Hy is nederig en sagmoedig en daarom mag Matt Gray op die oog af dalk na ’n onwaarskynlike kaptein vir die Maties Rugby-span lyk. Maar dit is inderdaad die rol wat hy in vanjaar se FNB Varsitybeker-toernooi sal vertolk.
Gray is een van slegs ’n handjievol Engelssprekende kapteins in die span se meer as 100-jarige geskiedenis. Hy is ’n voormalige leerling van Rondebosch-seunskool in die suidelike voorstede van Kaapstad.
Dié slot staan 1,97 meter in sy skoene. En uitdagings is niks vreemd vir Gray nie. Op die ouderdom van ses het hy Hodgkin-limfoom oorkom en as 14-jarige het hy gesukkel met ’n seldsame outo-immuun versteuring wat sy bloed se vermoë om behoorlik te stol belemmer het. Ironies genoeg, sê hy, was dit dié gebeure wat hom voorberei het vir die lewe en rugby. “Ek het in die gimnasium begin oefen om myself weer sterk te maak en dit het my rugby baie gehelp.”
Hy het voortgegaan om in 2018 vir sy hoërskool se eerstespan te speel, en hy is geprys vir sy verdedigende en aanvallende vermoëns. Hy het ook die Spelers se Speler-toekenning ontvang. Gray het meer as 50 wedstryde vir dié span gespeel. Hy is deur Maties Rugby-afrigter Kabamba Floors, wat toe hoofafrigter vir die Young Guns was, genader om rugby vir die Stellenbosch Universiteit te speel. Gray erken dat SU nie die natuurlike keuse was nie, aangesien die meeste van sy skoolvriende gekies het om aan die Universiteit van Kaapstad te studeer, en sy ouers het aan Wits gestudeer. Maar hy het besluit om die sprong te neem omdat hy gehoor het dat SU die “plek is om te wees” as ’n student, en dit was ook die perfekte springplank vir ’n ontluikende rugbyloopbaan.
Die besluit om sy eie pad te volg het vrugte afgewerp en Gray, nou in sy finale jaar as ’n BSc in Landbouwetenskap-student en is kaptein van die Maties Rugby-span. Rugby was nog altyd ’n passie, sê hy. “As Suid-Afrikaners word ons groot met rugby. Maar dit was eers aan die einde van Graad 9 toe ek regtig begin sien het dat dit ’n realistiese loopbaan vir my is.”
As dit by rolmodelle in die Springbok-span kom, kyk Gray niks verder nie Pieter-Steph du Toit. Du Toit was in 2019 Wêreldrugby se Speler van die Jaar en verlede jaar was hy die speler van die wedstryd in die naelbyt-eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Nieu-Seeland. “Hy is alles wat ek in ’n speler wil wees. Soos hy, hou ek daarvan om ’n hardwerkende speler te wees.”
Om ’n span te lei was ’n “groot aanpassing” vir Gray, wat homself beskryf as ’n “stil ou in die kleedkamer en in die algemeen”. As ’n man van “min woorde”, sê hy, laat hy eerder ander wat meer stem het die leiding neem. “En dan tree ek in wanneer dit nodig is met ’n paar skerp woorde om die ouens aan die gang te kry.”
Sy leierskap is getoets met die openingswedstryd van die toernooi toe Maties op hul tuisveld – die Danie Craven-stadion – teen die verdedigende kampioene, FNB NWU Arende, vasgeval het. Ná dié ontnugterende nederlaag voor hul tuisskare, sê Gray dat hy sy span aangeraai het om net op die volgende taak te fokus. “Dit is maklik om negatief te raak na ’n nederlaag. Maar een ding waarin ons span goed is, is om terug te bons.” Die spanpraatjie het vrugte afgewerp, en Maties het sedertdien Ikeys op hul tuisveld 15-10 geklop en mees onlangs, Wits 23-12.
Terwyl hy gefokus is op die “volgende taak” om die Varsitybeker huis toe te bring, het Gray ook sy visier op ’n loopbaan in rugby. “Die Stormers sal wonderlik wees, maar ek is tevrede om by ’n kleiner rugbyunie te begin en van daar af op te bou.”
Op die langtermyn, wanneer rugby eendag nie meer ’n opsie is nie, sien hy homself in die landbousektor werk – en hopelik oor ’n paar jaar sy eie binnenshuise plaas te besit.
Deur Anel Lewis