MATIES RUGBY VARSITYBEKER 2026 – Baie op die spel vir Maties

Daar is baie op die spel in vanjaar se Varsitybeker-kompetisie wat op Maandag, 16 Februarie, begin en oor die bestek van twee maande sal plaasvind. 

Maties se vrouespan wil graag die trofee behou nadat hulle in 2025 as kampioene gekroon is, en Maties se manspan wil nie net die eindstryd haal nie, maar weer die trofee lig. 

Die mans begin hul veldtog met ’n wegwedstryd teen FNB UV Shimlas op 16 Februarie, en sal graag wil seëvier in hul eerste tuiswedstryd teen FNB UJ wanneer hulle op Maandag, 23 Februarie, die #MaroenMasjien-gees na die Danie Craven-stadion bring. Tuiswedstryde is belangrike geleenthede vir die studente van die Universiteit Stellenbosch – en ’n deurgangsrite vir eerstejaars om die entoesiastiese gees te ervaar van 18 000 lojale aanhangers wat ons spanne ondersteun. 

Die Maties Young Guns se veldtog begin op Maandag, 23 Februarie, met ’n wegwedstryd teen FNB NWU, en ons Maties-vrouespan se poging om die trofee te behou begin op Vrydag, 6 Maart, teen FNB UFH in die Danie Craven-stadion. 

Spelers omskep lesse in positiewe aksie 

“Verlede jaar was moeilik, maar vanjaar speel ons met ’n span waarvan 80% ervare spelers en 20% nuwe spelers is. Verlede jaar was dit 50/50. Dit beteken ons het ’n meer verenigde span, met meer spelers wat weet wat om te verwag, wat om te vermy, en om hoe lesse in positiewe aksie te omskep,” sê Kabamba Floors, Maties Rugby se hoofafrigter. 

“Ons benader hierdie jaar as ’n verenigde mag, met minder emosie wat betref eksterne verwagtings en met strategiese fokus om ons beste te gee as waardige kampioene.” 

Een van die uitdagings is dat Maties al vroeg in die kompetisie teen van die sterker spanne op hul tuisvelde moet speel. 

“Ons reis gelukkig goed en ons het volle vertroue in ons kaptein, Ezekiel Ngobeni, en onderkapteins MC van Heerden Smit en Luan Botha.” 

Aanpasbaarheid en doeltreffendheid sal Maties se vrouespan aandryf 

Volgens Aneesah Adams, die vrouespan se afrigter, wil hulle die span se standaard volhou en dominansie behou deur harde werk en eenheid. 

“Ons strategie is gebou rondom struktuur, aanpasbaarheid en doeltreffendheid,” sê Adams. Ons is toegerus om ’n span te wees wat wedstryde goed kan bestuur, by verskillende opposisiestyle kan aanpas, en goed kan vaar onder druk. Sonder om te veel weg te gee, fokus ons op duidelikheid ten opsigte van rolle, sterk besluitneming en konsekwentheid in ons stelsels.” 

Groepontwikkeling is belangrik vir die groep se prestasieroetemodel, en die groep sal na verwagting vanjaar nuwe spelers oplewer.  

“Nuwe spelers beteken mededinging, diepte en langtermynvolhoubaarheid vir ons program. Die omgewing is ontwerp om standaarde deur mededinging en prestasieverantwoordbaarheid aan te dryf. 

“Elke wedstryd sal ons beste verg. Maar die geleenthede is selfs nog groter: om die groep te laat groei, ons kultuur te versterk, en spelers te ontwikkel wat in hulself en die stelsel glo,” sê Adams. 

Young Guns wil hul spanwerk, dissipline en passie ten toon stel 

Die Matie Rugby-alumnus en voormalige Springbok Louis Koen sluit vanjaar by Maties Rugby aan as die Young Guns se afrigter. Om te wen is natuurlik die topprys, maar Koen wil ook hê die spelers moet “verlief raak op rugby, bly rugby speel, en herinneringe skep wat hulle vir altyd sal bybly”. 

“Ek is beïndruk deur die karakter en werketiek van hierdie mans. Ek glo dat hul kaptein en leierskapgroep baie bydra tot hul program en ek is opgewonde oor hoe die seniors en leiers die optrede en omgewing gedryf het. Rugby is ’n plek waar die span belangriker is as die individu en om dit reg te kry, verg ’n spesiale groep mans. Ek glo ons het goeie vordering na daardie doelwit gemaak.” 

Die Young Guns verskaf ’n platform vir nuwelinge om hul talent te wys en te bevorder. Die Young Guns-span het vanjaar egter ’n kerngroep spelers wat in hul tweede jaar is, wat waardevolle ondersteuning aan die nuwelinge sal bied. 

“Ons is geseënd om ’n ongelooflike ondersteuningstruktuur te hê in ons hoof van rugby en die administratiewe kantoor van die klub. Ons fasiliteite en mense is wêreldklas. Ons het ’n fantastiese geleentheid om diegene te verteenwoordig wat die trui voor ons gedra het, en om ons stempel op meer as 150 jaar se tradisie en opofferings af te druk,” sê Koen.

Varsitybeker 2026-tuiswedstrydbepalings – jou kans om op die pawiljoen te wees 

FNB Maties Mans: 

23 Feb. – FNB Maties vs. FNB UJ 

9 Mrt. – FNB Maties vs. FNB Emeris 

23 Mrt. – FNB Maties vs. FNB NWU Arende 

FNB Maties Vroue: 

6 Mrt. – FNB Maties vs. FNB UFH 

20 Mrt. – FNB Maties vs. FNB UWK 

27 Mrt. – FNB Maties vs. FNB UJ 

FNB Maties Young Guns:  

16 Mrt. – FNB Maties vs. FNB NWU  

23 Mrt. – FNB Maties vs. FNB UP-Tuks 

30 Mrt. – FNB Maties vs. FNB UCT 

Kaartjies is in ’n verskeidenheid pakkette beskikbaar. Maak gereed om jou kaartjie in die Danie Craven-stadion te kry om ons #MaroenMasjien te ondersteun. Kry jou kaartjies hier