Blitsige Ekeji terug met mening

Die belowende FNB Maties-vleuel Paschal Ekeji het ’n suksesvolle terugkeer na rugbyveld gemaak nadat hy weens ’n besering lank aan die verkeerde kant van die kalklyne was.

Die 21-jarige spoedvraat het tydens die 2022-seisoen in twee Curriebeker-wedstryde vir die Westelike Provinsie gespeel voordat hy ’n kniebesering opgedoen het wat hom meer as ’n jaar langs die kantlyn gehou het.

Maties se hoofafrigter, Kabamba Floors, sê Ekeji is ’n uiters talentvolle speler en dit sal ’n groot jammerte wees as hy vir die Westelike Provinsie rugby verlore is.

“Paschal is ’n goeie kind met ’n wonderlike ingesteldheid wat hier (by Maties) is sedert hy die skool verlaat het en by die WP junior strukture aangesluit het. Hy het ’n drie-jaar kontrak gehad, maar omdat hy verlede jaar nie gespeel het nie, is dit nie hernu nie. Ek dink WP maak ’n groot fout as hulle hom nie behou nie. Hy voltooi sy honneursgraad hierdie jaar. As hy nou skuif, sal ’n ander unie hom opraap.”

Ekeji is oorspronklik van Nigerië, maar het in Bloemfontein grootgeword waar hy ’n leerling by Grey Kollege was en vir Vrystaat in die Cravenweek gespeel het en ’n beurs by Universiteit Stellenbosch los gespeel het.

Paschal het ’n jonger broer, Pretorius Ekeji, wat tans in matriek by Grey Kollege is. Soos Paschal, is Pretorius ook ’n talentvolle vleuel wat verlede jaar reeds die Vrystaat by Cravenweek verteenwoordig het en bestem is om by Maties en WP junior strukture aan te sluit.

Floors het die Ekeji-broers met die dinamiese losvoorspelers Vincent en Emanuel Tshituka, wat eers naam gemaak het by die Leeus en nou na die Haaie geskuif het, vergelyk.

“Ons werk en ontwikkel hierdie spelers vanaf die ouderdom van 18 tot 23 in die Varsitybeker. Daarom dink ek dit sal wonderlik wees as die groot unies meer met die universiteite saamwerk om meer spelers soos hulle deur te bring,” sê Floors.

Deur Adnaand Mohammed

via varsitycup.co.za