Sokker in Stellenbosch baat by MvV tussen US en SAS

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) het op 11 Oktober ’n memorandum van verstandhouding (MvV) onderteken wat samewerking tussen hierdie twee entiteite tot 2029 bewerkstellig.

Sokker is ’n baie belangrike sport in ons land. Dit is die mense se sport – niks verenig of verdeel die nasie soos sokker nie. Die US en Stellenbosch Sokkerklub (SFC) se verhouding het in 2018 begin toe die klub nog in die Nasionale Eerste Afdeling-liga gespeel het (nou bekend as die Glad Africa-kampioenskap). Die klub is in Mei die volgende jaar na die Premiersokkerliga (PSL) bevorder. Die sportryke universiteitsdorp van Stellenbosch het oornag ’n professionele sokkerspan wat op die hoogste vlak meeding by sy reeds indrukwekkende sportbates gevoeg.

SFC het die afgelope drie jaar aanhou verbeter en een bewys hiervan is dat die span hul afgelope 10 wedstryde in die PSL gewen het. Selfs toe die wêreld weens COVID-19 tot ’n stillstand gekom het, het SFC op 25 Oktober 2020 die eerste amptelike sokkerwedstryd in die Danie Craven-stadion gespeel, wat van nou af hul tuiste sal wees. Besprekings tussen belanghebbers het begin met die doel om ’n sterk verhouding te bou wat sokker in Stellenbosch sal bevoordeel, en dit het gelei tot die MvV-ooreenkoms wat onderteken is.

Die vennootskap sluit in dat SFC die Universiteit se Lentelus-kompleks vir drie seisoene (2022/2023) vir oefendoeleindes sal gebruik, en die Danie Craven-stadion vir nege seisoene (2028/2029) vir PSL-wedstryde sal gebruik. Hierdie reëling tree van die begin van die 2021/2022-seisoen af in werking. Die MvV sit ook planne uiteen om die gehalte van sokker by die Universiteit en in die groter Wynlande-gemeenskap te verhoog met ’n fokus op jeugopleidingsessies en werksessies.

Die munisipale bestuurder van Stellenbosch, Geraldine Mettler, is verheug oor die toekomsplanne te danke aan die ooreenkoms tussen die US en SAS.

“Hierdie vennootskap is ongelooflik belangrik vir die gemeenskap van Stellenbosch en sy toekomstige impak kan verreikend wees, veral vir jong sokkerspelers,” het sy gesê.

Lee Langeveldt, SFC se doelwagter, het beklemtoon dat dit ’n ongelooflike moeilike reis was om ’n professionele sokkerspeler te word, aangesien hy sy ouerhuis op 15 moes verlaat om sy droom na te volg. Hy gesê hy dink dit is wonderlik dat daar nou twee plaaslike sokkerklubs is – SFC én Maties Sokkerklub – waarna spelers kan streef om by aan te sluit.

“Ek het nie daardie opsie gehad toe ek jonger was nie en ek is baie dankbaar teenoor alle partye dat hierdie ooreenkoms nou gesluit is.”

Prof. Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, het by die geleentheid gesê dat sport die unieke vermoë het om mense byeen te bring en sosiale kohesie te skep.

“Dit is presies wat die MvV tussen die US en die Stellenbosch Akademie vir Sport wil doen. Sokker is die grootste globale sport en om ’n platform in Stellenbosch te skep om loopbaangeleenthede vir talentvolle jong spelers te skep, sal ’n positiewe impak op die universiteitsgemeenskap, ons dorp en die Wes-Kaap hê.”

Die hoof- uitvoerende beampte (HUB) van SAS en SFC, mnr. Rob Benadie, het die volgende bygevoeg: “Ons klub se strategiese plan is versnel met ons onmiddellike bevordering tot die PSL in 2019. Gelukkig is ons geleë in ’n dorp met ’n ryk sporterfenis en werk die Universiteit en ander belangrike belanghebbers saam met ons om voortdurende groei te verseker. Dit is ongelooflik om te sien hoe opgewonde die dorp is oor die SFC-handelsmerk en die vooruitsig om ’n tuisbasis by die ikoniese Danie Craven-stadion te vestig.

“Ons hoop om by te dra tot die ongelooflike geskiedenis wat Maties Rugby by hierdie stadion geskep het, en steeds skep. Die klub bedank mnre. Rupert en Durand van Remgro en prof. Stan du Plessis en sy uitvoerende personeel by die Universiteit dat hulle hierdie droom ’n werklikheid gemaak het. Ek is vol vertroue dat hierdie vennootskap ’n baie opwindende en suksesvolle reis sal wees en dat meer as net sokker daarby sal baat.”