Anche se reis van speler na bestuurder

Van die uiters gedrewe, hoë prestasie speler tot die sosiale speler én hul ondersteuners moet een en almal welkom wees en voel by die Maties-hokkieklub. 

Dít is Anche Nortje, Maties Sport se hokkie-klubbestuurder, se visie vir een van Stellenbosch Universiteit se mees tradisieryke sportklubs: Maties Hokkie.  

Anche se reis saam met Maties Hokkie het reeds in 2004 begin. “Ek was ’n BA Sportwetenskap-student. Die kompetisie vir plekke in die eerste span was ongelooflik sterk in my eerste jaar. Ek het aanvanklik vir Vics (Maties se tweede span) gespeel en was baie bevoorreg om daardie jaar ook aan die USSA-toernooi te kon deelneem. Kort daarna het ek my eerste wedstryd vir Maties 1 gespeel en vir die volgende agt jaar was ek ’n speler vir die klub,” vertel Anche.  

Sy het in 2015 by die klub begin werk as assistent. In daardie stadium was dit net ’n halfdagpos. In dié tyd het sy egter oor haar vaardighede uitgebrei en betrokke geraak as afrigter by die klub. Sy was in 2017 en 2018 afrigter van die Vics se vrouespan. In 2019 en 2020 was sy steeds by Vics, maar toe ook Maties 1 se hulpafrigter. En in 2021 het sy grotendeels gefokus op haar rol as hulpafrigter vir Lenise Marais. 

Ofskoon dié rolle haar beslis besig gehou het, het sy nie geskroom om nog take aan die administratiewe kant van die klub aan te pak nie. Sy het egter nooit gedink om een van die mees gesogte poste by Maties Sport haar eie te maak nie. 

“In 2021 is ek permanent aangestel as die Klub-koördineerder en in daardie rol het ek meer verantwoordelikheid gehad en kon ek wel die nodige vaardighede ontwikkel wat van kardinale belang is in my nuwe rol. Die bevordering het meer van ’n realiteit geword toe ek in April 2022 as bestuurder moes begin waarneem.” 

Met haar permanente aanstelling vroeër vanjaar, volg Anche in die voetspore van legendariese Maties Sport figure soos Jackie Wiese, Jilly Dix, Jenny King en mees onlangs Reggie Smith. 

Ondanks die diep spore wat haar voorgangers by Maties Hokkie getrap het, is Anche nie oorweldig deur die uitdaging nie en het sy duidelike doelwitte en visie vir die klub wat al verskeie kere as Maties Sport se Klub van die Jaar by die jaarlikse toekenningsgeleentheid aangewys is. 

“Ek wil hê die Maties Hokkieklub moet ’n klub vir almal wees. Daar is so baie oud-Maties wat goeie herinneringe gehad het by die klub lank voor my en daar gaan nuwe spelers wees wat lank ná my herinneringe gaan maak. Dis belangrik vir my om ’n spasie te skep vir studente, ouers, Alumni, broers/susters, personeel, ens. waar almal welkom is en voel. Waar jy die sport kan geniet omdat dit van hoë gehalte is, maar ook ’n plek waar die saam wees en kuier vir lank onthou sal word. Dit is met sport wat ’n mens verhoudings bou en so baie sosiale vaardighede ontwikkel. Mag die Maties-hokkieklub vir almal ’n plek wees waar hulle net hulself kan wees, kan ontwikkel, hulself kan uitleef op die astro en vriendskappe bou weg van die astro.” 

As dit kom by legendes – nie net vir Maties Hokkie nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse hokkie – is daar nie ’n gebrek aan helde by die klub nie. Vir Anche was dit spelers soos Kate Woods (Hector) en Tarryn Bright.  

Sy voeg egter by: “Om eerlik te wees, dit is ook ongelooflik lekker vir my as ek in my kantoor sit en kyk hoe spelers van verskillende spanne, balle kom haal om vaardighede te kom oefen op die astro. Dit is dié spelers wat alles gee vir die sport sodat hulle Saterdag wanneer hulle die maroen hemp oor hul koppe trek, hulle beste self kan wees vir die span.” 

Maties Hokkie het ’n ryke tradisie en roemryke geskiedenis en volgens Anche speel die Alumni ’n groot rol hierin.  

Dit is werklik lekker vir my as ek iemand ontmoet wat vertel hoe lekker dit was om vir Mates hokkie te speel en hoe baie hulle hul tyd by die klub geniet het. Dít is wat my motiveer.”