Maties reg vir tweede Varsitybeker-toernooi vir vroue

Met die FNB Varsitybeker- en FNB Varsityskild-toernooie wat gereedmaak vir die uitspeelrondes, is ondersteuners angstig vir die begin van die Varsitybeker-toernooi vir vroue.  Die toernooi, wat op Vrydag 22 Maart begin, beloof om selfs meer opwindend te wees as die eerste seisoen in 2023.

As een van die vinnigste groeiende spansporte wêreldwyd, bly die Varsitybeker-kompetisie vir vroue die passie vir vrouerugby op universiteitsvlak in Suid-Afrika aanwakker. Hierdie seisoen beloof weer om vol aksie en onvergeetlike oomblikke te wees.

In ’n historiese oomblik verlede jaar het FNB Maties ’n meesterlike vertoning gelewer en ’n oortuigende 63-9 oorwinning teen FNB UJ in Kaapstad behaal. Met dié sege is Maties as die eerste kampioene ooit gekroon. Die standaard vir dié seisoen is dus baie hoog.

Maties se hoofafrigter, Johann Zeier, sê niemand het geweet wat om van die kompetisie verlede jaar te verwag nie, maar dit was wonderlik vir die ontwikkeling van die spel. Volgens Zeier het die bekendstelling van die Varsitybeker vir vroue gelei tot ’n toename in vroue wat rugby by universiteite en in die algemeen wil speel.

“Meer klubs is in die Wes-Kaap begin, so ek dink die Varsitybeker bied ’n baie goeie platform omdat dit beteken daar is nog ’n geleentheid vir spelers om na skool ook te speel. Dit is goed vir die groei van die spel en om dit meer blootstelling en erkenning te gee. Van ons spelers is verlede jaar na Springbok-kampe genooi. Bianca (Augustyn), wat verlede jaar vir ons gespeel het, het Suid-Afrika onlangs in die Vancouver-sewestoernooi verteenwoordig. Die Varsitybeker-toernooi is beslis ’n goeie platform vir spelers om hul hand vir hoër louere op te steek. Plaaslik het ons beslis ’n bietjie verandering gesien en hopelik groei dit soos die Varsitybeker vir die vroue uitbrei.”

Ná die sukses van die eerste toernooi, is die toernooi uitgebrei om nou ses spanne in te sluit. Met die insluiting van FNB UWK, FNB UP-Tuks, FNB UJ, FNB UKZN, en FNB UFH, kan ondersteuners verseker wees van ’n kompetisie in elke wedstryd.

Die formaat van die toernooi sal sien dat spanne in ’n groep-formaat meeding. Die openingswedstryd tussen die verdedigende kampioen en UKZN is op Vrydag 22 Maart om 14:00 by die Howard Kollege Stadion in Durban.

Aanhangers moet Vrydag 26 April op hul kalenders merk vir die eindstryd.

 

Bron: www.varsitycup.co.za