Maties Hokkiespeler en 2023 Sportvrou van die Jaar, Ongeziwe Mali, se Olimpiese droom is bewaarheid toe sy vir die Suid-Afrikaans Olimpiese Spele groep gekies is.
Die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, is van 26 Julie tot 11 Augustus.
Die begin van Mali se hokkie-reis
Van ’n nederige begin in ’n klein woonbuurt genaamd Zwide in die Oos-Kaap, het Mali haar pad met hokkie begin stap op die ouderdom van 10. Mali deel ’n belangrike boodskap vir almal wat ’n loopbaan in sport wil begin: “Jou omgewing en agtergrond bepaal nie noodwendig jou toekoms nie, maar dit vorm wel wie jy as persoon is.”
Hoewel dit destyds onmoontlik gelyk het om hokkie of enige sport op ’n hoë vlak te speel, is sy nou ’n rolmodel vir die jonger geslag om net so groot te droom soos sy.
Mali, wat nog nooit voorheen die sport gespeel het of nasionale rolmodelle gehad het om na op te kyk nie, het aanvanklik nie ver in die toekoms gedink of gedroom om ’n provinsiale of nasionale span te haal nie. Haar toekoms het egter verander toe sy vir die Oos-Kaap se provinsiale hokkiespan gekies is en die jongste hokkiespeler (18) geword het om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Statebondspele wat in 2018 in Australië aangebied is. Met 30 wedstryde reeds agter haar naam, is sy geen vreemdeling vir die Groen-en-Goud nie. Na ’n tydperk in Amerika by James Madison Universiteit, het Mali teruggekeer na Suid-Afrika en aangesluit by die Stellenbosch Universiteit, waar sy tans besig is met ’n BA Onderwys-graad wat sy balanseer met haar sportverpligtinge.
In 2023 het Mali ’n uitsonderlike jaar gehad en verskeie individuele toekennings ontvang. Sy is aangewys as Maties Sport se Sportvrou van die Jaar. Met die Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) Hokkie-toernooi het sy en haar span die goue medalje gewen en sy het drie individuele toekennings – Speler van die Eindstryd, Voorste Doelskieter van die Toernooi en Speler van die Toernooi – ontvang.
Olimpiese droom bewaarheid
Mali beskryf die pad na die Olimpiese Spele as uitdagend, met oomblikke van twyfel en terugslae wat verband hou met fiksheid en keuring. Sy het egter op haar geloof en die ondersteuning van familie en vriende staatgemaak om vas te byt en nie op te gee nie. Nadat sy besef het dat fiksheid iets is wat binne haar beheer is, het sy haar daarop toegespits om haar toetsuitslae tot internasionale standaarde te verbeter. Sy onthou hoe sy tydens haar laaste toets ’n belangrike fiksheidsmylpaal bereik het (18.3 in ’n yoyo-toets), wat gehelp het om haar plek in die voorlopige vrouehokkiespan te verseker wat vir ’n kamp in Asië vir die Olimpiese Spele voorberei het.
Die 25-jarige het die geleentheid gekry om deel te wees van die oefenkamp van vyf weke in China en Indië, waar hulle altesaam 19 wedstryde gespeel het. “Dit was wonderlike om onder andere wedstryde teen ’n span soos Indië, vir hul status in wêreldhokkie, te speel as deel van ons voorbereiding vir Parys. Hulle het ’n ryk hokkie-geskiedenis, is so ’n wonderlike span en hulle speel in die Proliga. Dit was intense oefenwedstryde in 38°C hitte en hoë humiditeit,” het Mali vertel.
Sy was vasbeslote om haar alles te gee, wetende dat sy niks het om te verloor nie en dat sy net kon bewys waartoe sy in staat is om die Olimpiese span te haal.
Vir Mali het die leer van verskillende hokkie-style wat in China en Indië gespeel word, nie net haar voorbereiding vir die Olimpiese Spele verbeter nie, maar haar ook geleer om “terug te keer na die basiese beginsels”. Sy het haar plek in die Olimpiese span verseker deur haar vermoëns tydens die kamp te wys.
Sy was een van vyf ander voormalige Maties in die groep. “Dit is lekker om saam met voormalige Maties te oefen en ons is baie trots daarop om van dieselfde universiteit af te kom. Ons wil die naam van die universiteit en Maties Hokkie hoog hou by die Olimpiese Spele en dit is regtig iets wat ons nie as vanselfsprekend aanvaar nie,” het sy gesê.
Mali erken dat sy opgewonde en senuweeagtig was voor die aanvang van die Olimpiese Spele en sê dat die emosie nog nie heeltemal ingesink het nie. “Ek is regtig opgewonde en baie bly dat ek getrou was deur die reis en nooit opgegee het nie.”
As bewys van haar karakter en vasberadenheid, het Mali gedeel dat sy ’n Olimpiese Droom-lêer op Instagram het wat bestaan uit video’s en ander inspirerende materiaal. Op 28 Februarie 2024 het sy ’n lys doelwitte en gebede op haar foon neergeskryf, en bo-aan die lys het sy geskryf: Ek gaan na die Olimpiese Spele gevolg met aanmoedigings soos “Jy moet droom en jou drome manifesteer”. Haar self-motivering het ’n deurslaggewende rol gespeel om haar grootste droom te bewaarheid.
Haar raad aan jong opkomende sportlui wat hul sport passie wil nastreef, is steeds dieselfde raad wat sy in ’n 2018-onderhoud met Vaylen Kirtley op SABC gegee het: “Diep binne jou is daar ’n saad van grootsheid wat wag om te ontkiem. Elke speler het daardie saad binne hulle. Dit is daardie speler of persoon se verantwoordelikheid om daardie saad te koester of te laat groei sodat daar later in die lewe ’n pragtige blom kan wees. Ek glo dat as jy iets wil hê, gaan doen dit – jy het die wêreld aan jou voete.”
Uithouvermoë en Volharding
Mali dink terug aan die belangrikheid van uithouvermoë en deursettingsvermoë as ’n studentatleet. Sy waardeer ook die ondersteuningsisteem om haar en put krag uit haar familie en geloof. Sy het haar diep dank uitgespreek aan haar familie, veral haar ma, van wie sy sê sy haar krag kry, haar pa en haar suster. Sy het ook haar ooms, tannies en neefs bedank vir hul onwrikbare ondersteuning en die rol erken wat hierdie ondersteunende gemeenskap gespeel het in haar reis na die toppunt van sportprestasie.
Ons wens Ongeziwe Mali alle voorspoed toe in haar eerste Olimpiese Spele en hoop dat ’n Olimpiese medalje op die horison is vir haar en die Suid-Afrikaanse vrouehokkiespan!
Vir meer regstreekse aksie en besonderhede oor die Olimpiese Spele, volg hierdie skakel: https://olympics.com/en/paris-2024