Maties-hokkieafriger op pad na o.21 Wêreldbekertoernooi

Die Maties Hokkieklub is histories ’n klub wat van Suid-Afrika se tophokkiespelers voortbring. Spelers soos Keenan Horne, Tarryn Glasby, Heather McEwan, Nicole la Fleur, Alex Stewart en Dylan Swanepoel het almal in Maties se maroenkleure gespeel. ’n Groot aantal afrigters en spelers het hul naam in die annale van die land se hokkiegeskiedenis geskryf.

Een só ’n naam is Lenise Marais, wat al vanaf haar eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch in 2003 deel is van Maties Hokkie. Gebore en getoë in Durban het Marais verskeie sportsoorte probeer – krieket, sokker, raakrugby en basketbal – voordat sy ’n hokkiestok opgetel en daaraan bly vashou het. Marais, wat voor die 2005/6-seisoen by die afrigtingspan aangesluit het as deel van die assistentafrigterdeel van die Sportwetenskap-spesialiseringsveld, het die afgelope 15 jaar opgang in die afrigtingsgeledere van Maties Hokkie gemaak en is in 2021 as hoofafrigter aangestel.

Sy het ’n indrukwekkende CV, wat twee Somer Olimpiese Spele, drie Statebondspele en twee Hokkiewêreldbekers insluit. Die talentvolle Marais maak nie bloot staat op haar natuurlike vermoëns nie, maar is ook ’n baie harde werker. ’n Belangrike faktor in die sukses wat Marais op en van die hokkieveld af geniet, is haar wil om haarself altyd hard te druk.

In ’n vorige artikel beskryf Marais haarself as ’n “hokkiebleeksiel wat dit geniet om lees (die Harry Potter- en Hunger Games-reeks is my gunstelinge) en sport te kyk”.

Marais is op pad na die o.21 Wêreldbekertoernooi saam met die Suid-Afrikaanse span en sy hoop dat die spelers hul geliefdes, mekaar en die land trots sal maak.

“Ek hoop net om ’n positiewe impak te maak waar ook al ek by hokkie betrokke is, en dit sluit internasionale en provinsiale toernooie in,” het sy gesê. “Spelers gee alles op die oefenveld en as ’n afrigter wil jy elke speler die geleentheid gee om hulself te bewys, veral op ’n verhoog so groot soos hierdie een. Soos die spelers, is ek opgewonde oor en sien ek uit na die wêreldbeker. Ek hoop ons kan goeie vertonings lewer.”

Aangesien sy in haar eerstejaar by die Maties Hokkieklub aangesluit het, het Marais ’n grondige begrip van die druk waaronder studente-atlete elke dag verkeer soos hulle aan mededingende sport deelneem terwyl hulle probeer om op datum met hul akademiese werk te bly.

“Opvoeding is noodsaaklik, aangesien hokkie nie ’n professionele sport in Suid-Afrika is nie. Ons atlete sal moet werk en geld verdien gedurende en ná hul hokkieloopbaan.”