Ontmoet akademiese presteerder én sportsensasie, Erin Powers

Afkomstig van Makhanda, voorheen bekend as Grahamstad, het 20-jarige Erin Powers van kleins af ’n passie vir sport. Sy is ’n voormalige leerling en hoofmeisie van die Diocesan School for Girls (DSG) in die Oos-Kaap. Powers het nog altyd in alles wat sy aanpak na uitnemendheid gestreef.

Tydens haar skooljare het Powers haar veelsydigheid gewys en uitgeblink in verskeie sportsoorte, insluitend muurbal, netbal en basketbal. Haar toewyding en talent is beloon met verskeie sporttoekennings, insluitend volle ere-kleure in muurbal, basketbal en netbal.

“Ek het grootgeword met sport; dit was nog altyd ’n groot deel van my lewe,” het Powers vertel.

Erin erken op skool het die meisies se basketbalspan gesukkel om gereeld mededingende wedstryde te speel. Die span se enigste uitweg was om teen seunspanne in hul liga te speel.

Toe sy hoor basketbal is ’n hoëprestasie-sport by Maties Sport, het sy die kans aangegryp om aan die proewe deel te neem. Sy is met ope arms verwelkom deur die Maties Basketbalspan en het vinnig ’n ondersteunende gemeenskap in die klub gevind.

Haar insluiting in die Maties Basketbalspan het tot ’n noemenswaardige prestasie gelei. Sy is gekies om aan die onlangse FIBA 2024 3×3 o.23-nasiesliga deel te neem. Die formaat van basketbal, geïnspireer deur straatbasketbal wat wêreldwyd gespeel word, is bekend vir sy vinnige tempo, met twee spanne van drie spelers wat op net die helfte van die baan die wedstryd speel.

As deel van die Suid-Afrikaanse span – wat uit vier lede bestaan – het Powers na Uganda gereis vir haar eerste smakie van internasionale basketbal. Die Suid-Afrikaanse span se prestasie het sy posisie in die FIBA-wêreldranglys verbeter.

“Ons was baie tevrede met die standaard van ons spel. Die resultate was nie heeltemal waarvoor ons voorberei en gespeel het nie, maar ons was baie mededingend teen van die beste lande in Afrika wat deel van die byeenkoms was,” het Powers vertel.

Die tweedejaarstudent in BA Politieke, Filosofiese en Ekonomiese Studies sê haar familie is haar grootste ondersteuners.

“Ek het ’n baie ondersteunende familie wat my in staat gestel het om al my passies na te jaag. Daar is ’n aanhaling wat sê: ‘As jy iets doen wat jy liefhet, sal jy nooit ’n dag in jou lewe werk nie.’ Vir my is dit beslis waar, want ek doen altyd iets waarvan ek hou, so dit voel nooit regtig soos werk nie, en dit is nie net vir sport nie, maar ook akademie.”

As sy terugkyk na haar oorgang van skool na universiteit, vertel Powers dat hoewel sy op skool ook haar sport en akademie moes balanseer, die aanpassing by universiteitslewe ’n heelwat groter leerkurwe was.

“Dit is jou verantwoordelikheid om gemotiveerd te bly, jou studies op datum te hou en gefokus te wees waar en wanneer nodig.”

Vir Powers was leierskap nog altyd ’n belangrike deel van haar lewe. Dit word weerspieël in haar rol as ondervoorsitter van die Maties Basketbalklub.

“Ek het nog altyd ’n sterk begeerte gehad om ander te help, stelsels te verbeter en by te dra waar ek kan. Leierskap gaan daaroor om op te staan en ’n verskil te maak, veral wanneer dit kom by die teruggee aan die gemeenskap. Ek gee opreg om oor my gemeenskap en voel ’n sterk verantwoordelikheid om die ondersteuning en geleenthede wat ek ontvang het, terug te gee.”

Met alles wat Powers reeds doen, slaag sy ook daarin om uit te blink as ’n beginner in die Maties Roeiklub. Sy het in 2023 by die klub aangesluit. Dit was aanvanklik vir haar ’n geleentheid om stoom af te blaas. Sy het egter haarself vinnig as deel van die kompeterende deel van die klub bevind. Sy was deel van Maties se USSA Roei B-span. Powers-hulle het hul eindstryd gewen. Dié prestasie beklemtoon haar merkwaardige toewyding en vermoë om verskeie verpligtinge te balanseer terwyl sy uitblink in haar sport.