Kimara wil Maties Sport Media na volgende vlak neem

Sy het reeds ’n passie vir universiteitsport, kombineer dit met die aantrekkingskrag om vir ’n instelling soos die Universiteit Stellenbosch te werk, en dit is geen wonder dat Kimara Singh nie twee keer gedink het nie om die geleentheid aan te gryp om Maties Sport se nuwe media- en kommunikasiebestuurder te wees.

Singh is die afgelope paar jaar reeds betrokke by universiteitsport, so sy weet alles van Maties op die veld. Nou wil sy Maties ook weg van die veld leer ken.

“Ek het die pos by Maties Sport aanvaar omdat ek geweet het dat dit vir my ’n uitdaging sou wees waar ek my media- en kommunikasievaardighede in die universiteitsportveld tot ’n nuwe vlak kan neem. Ek het reeds sedert my dae as voorgraadse student ’n passie vir universiteitsport. Een van die grootste faktore vir my was die handelsmerk van Maties en die trek wat Maties het. Ek glo ook dat om deel te wees van ’n omgewing soos dié persoonlike groei moontlik sal maak – nie net in terme van die dekking van hoëprestasie-sportkodes nie, maar ook die mededingende en RALU-kodes aan die universiteit,” het Singh gesê.

Al is sy in die diepkant ingegooi, maak dit Singh nie bang nie. Ofskoon sommige USSA-byeenkomste reeds datums het om plaas te vind en die Varsitybeker-toernooi met sukses aangebied is, is die universiteitsportomgewing – net soos die nasionale en internasionale omgewing – nog steeds ’n onseker plek. Vir Singh dra dit by tot die uitdaging en een waarvoor sy gereed is.

“Tans is dit my grootste uitdaging om aan te pas by die manier waarop Covid-19 ons universiteitsportruimte beïnvloed het. Ek dink dit sal ’n rukkie neem om daaraan gewoond te raak, maar ek weet dat ek sal kan aanpas en my uiterste bes sal doen om die Maties Sport-handelsmerk uit te beeld in ’n lig wat ons visie uit te beeld, een van om ’n toonaangewende universiteit te wees wat bydra tot ’n holistiese en uiteenlopende ervaring deur die krag van sport.”

Singh het ’n Meestersgraad (Mediastudie) aan die Universiteit van Limpopo en ’n BA in Joernalistiek aan die Rhodes Universiteit. Haar ervaring sluit in dat sy sedert 2018 as vryskut-sportskrywer vir FISU gewerk het en van September 2018 tot Desember 2019 die Universiteit van Johannesburg se kommunikasie- en bemarkingskoördineerder was.

Dit is minder as ’n week, maar Singh het reeds ingespring en tyd gemaak om haar nuwe kollegas te ontmoet, en sy is baie opgewonde met die vooruitsig om die Maties-studente-atlete te leer ken en hulle so gou as moontlik in aksie te sien!

“Ek weet dat ek deur hierdie verhoudings my werk nog beter sal kan doen, maar uiteindelik is ek baie opgewonde oor die feit dat ek weer prakties kan wees en onmiddellik weer by sport betrokke kan raak. Die afgelope jaar was dit moeilik met byna geen regstreekse sport. Niks maak my meer opgewonde as die vooruitsig van kompetisie en die gees van ons verskillende Varsity Sport en USSA-toernooie nie; daar is werklik geen ander atmosfeer soos dit nie.”