Hy boul steeds vir sy drome: Kyle se reis van Maties tot die groot ligas

Sy liggaam mag dalk nie altyd met hom saamstem nie, maar in sy hart glo Kyle Simmonds (31) dat hy nog jonk genoeg is om vir sy land krieket op die internasionale verhoog te speel.

“Ek mag dalk al 31 jaar oud wees, maar in my hart voel ek dat daar steeds tyd is om vir die Proteas te speel… daar is egter dae wat my liggaam nie dieselfde voel nie!” vertel Kyle laggend.

Tydens sy jare as Maties Sport-studente-atleet het Kyle nie net vir Maties gespeel nie, maar ook vir Boland. Voor hy in 2019 na Pretoria verhuis het om sy beroepsloopbaan daar te begin, het hy Boland in onder andere die 2016 en 2018 Afrika T20-bekerreekse verteenwoordig. Hy het in 2021 by die Westelike Provinsie aangesluit.

In net sy eerste seisoen vir Westelike Provinsie het Kyle by die jaarlikse toekenningsaand weggestap met drie toekennings. Hy is aangewys as die Vierdaagse Speler van die Jaar, Spelers se Speler van die Jaar en die mees gesogte Speler van die Jaar.

Daardie seisoen is hy ook benoem as Krieket Suid-Afrika se Plaaslike Nuweling van die Jaar.

Kyle het sy BCom-graad in Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

“Ek het ’n bietjie langer geneem as die beplande drie jaar,” erken hy. “Maar ek glo dit was deel van die leerproses. Om te leer hoe om balans as studente-atleet te vind. Van die begin af was dit belangrik om ’n gebalanseerde lewe te lei. Ek moes probeer om al my klasse by te woon, krieket vir Maties te speel en natuurlik ook my tyd as student in Stellenbosch te geniet. Selfs later in die lewe moet daar altyd ’n balans tussen werk en speel wees.”

Terwyl ander studente hul naweke kon gebruik om in te haal op studies of vir toetse voor te berei, het Simmonds en die ander krieketspelers hul hele Saterdag en Sondag op die krieketvelde van die Boland deurgebring.

“Saterdae speel jy in Robertson en Sondae in Hermanus. Die skedule kon soms intens raak — daar was eenvoudig nie tyd vir studies oor naweke soos dié nie.”

Tye soos daardie, maar veral die Varsity Sport-kriekettoernooie (T20) in Potchefstroom, het vir Kyle ’n voorsmakie van professionele krieket gebied.

“Dit was van my beste tye by Maties Krieket,” onthou hy. “Die stadions was vol met geesdriftige studente en ander krieketliefhebbers. Daar was daagliks wedstryde — soms selfs twee op ’n dag. Hersteltyd was kosbaar en moes slim bestuur word. Ek dink dit is reg om te sê dat daardie toernooie my eerste blootstelling was aan hoe dit voel om op ’n hoër vlak krieket te speel.”

Hierdie seisoen is Kyle as WP se kaptein vir beide die T20-uitdaagreeks en die eendaagse reeks aangewys. Dit is sy vyfde seisoen by die span. In die SA20-toernooi — Suid-Afrika se weergawe van die Indiese Premierliga — het Kyle reeds die Super Kings en Pretoria Capitals verteenwoordig.

“Ek is ook ’n semi-professionele gholfspeler as ek tyd kry!” sê Simmonds met ’n breë glimlag.

Aan voornemende studente-atlete bied Kyle die volgende raad: “Jy gaan vinnig moet leer hoe om balans te handhaaf. Daar is die 6-uur-in-die-oggend gimnasiumsessies ná ’n aand saam met vriende, en die beperkte studietyd wanneer ander oor naweke inhaal of vir eksamens voorberei — en tog moet jy steeds jou beste op die veld gee.”

Stellenbosch en Maties sal altyd ’n spesiale plek in Kyle se hart hê.

“Ek kan my nie indink om by enige ander universiteit te studeer nie. Ek het baie mense by Maties Sport om voor dankbaar te wees vir waar ek vandag in my krieketloopbaan is.”