Met net ’n paar dae oor voordat die 2024 Varsitynetbal-toernooi begin, stel Maties hul visier op ’n herhaling van hul sukses in 2022 toe hulle met die titel weggestap het. Die Maroenmasjien fokus ook daarop om beter te vaar as verlede jaar. Maties het toe in die halfeindstryd teen die uiteindelike wenners UP-Tuks verloor.
Afrigter Adele Zeelie het duidelike doelwitte vir die seisoen gestel en beklemtoon saam met die korttermyn-doelwitte is die finale doel om in die eindstryd te speel.
“Ek dink elke span wil ’n plek in die eindstryd verseker, maar ons het ook korttermyn-doelwitte gestel om daar te kom. Eerstens wil ons beter vaar as in die 2023-seisoen, en mik ons na ’n tuis-halfeindstryd.”
Die span se strategie fokus daarop om dit een wedstryd op ’n slag aan te pak en elke wedstryd as ’n geleentheid te gebruik om te leer en te verbeter.
“Dit is belangrik om een wedstryd en naweek op ’n slag te speel en die lesse en suksesse uit elke wedstryd te neem om week na week te verbeter. Ons het goeie voorbereiding gehad vir hierdie jaar se kompetisie. Ons het weer na ons oefensessies gekyk en dit anders gestruktureer om meer van die hoë-druk-situasies binne die 60 minute te inkorporeer,” het Zeelie vertel.
Maties spog vanjaar met ’n sterk span, veral as dit by die verdedigers kom waar Synthich Kabuya en Danielle van Nieuwenhuizen ’n formidabele kombinasie vorm. Boonop het die span opwindende nuwe talent wat hul debuut maak, insluitend Adri Carstens en Michelle van der Merwe.
“Hulle het die afgelope paar maande ongelooflik gegroei en is beslis spelers vir die toekoms,” merk Zeelie op en beklemtoon die potensiaal wat hierdie nuwelinge na die span bring.
Vanjaar sal Maties gelei word deur Van Nieuwenhuizen as kaptein, met Chrisley Marshall as die onder-kaptein. Van Nieuwenhuizen se leierskap op die baan, gekombineer met Marshall se ondersteuning, sal van kardinale belang wees soos die span die positiewe en teleurstellende oomblikke van die seisoen hanteer.
Die Varsitynetbal-toernooi dien as ’n belangrike platform om talent te wys en bied jong en opkomende spelers die ervaring wat hulle nodig het om op hoër vlakke uit te blink. Zeelie stem hiermee saam.
“Varsity Netbal is presies dit, ‘om talent ten toon te stel’. Dit is ’n wonderlike geleentheid vir jong en opkomende spelers om gewoond te raak aan die groot ligas, aangesien hulle dalk nog nie in die Telkom-netballiga gespeel het nie.”
Maties begin hul 2024 veldtog teen UJ op Sondag 1 September om 15:00. Vir volledige wedstryd bepalings, kliek HIER.
VOORLOPIGE SPAN: (onderhewig aan verandering)
Lisa Ingwersen, Michelle van der Merwe, Chrisley Marshall, Renezia Andrews, Shanidiné Bezuidenhout, Adri Carstens, Marne Abrahamse, Miriam Ndjadi, Danielle van Nieuwenhuizen, Lize Rossouw, Syniche Kabuya, Hannah Olivier, Hannah Kriel, Thabisa Yekani, Bianca Ondendaal, Lane Giliomee.
Deur Varsity Sports SA