RALU-/Klusterspele suksesvol bekendgestel

Die eerste RALU-/Klusterspele is op 7 April 2022 aangebied.

Maties Sport se Eenheid vir Rekreasie en Aktiewe Lewenstyl (RALU) het saam met die verskillende studenteklusters van die Universiteit Stellenbosch (US) gewerk om ’n geleentheid aan te bied wat inpas by die instelling se strategiese doelwit om ’n “transformerende studente-evaring” te bewerkstellig.

Dit is RALU se doelwit om toegang tot diverse rekreasie- en aktiewelewenstyl-programme te verskaf wat fokus op ontspanning en studente se welwees. Dit beoog ook om inklusiewe omgewings te skep waar studente se verskille gevier word, maar waar hulle ook kan verenig.

Hierdie inisiatief wil ’n inklusiewe ruimte vir studente bied wat nie aan hoëprestasie-sportsoorte of enigsins mededingend deelneem nie. Studente kan steeds die tradisionele sportkodes waarvan hulle hou, beoefen, maar in ’n korter formaat. Reëls bly dieselfde, maar word nie so streng toegepas soos in mededingende sportkompetisies nie. Die sportkodes word deur studente gespeel en gereguleer, en spanne kan uit mans én vroue bestaan.

Die inisiatief bevat ook ’n element van massadeelname, met verskillende sportkodes wat in een ruimte op verskillende dele van die veld gespeel word. Die doel hiervan is om toegang tot Maties Sport-fasiliteite te vergemaklik vir studente wat nie belangstel om enige ander sportsoorte te beoefen nie. Dit bied ook ’n geleentheid om studente aan sportkodes bekend te stel waaraan hulle dalk nie op hoërskoolvlak blootgestel was nie. Die belangrikste doelwit is egter om studente aan te moedig om ’n aktiewe lewenstyl te handhaaf, en dit te geniet.

Op die dag van die bekendstelling, is die volgende sportkodes gespeel:

  • Netbal
  • Vlugbal
  • Raakrugby
  • Ultimate Frisbee

E-sport, hokkie en tennis is op 21 April en 7 Mei aangebied.

RALU-sportbestuurder Andiswa Zwelibanzi het die volgende gesê: “Dit was nog altyd my droom om iets spesiaal te doen om studente te akkommodeer wat nie in elite-sport belangstel nie. Ek is passievol oor rekreasie en massadeelname en ek is bly dat ons (die RALU-span) hierdie inisiatief ná twee jaar uiteindelik kon implementeer. Ek glo dit sal van krag tot krag gaan soos meer studente en personeellede daarvan te hore kom. Ons doelwit is om ’n gesonde en aktiewe kampus te hê, en dit sal uitgebrei word na die Tygerberg- en Saldanha-kampus.

“Hierdie inisiatief is die eerste van sy soort by ’n universiteit in Suid-Afrika. Maties Sport het ’n tendens begin waarby ander universiteite kan leer.”