Maties-krieketspeler Khanya Dilima maak sy debuut vir Gbet Rocks

Khanya Dilima, ’n honneurstudent in internasionale betrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch (US), is ná ’n baie suksesvolle vier jaar by Maties Sport vir die GBet Rocks-krieketspan gekies.

Dilima het as kind aan verskillende sportsoorte deelgeneem, maar was altyd baie lief vir krieket. 

“Toe ek in graad 7 was, het ek begin om krieket en sokker te speel. Ek was mal oor krieket en het dit geniet om in ’n goeie krieketspan te speel. Die stelsel was goed vir my om as ’n krieketspeler te ontwikkel.”

In later jare is hy deur Maties Sport genader om ’n studente-atleet te word.

Die 22-jarige het sy debuut vir Gbet Rocks gemaak en verwys na Jacques Kallis en Hardick Pandaya as sy rolmodelle.

Dilima is deel van Maties Sport se Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid) wat hulself daarop toespits om die sporttalent van studente-atlete te ontwikkel deur bewysgegronde intervensieprogramme en professionele dienste te lewer. Die HP-eenheid staan sportsterre by deur akademiese steun te bied aan studente-atlete wat op nasionale en internasionale vlak deelneem, sodat hulle hul akademiese doelwitte kan bereik terwyl hulle aan die eise van hul oefenprogramme en -regimes voldoen.

“Khanya Dilima is ’n voorbeeld van alles waarvoor Maties Krieket en die Hoëprestasieprogram staan: die deursettingsvermoë, vasberadenheid, hoogte- en laagtepunte, en opofferings wat deel is van die reis om ’n professionele krieketspeler met ’n graad te word. Die werketiek wat hy oor vier jaar gewys het, is onvergelykbaar, en hy verdien al die eerbetone wat hy ontvang,” het Maties Krieket se hoofafrigter, Ryan Bailey, gesê.

Grant van Velden, die krag- en kondisioneringsafrigter, beskryf sy eerste indruk van Dilima as ’n “lang en maer” kind. Maar Dilima se werketiek het sy persepsie verander; hy was óf besig om hard te oefen in die gimnasium óf om die span te lei gedurende kondisioneringsessies. Hy wou altyd sy krieketvaardighede verbeter deur direk by die afrigters en sy spanmaats te leer.

“Om Khanya sy debuut vir die Gbet Rocks te sien maak, is een van die hoogtepunte van my loopbaan. Dit bewys dat as jy hard werk, die klein dinge op en weg van die veld deurlopend goed doen, en ’n fantastiese persoon is, dit kan lei tot sukses as jy daarby hou en die proses vertrou. Ek is baie trots op hom en wens hom alles van die beste toe vir die res van die krieketseisoen,” het Van Velden bygevoeg.

Dié regterhandse bouler het die geleentheid gehad om die laaste boulbeurt van die beurt in die Varsity Sports-kriekethalfeindstryd teen NWU-Pukke te boul.

“Dit was ’n ongelooflike halfeindstryd – en vir my was dit die geboorte van die bouler/speler en leier wat ons vandag ken,” het Van Velden bygevoeg.

Volgens Maties Krieket se bestuurder, Keagan van Aarde, is Dilima se vasberadenheid om ’n suksesvolle krieketspeler te word ’n inspirasie vir Maties Krieket op verskeie vlakke, onder meer sosio-ekonomies en strategies.

“As ’n klubbestuurder hoop ek dat daar iewers ’n jong, swart krieketspeler is wat geïnspireer en gemotiveer word om die volgende suksesvolle studente-atleet te word, ongeag sosio-ekonomiese faktore en agtergrond.”