Opgradering met oog op groter prentjie

Die opgradering van Maties Netbal se buite- en binnenshuise bane is tot voordeel van netbal, basketbal en die beeld van Maties Sport as geheel. 

Ses netbal buitebane, twee veeldoelige buitebane saam met die Coetzenburg-sentrum en binnenshuise tennisfasiliteit is of word opgegradeer. 

“Ons is ’n gasheer vir die Protea-netbalspan in samewerking met Netbal Suid-Afrika. Ons het ons binnenshuise tennisfasiliteit omskep in ’n netbalbaan van internasionale standaard. Ons is die amptelike vennoot as ’n fasiliteit om te help met die voorbereiding van ons nasionale netbalspan vir al hul oefenkampe sedert 2022 en in aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi,” sê Sean Surmon, nuwe direkteur van Maties Sport. 

Die SA-span is gebaseer by die by die Stellenbosch Akademie vir Sport vir al hul oefenkampe. 

Die buitebane kry nuwe oppervlakte. Hierdie projek is amper klaar. Die Coetzenburg-sentrum-projek, fase een, het die vloerspasie waarop gespeel word, uitgebrei om basketbal sowel as netbal in te sluit. Boonop sal die twee bane so geskuif word om meer spasie tussen dit te skep. Die beligting is opgegradeer na internasionale standaarde. ’n Nuwe ingang is bygevoeg om die installering van hout-netbalvloere te vergemaklik sodat Maties Sport die Telkom Nasionale Liga sowel as enige nasionale en internasionale toernooie kan aanbied. Alle kleedkamers is opgeknap en dit sal van wêreldstandaard wees, dit is ook toeganklik vir rolstoele. 

Dit is ’n groot jaar vir netbal en in besonder Suid-Afrikaanse netbal. Die Wêreldbeker-toernooi word vir die eerste keer in Afrika aangebied en Suid-Afrika (Kaapstad) is die gasheer.  

“Die opgradering is belangrik om seker te maak die standaard van netbal en basketbal word gehandhaaf,” sê Charlé Swart, Maties Sport se netbalklub-bestuurder. 

Dit word ook juis nou gedoen, want Maties Netbal speel later vanjaar gasheer vir die USSA Netbal-toernooi, wat van 3-7 Julie plaasvind. 

“Maties Netbal is trots op die handhawing van ’n hoë standaard vir die produk wat ons aan ons studente en die Kaapse Wynland-streek in geheel lewer. Maties Netbal het tans meer as 500 kampuslede.” 

Volgens Swart bied die toernooi en die ekstra fokus op die sport wat daarmee gepaard gaan, Maties Netbal ook ’n ideale geleentheid. Maties Netbal brei sy aanbod verder as net klub- en kampusligas uit deur verskeie afrigtingsklinieke vir spelers en afrigters binne die Wes-Kaapse netbalgemeenskap aan te bied. 

“Ons beoog om ’n platform te skep waar meer individue uit die groter gemeenskap aan netbal kan deelneem.” 

Dit is egter nie net netbal wat gaan baat vind met die nuwe bane nie.  

“Die onlangse opgradering van ons buitebane is ’n beduidende ontwikkeling vir ons basketbalprogram. Die verbeterings aan die bane sal ons studente beter toegang gee tot meer hoë gehalte speeloppervlaktes, wat hulle in staat sal stel om hul vaardighede te verbeter en hul vermoëns te ontwikkel,” sê Zukhanye Magwa, sportbestuurder vir basketbal. 

“Verder sal die opgegradeerde bane help om ons basketbalvoetspoor binne die gemeenskap uit te brei. Met meer en beter basketbalbane beskikbaar, sal ons meer studente kan lok wat daarin belangstel om basketbal te speel. Dit sal nie net tot voordeel van ons basketbalprogram wees nie, maar dit sal ook help om ’n groter gevoel van gemeenskap en betrokkenheid onder ons studente te bevorder. 

“Die beskikbaarheid van opgegradeerde bane sal aan ons studente meer geleenthede bied om hul vaardighede te oefen en te slyp, wat sal lei tot beter prestasie op die baan. Dit sal op sy beurt help om die profiel van ons basketbalprogram te verhoog en meer aandag van ondersteuners en potensiële rekrute te trek.” 

Dit is egter ook die beeld van Maties Sport wat by dié stap baat. Dit dra by tot die hoë standaarde wat Maties Sport stel as dit kom by sy geriewe. Dit is tot voordeel van die algehele beeld van Maties Sport, die Universiteit en Stellenbosch as dorp wat wêreldwyd gesien word as bestemming vir spanne en individue om te oefen ter voorbereiding van die internasionale seisoen.  

“Die opgegradeerde bane gee Maties Sport die geleentheid om wêreldklas-fasiliteite aan ons onmiddellike gemeenskappe, die res van die Wes-Kaap, Suid-Afrika en die res van die wêreld te bied,” sluit Surmon af.