Die Universiteit Stellenbosch, Paul Roos Gimnasium en Remgro stel wêreldklas binnenshuise krieketfasiliteit bekend

Die Universiteit Stellenbosch (US), Paul Roos Gimnasium (PRG) en Remgro het `n selfonderhoudende binnenshuise krieketfasiliteit op die skool se terrein, aangrensend aan die hoofkrieketveld ontwikkel. Die nuwe binnenshuise krieketfasiliteit is onlangs teen ‘n beraamde koste van nagenoeg R15 miljoen voltooi en sal deur alle betrokke partye gebruik word.

Die fasiliteit spog met verskillende krieketnette, een wat draaibalboulspesifiek is, drie vir naatboulers, en twee met boulmasjiene asook `n konferensiekamer, kombuis en kleedkamer.

Prof. Stan du Plessis, Bedryfshoof van die US, het aangevoer dat befondsing van Remgro, US en Paul Roos Gimnasium hierdie ooreenkoms moontlik gemaak het en dat die US opgewonde is oor die rol wat hierdie fasiliteit sal speel om die gehalte van krieket in Stellenbosch te verhoog.

Volgens André van Staden, rektor van Paul Roos Gimnasium, is hy opgewonde oor die ontwikkeling van binnenshuise krieketfasiliteit, wat baie waarde tot die skool se krieketprogram sal toevoeg en sien die skool daarna uit om in vennootskap met die US en Remgro te werk om ’n fasiliteit daar te stel wat studente en die breër Stellenbosch-gemeenskap kan benut.

Volgens Rob Benadie, Hoof Uitvoerende Beampte van Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS), sal hierdie projek Stellenbosch se reputasie verder verbeter as `n sportbestemming wat voorsiening maak vir ’n groot verskeidenheid sportkodes.

Skakel met Karien Winter (Paul Roos Gimnasium) by kwinter@paulroos.co.za of 0823951781 of met Kimara Singh (Maties Sport) by kimaras@sun.ac.za of 0732357459 vir meer inligting.