Begin met Hoekom

Friedrich Nietzsche het gesê as jy ’n hoekom het, kan jy enige hoe hanteer. Victor Frankl het uitgebrei daarop met as jy ’n hoekom of wie het om voor te leef, jy enige iets sal doen om te oorleef. Een van die gewildste self-help boeke op die rakke tans se titel is Start with Why

Daarom is dit dalk nie so groot verrassing nie dat Maties Netbal-spelers in die Varsity-netbaltoernooi vir hul “hoekom” speel. Alle wedstryde in die toernooi word in die Coetzenburg-sentrum gespeel.

“My Hoekom” is die Maroen Masjien se tema vir die toernooi.

Elke speler en lid van die bestuur het ’n A4-poster wat tydens wedstryde op hul stoele langs die baan geplak word met die woorde: “This is why I do what I do! This is why I keep going. This is what I fight for” met foto’s van familie, vriende, rolmodelle of aanhalings.

Maties se hoofafrigter Zanele Mdodana vertel: “Elke speler en bestuurslid het iemand of meer as een iemand vir wie hulle in die toernooi speel. Daai persone vir wie jy bereid is om alles te gee, siende dat hulle so baie vir jou doen. Die mense wat jou motiveer en aanmoedig wanneer dit taai raak en jy voel jou tenk is leeg. Hulle maak jou tenk weer vol.”

Maties se kaptein en doel Sian Moore voeg by: “Die span het die afgelope paar maande deur ’n moeilike tyd gegaan. Met elke terugslag moes individue hulself af vra hoekom doen ek dit, hoekom druk ek myself so hard. Ons het familie-lede en vriende aan die dood afgestaan, daar was beserings…”

Volgens Moore was dit vir haar belangrik dat die span – elke individu – moes weet hoekom sy nie opgee nie. “My hoekom is groter as die terugslag en teleurstellings. Ek het foto’s van elke speler in my span en lid van die bestuur op my poster. Daar is ook foto’s van my familie en twee beste vriende. Dit is vir my belangrik dat my spanmaats weet hulle het my gebring tot hier. Dit is moeilik om die bondgenootskap wat die span het te beskryf. Dit is spesiaal en is my alles.”

Mdodana het in die aanloop tot die toernooi eers haar swaer en toe haar ma aan die dood afgestaan en die Woensdag voor die toernooi begin het, het sy positief vir Covid-19 getoets.

“My hoekom is vir die dogtertjie Zanele wat altyd gedroom en geglo het dat sy enige iets kan bereik as sy daarin glo en daarvoor werk. Ook vir my seun wil ek wys dat terugslae nie daar is om jou lewe omver te werp nie, dit is daar om jou beter te maak. Elke uitdaging is ’n geleentheid. En vir my Ma. Om vir haar dankie te sê dat sy ’n vegter groot gemaak het.”

Vir Caleigh Stuart, wat in haar vyfde Varsity-netbaltoernooi speel, is haar poster ’n motivering. “Wanneer dinge moeilik raak en daar is geen hoekom nie, raak dit nog moeiliker. Die mense op my poster herinner my wanneer ek twyfel.”

Adri Uys is ook in haar vyfde jaar saam met die span. “Jy kan nie dit vir jouself doen nie. Maak nie saak hoe lief jy daarvoor is en hoe baie jy dit geniet nie. Daar moet meer wees. Die mense op die foto’s op my poster is my meer.”