Baloyi floreer as Maties Sokker-afrigter

Jabulile Baloyi, die hoofafrigter van Maties Sokker se vrouespan, is opgewonde oor die vooruitsig om ’n sterk spaneenheid te bou en vrouesokkerspelers wat in Stellenbosch gebaseer is, op te hef. 

Baloyi, wat in November verlede jaar by Maties Sport aangestel is, het baie ervaring met veral vrouesokker, aangesien sy Suid-Afrika se o.20-span asook Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) se span by die KUKSA Spele in Botswana (2018) en die Wêrelduniversiteitespele in Taipei (2017) en Napels (2019) afgerig het.

Haar ervaring in sport op universiteitsvlak, wat sy opgedoen het terwyl sy by die Universiteit van Johannesburg gewerk het, is tot Maties Sport se voordeel aangesien sy verstaan hoe universiteitspanne werk en speel. Die vrouespan sal by haar kennis van die spel op plaaslike en internasionale vlak baat in hul strewe om hul vaardighede uit te brei en hoër hoogtes te bereik.

“Ek is dankbaar én opgewonde om by die Maties Sport-familie aan te sluit, veral op hierdie tydstip met die opwindende vennootskap tussen Maties en Stellenbosch FC, en wil vrouesokker bevorder. Die doel is om onsself as ’n span te bewys, oorwinnings te behaal en ons uitslae positief te verbeter. My uiteindelike doelwit is om ’n span te vestig wat mededingend is en ’n wenmentaliteit het.”

Hierdie aanstelling sal ’n goeie rimpeluitwerking op Maties se vrouespan hê en, meer belangrik, die spelers van goeie leiding voorsien terwyl die Universiteit poog om sy studente-atlete in hul onderskeie sportkodes te bemagtig. Baloyi en haar span hoop om in die toekoms meer vrouesokkerspelers van gehalte in die Wes-Kaap-streek te ontwikkel en ’n omgewing te skep waarin vrouesokker kan floreer.

Mnr. Jerry Laka, Direkteur: Steundienste by Maties Sport, het hierdie hoop beaam: “Daar is ander sportkodes wat ons in die afgelope tyd ontwikkel het, en nou het ons ook in sokker belê. Dit bied aan ons studente en die omliggende gemeenskap ’n geleentheid vir sokkerontwikkeling.” 

Die orige paar wedstryde in verlede jaar se seisoen het vir Baloyi die ideale geleentheid gebied om die aspekte wat aandag nodig het, te identifiseer, soos die span werk om hul ambisies te verwesentlik.

“Ons moet ’n basis van spelers vestig wat ons kan lok en die spelers behou wat ons het. Dit wil sê, ons wil hê hulle moet vir die volgende twee seisoene betrokke bly sodat ons kan sien met watter span ons vorendag kan kom om deel te neem,” sê die ervare Maties-afrigter.

Die aanstelling van ’n afrigter wat op die hoogste vlak meegeding het, is ’n skuif in die regte rigting vir Maties, aangesien dit duidelik is dat daar ’n belangstelling is om vrouesokker in Suid-Afrika te laat groei en ontwikkel. Ons wens Baloyi alles van die beste toe en hoop haar span sal suksesvol wees in die jare wat voorlê.

By Kimara Singh