soos musiek, stalletjies en ’n biertent,” sê Drikus Hancke, hoof van rugby. “Ons het ’n toename in ondersteuning en spelergetalle en ’n afname in verbeurings en punteverskille beleef. Ons is opgewonde oor wat die volgende seisoen inhou.

“Baie dankie aan ons borg Adam Piper vir sy volgehoue ondersteuning van Kampusrugby en die #OnsSpeelAsEen-veldtog. Dankie ook aan SAB vir hul bydrae deur die loop van die jaar. Laaste maar nie die minste nie, baie dankie aan al die spanne, afrigters, spelers, ondersteuners, verskaffers en steundienspersoneel vir jul ondersteuning en toewyding tot Kampusrugby in 2024.”

Geluk aan vanjaar se wenners:

1e liga

Helderberg 1: Helderberg 19-17 Helshoogte

2e liga

Rubix Vikings 2: Rubix 28-12 Elsenburg

3e liga

Academia 2: Academia 12-7 Dagbreek

o.20-toernooi

Dagbreek o.20: Dagbreek 18-15 Elsenburg

10’e-toernooi

Huis Marais 10’e: Huis Marais 10-0 Elsenburg