Maties Sokker maak geskiedenis

Maties Sokker se bevordering tot die ABC Motsepe-liga is al jare lank in wording.

“Dit is ’n reuse-stap vir Maties Sokker en vir die sport in die groter Stellenbosch-omgewing. Die nuwe ervaring sal ons horisonne baie verbreed! As ’n eenheid kan ons net baat by hierdie bevordering. Dit sal ’n fantastiese atmosfeer by ons tuisveld, Lentelus, skep. Dit sal Lentelus ook die spil van sokkeraktiwiteit in Stellenbosch maak,” sê Desmond Crowie, Maties Sokker se hoofafrigter.

Die ABC Motsepe-liga is die huidige tweede afdeling en die derde vlak van sokker in Suid-Afrika. Altesaam 144 spanne neem aan die kompetisie deel, verdeel in nege afdelings volgens die nege provinsies van Suid-Afrika.

Elke provinsiale afdeling bestaan uit 16 spanne en die wenner van die provinsiale kompetisie kwalifiseer vir die jaarlikse bevorderingsuitspeelwedstryde. Daar word die spanne in twee strome verdeel en word die wenners van elke stroom na die Eerste Nasionale Afdeling bevorder.

“Die drie komponente van ons sfeer kan almal by ons bevordering baat. Eerstens kry die studente-atlete wat deel is van die hoëprestasieprogram en wat vir die oefengroep gekies word, die geleentheid om teen sterker mededingers te speel. Die spelers verbeter dan as individue en die span berei beter voor vir die Universiteitesport Suid-Afrika- (USSA-) kompetisie.

“Tweedens kan talentvolle spelers uit die gemeenskap hul Godgegewe talente op ’n groter verhoog ten toon stel – die hele Wes-Kaap kan dit sien. Dit kan die holistiese ontwikkeling van die persoon net verbeter.

“Laastens kan ons vennootskap met Stellenbosch Sokkerklub (SFC) groei omdat spelers wat aan hul DStv Diski Uitdaging (o.21-toernooi vir Premiersokkerliga-spanne) deelneem, by ons klub gevoeg kan word om in ’n meer mededingende liga te speel. Spelerontwikkeling kan só bevorder en versnel word.”

Crowie het bygevoeg dat die bevordering die resultaat is van ’n proses wat reeds jare gelede begin het.

“Ons as ’n span wil die topbestuur van Maties Sport bedank vir hul deurlopende ondersteuning en vertroue in die proses, asook ons klubbestuurder, Ellroy Smith, vir sy leiding en ondersteuning. Ons het ook ’n fantastiese tegniese ondersteuningspan wat bestaan uit Sylvin Thomas, Zukhanye Magwa, Graham October, Lee Langeveldt and Cecil Adams. Elkeen van hulle het nie net met hul kennis nie, maar ook met hul ondersteuning en volharding ’n bydrae gemaak.

“As die afrigter wil ek my spelers bedank vir hul verbintenis tot, dissipline en vertroue in die program en proses.”

Lee Langeveldt, die span se konsultant en SFC se doelwagter, het gesê dat Maties se bevordering nog ’n stap in die regte is vir die sport in Stellenbosch.

“Ek is uiters trots op die spelers en die klub. Ek glo die hele Stellenbosch is! Dit is nog ’n stap in die rigting om geleenthede te bied vir talentvolle jong sokkerspelers in Stellenbosch. Die span het ’n paar uitdagings gehad, en ek moet erkenning gee aan Desmond en sy span. Dit is ’n opwindende tyd vir sokker in Stellenbosch.”