Merke, gereed, laat 2026 begin!

Welkom by ’n nuwe jaar van sportuitnemendheid by Maties Sport! 2026 beloof ’n kalender propvol geleenthede vir al ons sportkodes en verseker dat daar iets is vir almal: vir studente-atlete om hul talent ten toon te stel; vir administratiewe, afrigting- en ondersteuningspersoneel om ons hoë standaarde te handhaaf; vir ons hooggeagte alumni om in verbinding te bly; en vir ons passievolle #MaroenMasjien-aanhangers. 

’n Jaar van trots, prestasie en gemeenskap 

Die hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, lei die maroenveldtog met vasberadenheid: “Welkom by ons uitgebreide Maties Sport-gemeenskap – en veral aan al die nuwelinge. Ons vertrou dat hulle ’n tuiste by die #MaroenMasjien sal vind.”

“Ons betree hierdie nuwe jaar ná ’n skouspelagtige 2025 waarin ons plaaslik, nasionaal en internasionaal uitgeblink het. Ons het groot mylpale gevier, soos die Maties-rugbyklub se 150e herdenking, en ons het in die algemeen aanskou wat Maties Sport spesiaal maak: konsekwentheid, veerkragtigheid en die ambisie om uit te blink. 

“Dit is ons passie om ons studente-atlete te koester. Jul dissipline en toegewydheid inspireer ons kampusgemeenskap en ander. Dit is nie maklik om ’n voltydse student te wees wat vyf dae ’n week lesings moet bywoon en dan nog voor en ná klasse moet oefen nie (of sewe dae ’n week as jy ’n hoëprestasie-atleet is). Julle is uitsonderlik, en ons waardeer julle. Weet dat Maties Sport se personeel en ondersteuningspanne alles moontlik sal doen om julle te ondersteun.” 

Maties Sport is daarvoor bekend dat ons medaljes en trofeë wen, maar ons belê ook in die breër sportgemeenskap – vir daardie studente wat net vir ontspanning wil deelneem, betrokke wil raak by gesonde aktiwiteite deur die aanbiedings van ons Rekreasie- en Aktiewe Leefstyl-eenheid, of as ’n vrywilliger wil deel word van die Maties Sport-gesin. Julle is welkom, nodig en word waardeer! 

Ons kalender vir die jaar dek alles. Dit begin met die verwelkomingsfees vir nuwelinge op 30 Januarie voordat elke klub met proewe en voorbereiding begin, van e-sport en skerm tot muurklim, pluimbal en al die hoëprestasiesportkodes. 

Internasionale geleenthede 

Twee geleenthede staan vanjaar uit: ons bied die Fédération Internationale du Sport Universitaire (FISU) se wêrelduniversiteitkampioenskap vir sewesrugby aan, en ons vier 100 jaar van Maties Netbal. Besoek https://www.fisu.net/events/2026-fisu-world-university-championship-rugby-sevens/ vir meer inligting oor die FISU Wêrelduniversiteitkampioenskap se seweskompetisie. 

FNB Varsitybeker 

Die FNB Varsitybeker-rugbykampioenskap, met sy gees en opwinding op Maandagaande in die Danie Craven-stadion, is die groot geleentheid wat tradisioneel ons aanhangerondersteuning in die jaar afskop. Dit is ’n ervaring wat jy nie moet misloop nie. Ons vrouerugbyspan beplan om vanjaar hul wennerstrofee te behou, en ons manspan is vasberade om hul trofee terug te wen! In hul 150e bestaansjaar in 2025 het Maties se rugbyspan die Varsitybeker-eindstryd gehaal, waar hulle ongelukkig teen die Universiteit van Kaapstad vasgeval het. 

Maties se eerste tuiswedstryd vind op 23 Februarie plaas, wanneer ons teen die Universiteit van Johannesburg speel, en ons vroue volg op 6 Maart met ’n wedstryd teen die Universiteit van die Vrystaat in die Danie Craven-stadion. Volg die Maties-rugbyklub op Facebook en Instagram om die wedstrydbepalings en spannuus te kry, en koop jou seisoenkaartjies hier: Maties 2026 Varsitybekerkaartjies  

Sportaktiwiteite 

Die Kampusrugbyliga skop in Maart die kampusligas af, saam met Kampussport se “Bumper Nights” – geleenthede waartydens koshuise en klusters mekaar uitdaag tydens sportfeeste onder spreiligte met musiek, verversings en ongeëwenaarde kampusenergie. 

Jy kan ook die volgende deur die loop van die jaar verwag: 

  • Maart: Kampusrugby en Kampussport se “Bumper Nights” – koshuis-/klustersportfeeste met musiek, sport en gemeenskapenergie. 
  • April: Varsitybeker-eindstryde – intense mededinging en vierings. 
  • Junie: Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) se winterkompetisies – nasionale kompetisies vir veelvuldige kodes. 
  • Augustus: Rugby-derbydag en Parasport-doelbaluitdaging – sportvermaakhoogtepunte. 
  • September: Varsity Netbal – vinnige, mededingende netbalaksie. 
  • Oktober: Toekenningseisoen – vier uitnemendheid oor al Maties se sportkodes heen. 
  • Desember: USSA se somerkompetisies – ’n viering van universiteitsport aan die einde van die jaar. 

 

Wees deel van die #MaroenMasjien 

Die sportaksie by Maties Sport hou nooit op nie – van die groot geleenthede wat ons aanbied tot ons ligakompetisies, kodekompetisies en die viering van ons graduandi aan die einde van die jaar. Wees deel van die #MaroenMasjien in 2026 om lewenslange herinneringe te skep, hetsy jy deelneem, help, kyk of aanmoedig – jou plek is hier! 

Bly in verbinding en raak betrokke!