Universiteit Stellenbosch en Stellenbosch Akademie vir Sport teken memorandum van verstandhouding om sokker in die Kaapse Wynlande te ontwikkel

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) het vandag (11 Oktober 2021) ’n memorandum van verstandhouding (MvV) onderteken wat samewerking tussen hierdie twee entiteite tot 2029 bewerkstellig.

Die MvV, wat in Stellenbosch onderteken is, wil ’n beter verhouding tussen die US en SAS bevorder om sokkerspelers van hoë gehalte vir Stellenbosch en die groter Wynlande-omgewing op te lewer en ’n holistiese loopbaanpad vir spelers, ondersteuningspersoneel en administrateurs te skep.

Die vennootskap sluit in dat Stellenbosch Sokkerklub (SFC) die Universiteit se Lentelus-kompleks vir drie seisoene (2022/2023) vir oefendoeleindes sal gebruik, en die Danie Craven-stadion vir nege seisoene (2028/2029) vir Premiersokkerliga- (PSL-) wedstryde sal gebruik. Hierdie reëling tree van die begin van die 2021/2022-seisoen af in werking.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor en -visekanselier, het by die geleentheid gesê dat sport die unieke vermoë het om mense byeen te bring en sosiale kohesie te skep.

“Dit is presies wat die MvV tussen die US en die Stellenbosch Akademie vir Sport wil doen. Sokker is die grootste globale sport en om ’n platform in Stellenbosch te skep om loopbaangeleenthede vir talentvolle jong spelers te skep, sal ’n positiewe impak op die universiteitsgemeenskap, ons dorp en die Wes-Kaap hê.”

Die hoof- uitvoerende beampte (HUB) van SAS en SFC, mnr. Rob Benadie, het die volgende bygevoeg: “Ons klub se strategiese plan is versnel met ons onmiddellike bevordering tot die PSL in 2019. Gelukkig is ons geleë in ’n dorp met ’n ryk sporterfenis en werk die Universiteit en ander belangrike belanghebbers saam met ons om voortdurende groei te verseker. Dit is ongelooflik om te sien hoe opgewonde die dorp is oor die SFC-handelsmerk en die vooruitsig om ’n tuisbasis by die ikoniese Danie Craven-stadion te vestig.

“Ons hoop om by te dra tot die ongelooflike geskiedenis wat Maties Rugby by hierdie stadion geskep het, en steeds skep. Die klub bedank mnre. Rupert en Durand van Remgro en prof. Stan du Plessis en sy uitvoerende personeel by die Universiteit dat hulle hierdie droom ’n werklikheid gemaak het. Ek is vol vertroue dat hierdie vennootskap ’n baie opwindende en suksesvolle reis sal wees en dat meer as net sokker daarby sal baat!”

Kontak Courtney Williams (SFC) by courtney@stellenboschfc.com of 0825006323 of Kimara Singh (Maties Sport) by kimaras@sun.ac.za of 0732357459 vir meer inligting.