Kabuya stel haar visier op USSA en TNL

Netbal-koors is besig om sy hoogtepunt te bereik namate verwagtinge bou na die heel eerste Wêreldbeker-netbaltoernooi op Afrika-bodem.  

Kaapstad verwelkom die voorste 16 internasionale netbalspanne. Die WB-toernooi is van 28 Julie tot 6 Augustus. Alle wedstryde word in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gespeel. 

Voormalige Maties-netbalspelers Nicole Smith en Nichole Taljaard is in Suid-Afrika se groep vir die toernooi ingesluit. Taljaard en Smith was die laaste paar jaar ’n integrale deel van die Maties-netbalspan. Albei was deel van die span wat die 2022 Varsity Netbal-titel gewen het. 

Van Maties-netbalspelers gepraat, ’n speler wat tans haar pad na legendariese status uitklim, is Syntiche Kabuya. Dié verdediger het met die intrapslag met die 2021 Varsity Netbal-toernooi indruk gemaak. Sy is verskeie keer as speler van die wedstryd aangewys, en was ook een van die drie finaliste vir speler van die toernooi. 

Sedertdien is Kabuya ’n sleutelfiguur vir die Maroenmasjien. 

Sy was in 2022 saam met Smith verantwoordelik vir verskeie omgekeerde besit in een van die mees suksesvolle seisoene ooit vir Maties Netbal. Dit is egter nie net vir Maties wat sy uitblink nie. Sy is ook ’n belangrike speler vir die Southern Stings in die Telkom Netballiga (TNL). 

Kabuya – ’n derdejaar Voedselwetenskap-student – beskou ’n gesonde balans tussen akademiese en sport as ’n top prioriteit. Dié voormalige Hoërskool Brackenfell-leerder verstaan die waarde daarvan om doelwitte aan die teenoorgestelde punte van die lewe se spektrum na te streef. 

“Die werklading het in my derde jaar baie toegeneem, maar ek kom reg wanneer ek elke week vooruit beplan. Ek fokus op my studies wanneer ek moet, en wanneer ek op die netbalbaan is, is dit waar my fokus is,” het Kabuya aan Maties Sport gesê.  

“Ek wil steeds in ’n laboratorium werk, maar ek het die afgelope tyd ook na nuwe produkontwikkeling en dalk iets in voeding gekyk. My netbal doelwitte is steeds om my absolute beste te gee wanneer ek op die baan stap.” 

Die Southern Stings het aan die einde van die 2022-seisoen onder die top vier geëindig, Kabuya en haar spanmaats sal probeer om verlede jaar se prestasie te herhaal en hopelik te verbeter. 

Voorbereidings vir Kabuya begin in haar gedagtes, maar sodra haar gemoed vasgestel en gefokus is, kan sy haar prioriteit verskuif na die span doelwitte, hetsy vir Maties Netbal of die Southern Stings – in Varsity Netbal, USSA en die Telkom Netballiga. 

’n Groot jaar lê vir Kabuya voor, maar die Maties-ster skroom nie vir die uitdaging nie. Sy glo dat met goeie beplanning Maties die sukses van die afgelope twee seisoene kan herhaal. 

“Dit is nodig om die uitdaging te aanvaar en omhels. Ek gebruik die energie van dié besef ter voorbereiding van die TNL en dan USSA. Ek streef daarna om ’n balans te handhaaf deur te rus wanneer ek kan en my bes te probeer om my liggaam gesond te hou sodat dit my later nie in die steek sal laat wanneer ek dit die nodigste het nie.” 

Die oorlede LA Lakers-legende, Kobe Bryant het ’n filosofie gehad waarvolgens hy geleef het wanneer hy ook al op ’n basketbalbaan gestap het. Die vyfmalige NBA-kampioen het altyd vir die kind gespeel wat vir hom kom kyk het. Kabuya het ’n soortgelyke siening en benadering wanneer sy gevra word oor rolmodel-status vir jonger geslagte. 

“Dit is belangrik om rolmodelle te hê. Dit is altyd wonderlik om vir iemand ’n voorbeeld te wees van die soort mens wat hy/sy in die lewe probeer wees. Ongeag uit watter aspek van jou lewe die rolmodel kom, dit laat jou ook voel dat jy nie alleen deur die lewe gaan nie. 

“Om dieselfde rede is dit belangrik om ’n rolmodel vir die jonger generasie te wees en om iemand wat dieselfde dinge ervaar wat jy deurgemaak het te laat weet dat hulle nie alleen is nie.” 

Deur Lyndon Julius