Langafstandhardlooplegende Paul Tergat besoek Stellenbosch

Paul Tergat was baie opgewonde om ná 26 jaar terug te wees in Stellenbosch en het goeie herinneringe aan die dae toe hy die 1996 IAAF Wêreldlandloopkampioenskap hier gewen het.

Hoewel hy tot aan die einde van die wedloop nie seker was dat hy sou wen nie, het hy uiteindelik die 12,15 km-roete wat in die Danie Craven-stadion geëindig het 12 sekondes vinniger as sy naaste teenstander voltooi. Volgens hom was om die wedloop in Suid-Afrika te wen, soos om “by die huis” te wen.

“Ek het die geleentheid gehad om die voormalige president Nelson Mandela se hand te skud, en dit het meer vir my beteken as selfs die medalje. Dit is iets wat ek huis toe geneem het en wat ’n herinnering geword het vir my.”

Tergat het tussen 1995 en 1999 vyf landloopkampioenskaptitels gewen. Hy het in 1996 ook sy Olimpiese debuut by die somerspele in Atlanta gemaak, waar hy ’n silwer medalje in die 10 000 m gewen het. Haile Gebrselassie het goud gewen. In 2005 het dié Keniaanse langafstandster die New York-marathon gewen.

’n Kwarteeu na sy tweede landloopoorwinning, het Tergat teruggekeer na Stellenbosch. Hy dink terug aan die tyd toe Suid-Afrika nog besig was om te ontwikkel in ’n nuwe demokrasie.

“Ons was nie seker hoe die wedlooproete sou lyk nie, maar ons was opgewonde dat Suid-Afrika uiteindelik deel geword het van die internasionale gemeenskap en geleenthede kon aanbied.”

Die demokratiese oorgang het twee jaar vantevore plaasgevind en Suid-Afrika is weer toegelaat om aan internasionale sportgeleenthede deel te neem en internasionale sportgeleenthede aan te bied.

Tergat het na Stellenbosch teruggekeer, nie as ’n atleet nie, maar as ’n besigheidsman in die sportbedryf. Hy het kom ondersoek instel oor toekomstige geleenthede om met Maties saam te werk en kennis uit te ruil.

As ’n besigheidsman dien Tergat op die raad van verskeie opvoedkundige instellings in Kenia en help hy ook om sportgeleenthede te organiseer deur sy sportbemarkingsmaatskappy Fine Touch Communications. 

Hy is ’n besigheidsman, ’n filantroop wat sy land dien, ’n legende en een van die beste langafstandhardlopers ooit.